Loading

Braai | Brood | Drankies | Eier | Graan | Groente | Happies | Inlê | Kaas | Koek | Koekies | Nagereg | Pasta | Pluimvee | Slaai | Sop | Souse | Vegetaries | Vis en Seekos | Vleis | Wild | Voorgereg / Entrée | Hoofgereg | Slaai | Nagereg

Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Wyn | Wynwoordeboek | Bier

5/21/2013

Vis gestoom in piesangblare

Indien jy nie piesangblare kan kry nie, kan jy foelie gebruik.

750 g skoongemaakte visfilette, of jy kan 'n heel vis gebruik
sout
1 suurlemoen, geskil en ontpit
2 uie, 1 in kwarte gesny en 1 fyngekap
5 mℓ fyngekapte vars gemmer
2 skoongemaakte knoffelhuisies
2 groen rissies, ontpit
125 mℓ vars koljander
5 mℓ fyngemaalde komyn
2,5 mℓ fyngemaalde fenegriek
125 mℓ klapper
30 mℓ olie
5 mℓ garam masala
piesangblare of foelie

Vryf die vis in met sout.

Plaas die suurlemoen, die ui in kwarte, die gemmer, knoffel, rissies, koljander, komyn en fenegriek in 'n voedselverwerker. Maak dit fyn tot 'n puree.
Voeg nou die klapper by en meng weer vinnig.

Verhit die olie in 'n pan en braai die fyngekapte ui tot sag.
Voeg die puree by en braai vir nog 'n paar minute.
Verwyder die pan van die hitte en roer 10 mℓ sout en die garam masala by.

Bedek die vis met die mengsel.
Draai die vis toe in die piesangblare of foelie en stoom dit oor water vir 30 minute.

Bedien die visnet so in die blare.

Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.

5/20/2013

Pasta arrabiata

'n Klassieke manier om pasta voor te sit. Kyk gerus wat is in jou koskas om by te gooi en jou eie variasie te maak.

90 mℓ olyfolie
2 rissies, ontpit en fyn opgesny
2 knoffelhuisies, fyn opgesny
'n hand vol basiliekruid
600 g gekapte tamatie
400 g penne, of ander pasta
gerasperde parmesaan om bo-oor te strooi.

Verhit die olie in 'n souspan en braai die knoffel en rissie vir omtrent 'n minuut.
Voeg die basiliekruid en die tamatie by en prut vir ten minste 10 minute. Die sous moet darem begin verdik.

Intussen kook jy die pasta volgens die aanwysings op die verpakking.

Dreineer die pasta en meng dit met die tamatiesous.

Strooi parmesaan oor en lê weg.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.

5/19/2013

Boeke, Bacchus en Brood by innibos 2013

Na die reuse-sukses van verlede jaar se Boeke, Bacchus en Brood word hierdie leefstylproduksie weer aangebied. Dis hier waar jy al jou sintuie inspan vir ’n genotvolle ervaring.

Hierdie vertoning is ’n kombinasie van vele lekkertes. Lizz Meiring gaan weer met haar pittige sêgoed sorg dat die program seepglad verloop.

Clemengold, die borg van hierdie produksie, gaan hulle smullekker produkte bekendstel. Jy gaan meegevoer word na ’n nartjieboord waar die reuk van nartjies in die lug hang, maar jy gaan ook verbaas staan oor wat alles in ’n fabriek met nartjies gemaak kan word: sjokolade, sorbet, konfyt en vele meer.

In die boek-gedeelte gaan die bekende skrywer Dana Snyman meer vertel van sy reiservarings en die stories agter hierdie staaltjies.

Luna Paige doen ’n uittreksel uit Storielied – die produksie waar sy skrywers se verhale neem en dan ’n lied daarvolgens komponeer.

Chris Chameleon se toonsetting van Ingrid Jonker se gedigte is wyd bekend. Die skoonheid hiervan lê juis in die gestroopte ongekunstelde aanbieding. Kom luister na hierdie meester van vertolking met ’n stem wat oor vier oktawe strek.

Van Loveren stuur uit Robertson in die Kaapse Wynland wynmaker Malcolm Human om te kom vertel van die subtiele geure van Chardonnay, die verleidelike roosblaar-geure van Moscato en die donker, spesery-agtige geure van Port en hoe dit met die stroopsoete lekkerte van sjokolade gekombineer word.

Met woorde, wyn, musiek en liriek gaan hierdie kunstenaars die kersie op Innibos se verjaarsdagkoek plaas. Moet hierdie unieke produksie nie misloop nie.

