Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Spaans. Show all posts
Showing posts with label Spaans. Show all posts

9/26/2019

Rissie tamatiesous / Chili Tomato Sauce

1 eetlepel olyfolie
1 klein rooi ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
1 klein rissie, fyn opgesny
1 teelepel gemaalde paprika
Blikkie gekapte tamaties
2 eetlepels witwyn
1 eetlepel tamatiepasta
1 eetlepel witwynasyn
2 teelepels suiker
1 eetlepel fyngekapte pietersielie

Verhit die olie in ’n pan en braai die ui, knoffel, rissie en paprika tot sag oor medium hitte.
Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die pietersielie, prut sonder deksel vir 15 minute.
Roer die pietersielie by en bedien.

5/09/2019

Aartappels met knoffel mayonnaise

1,5 kg klein aartappeltjies, gehalveer
1 eetlepel fyngekapte pietersielie
¼ teelepel rooipeper
1 knol knoffel
250 mℓ mayonnaise
2 teelepels olyfolie

Verf die knoffel met die olyfolie en bak in ’n 180°C oond vir 45 minute.
Laat afkoel en druk dan die knoffel uit.
Meng die knoffel met die mayonnaise.

Kook die aartappels tot sag.
Dreineer en laat afkoel.

Meng die aartappels, mayonnaise en pietersielie versigtig.
Strooi die rooipeper oor.

12/21/2018

Diepgebraaide sardientjies met geroosterde tamatiesous

24 vars sardientjie filette
Meel 4 eiers, liggies geklits
3 ½ koppies broodkrummels
½ koppie fyngekapte pietersielie
¼ koppie vars gekapte oreganum
Olie

Vir die tamatiesous:
6 tamaties, grof gekap
4 konffelhuisies
2 eetlepels rooiwyn asyn
2 eetlepels bruinasyn
1 ui, grof gekap
2 eetlepels olie

Kombineer al die bestanddele vir die sous en plaas dit in ’n oondpan in ’n warm oond vir 30 minute. Die uie moet ten minste sag wees aan die einde.

Rol die sardientjies in die meel, doop in die eier en bedek dan met broodkrummels en die kruie.
Diepbraai tot gaar en bruin.
Dreineer op kombuispapier.

Verwerk al die bestanddele in die oondpan tot ’n sous in ’n voedselverwerker.

Bedien saam.

8/22/2018

Spaanse varksosaties

Week die sosatiestokkies oornag in water, of ten minste vir 3 uur.

750 g varkfilet, in 3 cm stukkies gesny
6 knoffelhuisies, fyngedruk
1 eetlepel fyngemaalde komyn
2 teelepels fyngemaalde koljander
2 teelepels fyngemaalde paprika
¼ koppie fyngekapte vars pietersielie
2 eetlepels fyngekapte vars oreganum
½ koppie olyfolie

Meng alles behalwe die vleis saam.
Gooi die vleis by en meng goed.
Bedek en hou oornag in die yskas, of ten minste vir 3 uur.

Braai die sosaties in ’n riffelpan of oor ’n vuur.

1/15/2018

Gebraaide murgpampoentjie met rissie en basilie

6 murgpampoentjies, in die lengte in dun skywe gesny
80 mℓ olyfolie
2 eetlepels rooiwyn asyn
2 eetlepels vars, gekapte basilie
2 klein rooi rissies, fyngekap

Verhit ’n gesmeerde roosterpan en braai die murgpampoentjies tot dit sag en geskroei is.
Meng die murgpampoentjie met die res van die bestanddele en laat staan dit vir ten minste 1 uur by kamertemperatuur voor jy dit bedien.

12/11/2017

Gebraaide chorizo

Chorizo wors is deesdae by meeste supermarkte beskikbaar. Hierdie resep is vir 600 g wors.

Sny die wors in stukke van so ’n ½ sentimeter.

Verhit ’n pan en braai die wors daarin tot dit bros is.
Verwyder die wors en gooi enige vet af wat in die pan is.

Verhit 2 eetlepels olyfolie en roer 2 fyngedrukte knoffelhuisies en ’n ½ koppie fyngekapte, vars pietersielie daarin vir 1 minuut.
Roer die wors by.
Bedien sodra die wors weer warm is.

