Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Amerikaans. Show all posts
Showing posts with label Amerikaans. Show all posts

9/05/2025

Beste Mosselsop / Mussel Chowder

Hierdie is ’n maklike resep wat jou laat terugkom vir nog. Die meeste van die bestanddele kan in jou spens gevind word.

BESTANDDELE
250 g knopiesampioene, in skywe gesny
150 g botter en nog 3 eetlepels botter
1 ui, gekap
1 lourierblaar
2 rissies, fyngekap
’n paar takkies tiemie
2 knoffelhuisies, gerasper
420 g blikkie roomstyl-mielies
3 koppies melk
800 g vars of bevrore mossels
10 mℓ fyngekapte salie
10 mℓ fyngekapte dragon
290 g blikkie room
Sout
Fyngekapte pietersielie vir garnering

STAPPE
Soteer die sampioene in die 150 g botter tot gaar in ’n swaarboom kastrol.

Verwyder uit die kastrol en hou eenkant.
Gebruik dieselfde kastrol en soteer die ui in die oorblywende botter tot deurskynend.

Voeg die knoffel, tiemie, lourierblaar en rissies by en soteer vir 1 minuut.

Voeg die mielies by en kook tot dit begin prut, voeg dan die melk en mossels by.
Bring tot kookpunt, verwyder dan van die hitte en laat afkoel vir 3-5 minute.

Verwyder die mossels, tiemie en lourierblaar uit die kastrol, voeg die gaar sampioene by en maak dit fyn.

Gooi nou die mossels terug en voeg die room, salie en dragon by.
Geur na smaak met sout.
Kook vir 3 minute, of tot dit dik en romerig is.

Garneer die sop met pietersielie en bedien saam met dik snye brood.

5/29/2020

Cobbler

Cobbler is ’n eenvoudige Amerikaanse vrugtepastei.

½ koppie ongesoute botter
1 koppie koekmeel
2 koppies suiker
1 eetlepel bakpoeier
Knippie sout
1 koppie melk
4 koppies perskeskywe
1 eetlepel suurlemoensap
Gemaalde kaneel

Jy het ’n oondbak nodig van 33 x 23 cm wat sowat 5 cm diep is. Voorverhit die oond tot 180°C.

Smelt die botter en gooi dit in die oondbak.

Meng die meel, 1 koppie suiker, die bakpoeier en sout.
Voeg die melk by en roer tot dit gemeng is.
Gooi die mengsel oor die botter – moenie meng nie.

Gooi die res van die suiker, die perske en suurlemoensap in ’n souspan en verhit tot kookpunt. Roer aanhoudend.
Gooi oor die mengsel in die oondbak – moet nie roer nie.
Jy kan bietjie kaneel oor die gereg strooi.

Bak by 180°C tot goudbruin. Dit neem omtrent 45 minute.


’n Cobbler kan warm of koud bedien word. Dit kan saam met roomys of room bedien word.

5/11/2020

Boston-brood / Boston Brown Bread

Die tradisionele Amerikaanse brood word in ’n koffieblik of klein broodpan gemaak.

Botter om die blik of broodpan mee te smeer.
½ koppie broodmeel
½ koppie rogmeel
½ koppie mieliemeel
½ teelepel bakpoeier
½ teelepel koeksoda
½ teelepel sout
½ teelepel allspice
½ koppie molasse
1 koppie karringmelk
1 teelepel vanillaekstrak (opsioneel)
½ koppie rosyne (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 165°C en kook ’n groot pot water.

Smeer jou koffieblik of broodpan met botter.

Meng al die droë bestanddele in ’n groot mengbak. Voeg die rosyne ook op die stadium by indien jy dit gaan gebruik.

Meng die karringmelk met die vanielje – indien jy laasgenoemde gaan gebruik. Klits die molasse met die hand by.
Gooi die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng goed met ’n houtlepel.
Gooi die beslag in die blik of pan. BAIE BELANGRIK: Die beslag moet NIE die houer met meer as ⅔ vul nie.
Bedek die blik of pan met foelie.
Neem ’n diep oondpan waarin die blik of broodpan pas. Plaas die blik of broodpan daarin en vul op met die kookwater. Ten minste ⅓ van die blik of broodpan moet bedek wees met die water.
Plaas dit in die oond vir ten minste 2 uur en 15 minute.