Met: Lizz Meiring, Chris Chameleon, Dana Snyman, Luna Paige, Heine du Toit van Clemengold en Malcolm Human van Van Loveren.
Gradering: Volwassenes
Datum en tyd: Vr 28 Junie 14:00, Sa 29 Junie 10:00
Venue: Nelspruit Hoërskool Seunskoshuis
Tydsduur: 100 minute
Prys: R122

innibos 2013

5/18/2013

Aartappel en uie frittata

Gebruik 'n pan wat jy in die oond kan gebruik vir hierdie resep.

1 ui, in skywe gesny
1 knoffelhuisie, in stukkies gesny
60 mℓ olyfolie
3 aartappels, gekook, geskil en in blokkies gesny
8 eiers, geklop en gegeur met sout en peper
30 mℓ vars gekapte pietersielie
sout en peper na smaak

Verhit die olie in die oondpan en braai die uie, knoffel en aartappel, tot die uie sag is en die aartappel begin verbruin.
Geur met sout en peper en meng die pietersielie by.
Gooi die eiers in die pan.
Plaas die pan in 'n 180°C-oond vir 30 minute.

Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.

5/17/2013

Botter en tamatie pasta

500 g fusilli pasta
2 blikkies gekapte tamaties
60 mℓ botter
10 mℓ suiker
sout en peper
'n hand vol vars basiliekruid, in stukkies geskeur

Kook die pasta volgens die aanwysings op die verpakking. Terwyl die pasta kook kan jy die sous voorberei.

Gooi die tamatie en botter in 'n souspan en verhit dit stadig tot dit net begin prut. Sodra die botter gesmelt is roer jy die suiker by en gooi sout en peper na smaak by. Roer die basiliekruid by.

Meng die sous met die pasta en bedien.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.

5/16/2013

Rooiwyn sous vir vis

Jy gebruik al die bene, grate en alles wat jy afsny van die vis wat jy gaan voorsit. Plaas dit in 'n pot saam met 'n liter rooiwyn, 'n opgekapte ui, 'n bouquet garni, 'n hand vol gekapte sampioene en sout en peper. Kook dit tot dit 'n geurige sous vorm en roer bietjie botter by voor jy dit voorsit.

Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.

5/15/2013

Groenboontjieslaai

Groenboontjieslaai is gewoon groenboontjies in olyfolie (haricots verts niçoise) wat koud bedien word met 'n Franse slaaisous of 10 ml van 'n ligte asyn.

Die groenboontjies moet vars wees, verkieslik nog baie jonk en klein. Die boontjies moet kraak as jy dit breek.

Was die boontjies in koue water en sny dan die punte af (top and tail).

Sny die boontjies diagonaal in repe.
Plaas dit in gesoute kookwater en kook vir 15 minute.
Dreineer die bone, terwyl jy 30 ml olyfolie in die pan verhit saam met 'n knoffelhuisie.
Verwyder die knoffelhuisie na 2 minute en voeg eers 30 ml fyngekapte salot en dan die bone in die pan. Skud die pan om te sorg dat die olyfolie die bone bedek.
Gooi 5 ml fyngekapte pietersielie by en meng deur.

Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.

5/14/2013

Vleisglaseersel

Verf vleisglaseersel oor vleis voor jy dit bedien.

Jy kan vleisglaseersel maak deur bouillon af te kook tot dit 'n dik en stroperige sous is. Maak jou gereed vir lank kook.

Laat die sous effens afkoel voor jy dit gebruik.


Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.

5/13/2013

Gevulde uie

Gebruik enige oorskietvleis om jou uie mee te vul. Hoender, vark of lam werk veral lekker. Sny die vleis in klein stukkies.

Skil ses groot uie.
Plaas die uie versigtig in gesoute kookwater en kook dit vir 10 minute.

Intussen sny jy 'n paar repies spek in klein stukkies.
Braai die spek liggies in 'n pan en voeg die oorskiet vleis, 5 mℓ fyngekapte salot, 5 mℓ fyngekapte knoffel, 5 mℓ vars gekapte tarragon en 5 mℓ vars gekapte pietersielie by.
Voeg 250 mℓ fyn broodkrummels by.
Meng alles goed en verwyder van die plaat.
Roer nou 2 eiergele en 30 mℓ fyngekapte rou sampioene by.

Haal die uie uit die water en verwyder die kern met 'n skerp mes. Jy kan die kern hou vir 'n slaai of vir sop.
Stop die uie met die vulsel en pak die uie regop in 'n gesmeerde oondbak.
Bak die uie by 180°C tot sag of tot dit bo-op begin verbruin. Dit neem omtrent 30 minute.

Stuur jou resepte na con@qvrp.net . Foto's van die resepte is ook welkom.