10/12/2017

Bokkaas met rissie en dragon

Sommige mense is nie mal oor bokkaas nie. Miskien sal hierdie Spaanse resep jou tot nuwe insigte bring.

500 g ferm bokkaas, in blokke gesny
1½ koppie olyfolie
2 eetlepels rooiwynasyn
2 eetlepels vars, gekapte dragonblare
2 klein, vars rissies, fyngekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk
½ teelepel varsgemaalde swartpeper

Meng al die bestanddele, bedek en plas oornag in die yskas.

Die volgende dag dreineer jy die kaas. Behou so 2 eetlepels van die olie-mengsel. Sprinkel dit oor die kaas net voor jy dit bedien.

Bedien dit net so of op brood.

4/17/2017

Garnale met knoffelbotter / Prawns with garlic butter

1 kg skoongemaakte garnale
2 eetlepels olyfolie
6 fyngedrukte knoffelhuisies
50 g botter, in stukkies gesny
1 eetlepel suurlemoensap
1½ eetlepels vars, fyngekapte pietersielie

Verhit die olie in ’n pan en braai dan die knoffel tot sag.
Voeg die garnale by en braai tot hulle begin verkleur. Draai versigtig tydens die braai-proses.
Voeg nou die botter en sap by en kook tot die garnale gaar is.
Roer die pietersielie by.

2/20/2016

Chorizo en kekerertjies / Chorizo and Chickpeas

Hierdie is ’n tipies Spaanse kombinasie. Chorizo is die naam vir ’n verskeidenheid varkwors wat jy op die Iberiese Skiereiland kry. Hierdie resep se chorizo is die standaard wors met daai naam by Suid-Afrikaanse supermarkte.

3 knoffelhuisies, fyngedruk
Broodkrummels gemaak van twee snye witbrood
30 mℓ olyfolie
225 g chorizo, in klein ringe gesny
15 mℓ gerookte paprika
400 g kekerertjies, gedreineer en afgespoel
3 lourierblare
340 mℓ cider

Meng die broodkrummels en die helfte van die olyfolie en braai tot bruin.
Skep die broodkrummels uit en braai die chorizo in die res van die olyfolie vir 1 minuut.
Gooi nou die broodkrummels terug, saam met die knoffel, paprika, kekerertjies, lourierblare en cider.
Meng lekker en prut dan vir 10 minute. Die sous moet begin verdik.

Bedien saam met lekker brood.

Opsioneel: Gooi ’n paar mieliepitte by.

2/16/2016

Spaanse pampoen

Sny ’n pampoen in plat skywe.
Strooi sout oor die skywe en sit dit op ’n bord met ’n gewig bo-op om die water uit te druk. Laat so staan vir ten minste 30 minute.
Droog nou die pampoen af en smoor met ’n bietjie bouillon of vleisaftreksel tot sag.
Haal die pampoen uit, plaas op ’n bord en gooi die bouillon oor.

10/08/2013

Spaanse boontjiebredie

2 uie, fyngekap
2 rissies, ontpit en fyngekap
2 wortels, geskil en in blokkies gesny
2 rape, geskil en in blokkies gesny
1 knoffelhuisie, fyngekap
sout en peper na smaak
5 mℓ koljandersaad
30 mℓ botter
500 g skaaprib, in stukke gesny
250 g spek, in blokkies gesny
sap van 'n lemoen
500 g boontjies, gekook
500 g tamatiesous

Smoor die uie, rissies, wortels, rape en knoffel saam in die botter oor lae hitte tot sag.

Voeg die vleis en lemoensap by en verbruin dit stadig.

Roer die boontjies by en smoor vir 10 minute oor lae hitte.

Roer die tamatiesous by en smoor verder tot alles goed warm is. Jy kan dit ook in die oond bak, indien jy dit so verkies.

6/05/2013

Patatas bravas

'n Klassieke Spaanse gereg.

450 g aartappels, geskil en in 2 cm blokkies gesny
45 mℓ olyfolie

Tamatiesous:
olyfolie
2 klein uitjies, fyngekap
1 rissie, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
15 mℓ tamatiepasta
400 g geblikte tamaties
10 mℓ paprika
5 mℓ sout
5 mℓ suiker
gekapte grasuie

Verhit die 45 mℓ olyfolie in 'n oondpan.
Plaas die aartappels versigtig in die olie en draai dit om om met die olie te bedek.
Plaas in 'n 200°C oond vir 45 minute.

