Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/12/2008

Wanneer is ’n riesling nie ’n riesling nie?


Kris-Jan Alleman

Hoekom sal die vraag belangrik wees? In Suid-Afrika is ´n riesling meestal ´n crouchen blanc en so baie soos ek van ´n riesling hou, so min genot put ek uit die suur dun stropie van crouchen blanc. Vrind Gerrie het mos nie veel om te doen nie en ek vra hom toe om my oor die verskil tussen die twee druiwe en die verwarring daarom in te lig. Hiervolgens ´n opsomming van wat vrind Gerrie toe te vertelle het:

"So jy het moontlik gedink ´n riesling is ´n riesling - lekker vars, vrugtige witwyn met sy herkoms in Duitsland. Toe nou nie. Daardie bekende en gewilde Theuniskraal riesling is toe al die tyd nie ´n riesling nie!

Die feit van die saak is dat veral wynmense dinge verwar, dit verkeerde name gee en dan beswaarlik later dit kan regstel. Soos die Chilene destyds gedink het als wat hulle plant is merlot (wat toe carminere blyk te wees), so het die voorvader-wynbouers in ons geliefde land mos gereken ´n Franse stief-druif met die deftige naam van crouchen blanc, is riesling. Eers toe die ware jakob later aangeplant word, kom die klompie agter hulle riesling is eintlik crouchen. Maar wat nou gemaak? ´n Slim javel besluit toe ons moet die crouchen doop Kaapse (Cape) riesling en die regte riesling moet volgens sy regte naam, weisser riesling heet. Later word die crouchen blanc ook Paarl riesling genoem en die weisser riesling ook Rhine riesling (verwysend na die druif se oorsprong in Duitsland). Dis vandag aanvaarbaar om Paarl riesling en Kaapse riesling as sinonieme te gebruik, asook so met weisser / Rhine Riesling.

Dit was nie net ons boere wat die fout gemaak het nie, maar ook die Ossies Doer-Onner. Die Aussies doop toe crouchen blance as clare riesling en in die bekende Barossa Vallei word dit sommer herdoop tot semillon. Gelukkig kom die manne hulle fout agter met die semillon-verwarring, maar die naam clare riesling, soos Kaapse riesling, het bly voortleef. Praat van ´n druif met ´n identiteitskrisis!

Hoe dit nou ookal sy, nie crouchen blanc of weisser riesling is baie gewild in Suid-Afrika nie. Net sowat 0,4% van alle wingerd in Suid-Afrika word deur riesling beslaan en ongeveer 1,5% deur crouchen blanc. Daar is tans slegs vyftien produsente wat nog crouchen blanc as enkelkultivar bemark, waarvan Theuniskraal riesling en Nederburg Paarl riesling sekerlik die gewildste en beste voorbeelde is. Crouchen blanc word egter meestal in versnitte gebruik en jy drink miskien baie meer daarvan as wat jy dink, synde hierdie druif een van die hoofkomponente is van die singende, dansende ens. wyntjie, Graça. Wynmakers hou van die crouchen blanc in versnitte, omdat dit ´n bietjie suurstruktuur gee, sonder om te veel geure by te bring. Op sy eie is brouchen blanc eintlik maar ´n bleeksiel. ´n Goedgemaakte voorbeeld sal op die neus sagte nuanses van kruie, koejawel of groen appels ten toon stel en op die tong sal hy vrugtig en vars voorkom. Gewoonlik het die wyn ook nie hoë alkohol nie en dis die perfekte maklik-slukbare somerwyn saam met ´n ligte slaaitjie (as jy suur tande het - kja). Anders as sy Duitse naamgenoot, verouder crouchen blanc nie goed nie en is dit ´n wyn wat liefs binne een jaar na oesdatum gedrink moet word.

Vir die van julle wat wonder: Weisser riesling (of net riesling in die res van die wêreld) is ´n baie meer komplekse en veelsydige druif as crouchen blanc. Die Duitse rieslings van die Mosel-vallei wissel van droog tot edelsoet en om hierdie wyne te proe is om op die hemel se voorstoep te vertoef. In Suid-Afrika is daar self ´n paar ordentelike voorbeelde en jy kan gerus volgende keer die verveling breek deur ´n bottel Groot Constantia of Paul Cluver te probeer saam met jou gunsteling Chinese dis. Jy sal verras word deur ´n neus vol van tropiese vrugte, blommegeure en geparfumeerde pynappel. Met ouderdom raak die wyn nog meer kompleks en kry ´n tipiese olierige terpentyn en heuning karakter. Terpentyn klink nie aptytwekkend nie, maar probeer ´n ouer riesling en jy sal gewis lieflike geure op neus en palet ervaar. Díe met ´n soeter tand kan gerus Neethlingshof se Noble Late Harvest probeer om te sien hoe wonderlik die Botritis-vrot met die natuurlike geure van die riesling-druif kombineer."

Dankie vrind Gerrie!

No comments :

Post a Comment