Verwyder die blik of broodpan uit die oond en laat afkoel voor jy dit op ’n draadrak plaas. Laat dit vir ten minste 1 uur afkoel op die draadrak voor jy dit uit die blik of broodpan verwyder.


5/05/2020

White Russian

Die drankie is waarskynlik nie van Russiese oorsprong nie. Die eerste verwysing van ’n “White Russian” in die literatuur was in die VSA.

30 mℓ wodka
45 mℓ Kahlua
40 mℓ room
½ koppie ysblokkies

Meng al die bestanddele in ’n 180 mℓ glas.


4/22/2020

Benedict-eiers / Benedik-eiers / Eggs Benedict

Berei die Hollandaise-sous voor volgens hierdie resep. Hou eenkant terwyl jy die eiers posjeer.
Gebruik hierdie resep vir geposjeerde eiers.

Braai rugspek tot gaar en plaas dit op gebotterde brood of muffins.
Plaas ’n eier op die spek en bedek met twee eetlepels Hollandaise-sous.
Bedien.


3/16/2018

Newburg skulpvis / Crab Newburg

Newburg skulpvis kan met ’n verskeidenheid seekos voorberei word. Die maklikste is geblikte krap of ingelegde kreef of garnale. Vir hierdie resep gebruik ons ’n blikkie krap.

Smelt botter in ’n diep pan.
Gooi die krap by.
Wanneer die krap goed warm is geur jy dit met sout en ’n skeut gemaalde, gerookte paprika.
Kook oor lae hitte vir 5 minute.

Klop 2 eiergele met 2 eetlepels room.
Verwyder die krap van die hitte en gooi die eiermengsel by. Roer stadig en deeglik, sodat dit nie skif nie.

Plaas die mengsel nou terug op lae hitte vir 2 minute, terwyl jy aanhoudend roer.
Roer nou ’n glas sjerrie by en roer deeglik deur.

Bedien dadelik.

Bedien die Newburg krap saam met geroosterde brood.

11/22/2017

Kalfsvleis met parmesaan / Vitello al parmigiano / Veal parmigiana

Italiaanse immigrante het hierdie gereg na Amerika gebring, en sedertdien het Vitello al parmigiano 'n klassieke New York-gereg geword.

4 kalfsvleiskotelette, omtrent 9 mm dik
4 eetlepels olyfolie
1 rooi soetrissie, fyngekap
1 ui, fyngekap
1 selderysteel, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
1 blikkie gekapte tamaties
1 koppie hoenderaftreksel
1 eetlepel tamatiepasta
1 teelepel vars, fyngekapte pietersielie
1 teelepel suiker
¾ teelepel droë basiliekruid
½ teelepel sout
’n knippie varsgemaalde swartpeper
1 eier, geklits
¼ koppie meel
⅔ koppie droë broodkrummels
2 eetlepels botter
1½ koppie gerasperde mozzarella
⅔ koppie gerasperde parmesaan
Vars basiliekruid

Plaas elke kotelet tussen lae waspapier op ’n houtplank en slaan dit plat met ’n vleishamer. Dit moet ten minste 6 mm dik wees. Droog dit af met papierhanddoek en hou eenkant.

Maak ’n tamatiesous deur 1 eetlepel olyfolie te verhit. Roer en kook die soetrissie, ui, seldery en knoffel hierin vir 5 minute.
Roer die tamaties, tamatiepasta, aftreksel, pietersielie, suiker, droë basiliekruid en sout en peper by. Bedek en prut vir 20 minute oor lae hitte.
Haal die deksel af en kook vir nog 20 minute tot die sous verdik.

Strooi die meel en broodkrummels op verskillende borde en gooi die eier in ’n bord.
Doop die kotelette, eers in die meel, dan in die eier en laaste in die broodkrummels. Druk die broodkrummels stewig vas in die vleis.

Verhit die botter en 2 eetlepels olyfolie in ’n pan tot dit medium warm is.
Braai die kotelette 3 minute aan ’n kant.

Plaas die kotelette in ’n oondbak, strooi die mozzarella oor en skep die tamatiesous oor. Strooi die tamatiesous laaste oor. Drip 1 eetlepel olyfolie oor. Bak dit in ’n 180°C-oond vir 25 minute.