Intussen berei jy die tamatiesous.
Verhit 'n bietjie olyfolie in 'n souspan en braai die uie vir 5 minute.
Voeg die rissie by en braai nog 2 minute.
Gooi nou die knoffel, tamatiepasta, tamaties, paprika, sout en suiker by.
Prut dit vir 20 minute. Die sous moet begin verdik.

Skep die tamatiesous oor die aartappels en garneer met die grasuie.

Die resep is genoeg vir 'n minimum van 4 persone.

1/10/2012

Bruinsous / Spaanse sous / Espagnole sous

1 ui, fyngekap
15 ml botter
500 g beesvleis, in stukke gesny
500 g kalfsvleis, in stukke gesny

Plaas al die bestanddele saam in 'n pot en gooi 500 ml water oor.
Laat dit kook tot die vleis bruin is, maar pasop dat dit nie brand wanneer meeste water weggekook is nie.

Gooi 1 liter kookwater oor saam met:

sout
4 wortels, fyngesny
'n handvol, fyngesnyde pietersielie
1 fyngesnyde stronk seldery
4 naeltjies
knippie peper

Prut stadig oor lae hitte vir 3 ure.

Gooi deur 'n sif en verdik die sous met mielieblom indien jy dit so verlang.

9/14/2011

Spaanse rys

40 ml kookolie
1 ui, in skywe gesny
1 soetrissie, fyngekap
250 g maalvleis
250 mℓ rys (rou)
250 mℓ tamatiesous
430 mℓ warm water
5 mℓ sout
knippie peper

Verhit die olie en braai die ui, soetrissie en maalvleis by tot die vleis begin verbruin.

Voeg die res van die bestanddele by. Bring tot kookpunt. Plaas die deksel op en laat stadig kook vir 25 minute.

resep: Yvonne Langley

6/20/2011

Puchero

Puchero is ’n gewilde Spaanse sop. Jy plaas die boontjies reeds die vorige dag in water. Jy begin met die volgende bestanddele:

500 g stowe beesvleis
1 varkoor
250 g ham
2 hoendernekke
500 mℓ boontjies, oornag in water geweek
250 mℓ lensies
sout
peper

Bring alles tot kookpunt in 2,5 liter water.
Laat vir 3 ure stadig kook.

Voeg die volgende bestanddele nou by:

½ kopkool, fyngekerf
1 ui, fyngekerf
’n hand vol pietersielie, opgekap
’n bietjie vars kruisement
’n stok seldery, fyngekerf

Kook tot die groente sag is.

Voeg nou 250 g chorizo by wat in stukkies gesny is. Bring die sop weer tot kookpunt.

Gooi die sop deur ’n sif. Verwyder die beesvleis, ham en chorizo. Hierdie vleis word apart saam met die sop bedien. Die sop word met croûtons bedien.

7/31/2008

Gazpacho


Hierdie gewilde Spaanse groentesop word koud voorgesit.

1 kg tamaties, afgeskil en opgekap
1 komkommer, afgeskil en fyngekap
1 groen soetrissie, die saad verwyder en fyngekap
½ ui, fyngekap
1 stuk seldery, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
25 ml tamatiepurée
125 ml koue water
50 ml olyfolie
25 ml witwynasyn
2 snye wit brood sonder die korsie
10 ml sout
varsgemaalde swartpeper

Gooi alles in jou menger en meng tot dit 'n dik gladde mengsel is.
Los in die yskas vir ten minste 2 ure voor opdiening.

(die resep bedien 6 persone)

7/07/2008

Nougat

Kook 250 g heuning en 250 g suiker saam tot die suiker gesmelt het - tot by 129°C.
Voeg 1 eetlepel lemoenblomwater en die styfgeklopte wit van 1 eier by.
Smelt oor lae hitte en roer aanhoudend - tot by 109°C.
Voeg nou 500 g gekapte amandels by wat jy geblansjeer, gedroog en toe verhit het voor jy dit fyn gekap het.

Gooi die mengsel in 'n plat bakplaat wat met ryspapier uitgevoer is. Plaas ryspapier ook bo-op en plaas 'n gewig soos 'n broodplank bo-op.

Sny terwyl dit nog effens warm is.