Garneer met vars basiliekruid. Tradisioneel word dit saam met pasta bedien.

9/04/2017

Cosmopolitan

Dit is nie duidelik waar die cosmopolitan vandaan kom nie, maar New York is waarskynlik die stad van oorsprong.

Meng 1 koppie ysblokkies, 45 mℓ wodka, 30 mℓ Cointreau, 20 mℓ rooibosbessiesap en 10 mℓ lemmetjiesap. Skud saam en dreineer in ’n martini glas.
Garneer met lemoenskil.

12/16/2015

Amerikaanse kaasdruppels

45 mℓ room
5 mℓ botter
30 mℓ gerasperde parmesaan
30 mℓ meel
1 eier
Knippie sout

Meng die room en botter in ’n klein souspan en verhit dit.
Sodra die botter gesmelt roer jy die meel en sous by – verwyder van die hitte.
Voeg die eier by en klop tot dit ’n gladde mengsel is, voeg dan die kaas by.
Laat die mengsel staan tot dit styf is.

Diepbraai lepels vol van die mengsel.

Dit is veral lekker saam met uiesop.

11/24/2015

Amerikaanse kaassous

15 mℓ botter
20 mℓ meel
250 mℓ melk
2,5 mℓ sout
Paprika
125 mℓ gerasperde kaas
30 mℓ fyngekapte soetrissie

Smelt die botter, verwyder dit dan van die hitte en meng die meel by met ’n ballonklitser tot die mengsel glad is.
Plaas dit terug op die stoof en gooi die melk geleidelik by terwyl jy dit roer. Voeg ook die sout en paprika by.
Kook die sous vir 4 minute terwyl jy aanhoudend roer.
Roer nou die kaas en soetrissie by.
Bedien die sous sodra die kaas gesmelt het.

6/02/2013

Corn chowder

Hierdie gewilde Amerikaanse sop vind byval by Suid-Afrikaanse mielieliefhebbers.

6 koppe mielies OF 1 410 g blikkie verroomde mielies en 1 410 g blikkie mieliepitte
100 g swoerdlose (rindless) strepiespek (± 6)
125 ml gekapte uie
125 ml gekapte seldery
60 ml fyngekapte groen soetrissie
250 ml rou aartappel, in blokkies gesny
500 ml water
2,5 ml sout
1 ml paprika
'n knypie rooipeper
1 lourierblaar

60 ml  koekmeel
125ml melk

375 ml melk OF room
sout

Garnering:
varsgemaalde swartpeper
gekapte pietersielie
stukkies gebraaide spek

Indien jy heel mielies gebruik, sny die pitte af en skraap die stronk op en af om die melkerige oorblyfsels ook te verwyder. Indien jy geblikte mielies gebruik, voeg die blikkies se inhoud bymekaar.

Braai die spek tot bros in die soppot.
Laat die spek afkoel en verkrummel dit. Hou eenkant.

Gooi die ui, seldery en soetrissie in die pot waarin die spek gebraai is en braai stadig vir 5 minute.
Voeg die rou mielies, aartappels, 2,5 mℓ sout, paprika, rooipeper en lourierblaar by en bring tot kookpunt. Prut stadig vir 20 minute.
Indien jy geblikte mielies gebruik, voeg dit eers na die 20 minute by.

Meng die koekmeel en 125 mℓ melk en roer dit by die sop, terwyl jy aanhoudend roer.

Roer die 375 mℓ melk/room by, proe vir sout en bring tot kookpunt.

Bedien die sop as dit van die stoof af kom. Garneer dit met swartpeper, pietersielie en spek.

Hierdie resep is genoeg vir 6 tot 8 persone.

Variasies:
Vir 'n vegetariese weergawe kan jy die spek weglaat en nog geurmiddels en 'n paar druppels Tabasco byvoeg.

Vir 'n meer kleurvolle sop kan jy 'n halwe rooi en halwe groen soetrissie gebruik.


Jy sal hierdie resep kry in Art of Cooking.

Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

4/28/2011

Conde-sop / Conde Soup

Conde-sop word van rooi boontjies gemaak. Laat staan 500 g droë rooi boontjies oornag in water.

Die volgende dag gooi jy die water af en plaas jy 500 g spek in groot stukke geknip, twee wortels in stukkies gesny, ’n versnipperde ui, ’n versnipperde prei, ’n hand vol pietersielie en 1,5 liter water by die boontjies. Kook tot alles sag is.

Verwyder die spek en gooi die res deur ’n sif. Druk so veel as moontlik deur die sif. Gooi dit wat in die sif agterbly weg.
Plaas die spek terug, gooi ’n liter bouillon by en verhit tot dit kook.

4/24/2011

Cajun-hoender / Cajun Chicken

4 hoenderborsfilette, skoongemaak en die vel verwyder
20 mℓ Cajun-speserye
20 mℓ olyfolie

Meng al die bestanddele, gooi in ’n bak met ’n deksel wat dig pas, bedek en plaas dit in die yskas vir 15 minute.

Verhit ’n braaipan oor medium-hitte en braai die hoender daarin gaar.
Bedien met ’n groenslaai en Franse brood.

9/12/2010

Amerikaanse groente-vissop / Chowder

Baie mense het al gehoor van chowder, maar weet nie regtig wat dit is nie.

Om reg te laat geskied aan hierdie gewilde Amerikaanse sop moet jy ’n vars harder gebruik. Sny die vis in klein stukkies. Kook die grate vir ’n halfuur in water.

Smoor ’n fyngesnyde ui saam met ’n paar snye varkspek en ’n paar aartappels wat jy in klein blokkies gesny het. Sodra dit klaar is maak jy ’n laag hiermee in ’n soppot, dan ’n laag vis en so hou jy aan. Oor elke laag vis strooi jy gekapte pietersielie, tiemie, salie, sout en peper. Die water waarin die grate gekook is word oor die lae gegooi. Bedek die pot en laat stadig prut vir ’n halfuur.

Intussen kook jy 2 koppies melk saam met 60 g droë brood. Roer die mengsel by die res van jou sop.

5/26/2010

Rockefeller oesters / Rockefeller Oysters

Hierdie resep kom uit New Orleans in Amerika en is so genoem, omdat die gereg glo so "ryk" is soos Rockefeller. Dit dateer dan ook seker uit die tyd van John D. Rockefeller.

4 eetlepels fyngekapte salotte
225 g botter
4 eetlepels broodkrummels
’n hand vol bronkors, fyngekap
4 eetlepels fyngekapte selderyblare
4 eetlepels fyngekapte pietersielie
1 eetlepel fyngekapte kerwel
1 teelepel fyngekapte tarragon
4 eetlepels Absinthe
sout
varsgemaalde swartpeper
cayenne peper
growwe sout (rock salt)
24 vars oesters

Braai die salotte oor lae hitte in 4 eetlepels van die botter tot dit ’n mooi glans het.
Voeg die broodkrummels by en hou aan met braai tot dit ’n bruin kleur begin kry.

Meng die res van die bestanddele, behalwe die oesters, saam.
Voeg die res van die botter by en stamp die mengsel fyn tot dit ’n pasta vorm.

Plaas ’n laag van die growwe sout in ’n bakplaat wat groot genoeg is vir al die oesters.
Maak die sout effens nat.
Maak die oesters oop en plaas dit op die sout.
Plaas 1 eetlepel van die mengsel op elke oester.
Bak die oesters in ’n warm oond van 230ºC vir sowat 5 minute, tot die botter gesmelt het en die oesters goed warm is.

5/25/2010

Amerikaanse krapslaai / Crab Louie

Aan die Amerikaanse weskus hou hulle van krap. Ook geen wonder dan dat daar na die Crab Louie verwys word as die konining van slaaie nie.

Ander name vir die slaai is die Crab Louis Salad of King of Salads.

450 g gaar krapvleis, gevlok – Suid-Afrikaners moet gewoonlik tevrede wees met geblikte klapvleis
100 g seldery, fyngekap
2 eetlepels fyngekapte rooi soetrissie
die sap van 1 suurlemoen
droë mosterd
sout
varsgemaalde swartpeper
cayenne peper
150 mℓ mayonnaise
slaaiblare
4 tamaties, in kwarte gesny
½ komkommer, in dun skyfies gesny
½ blikkie aspersiepunte
2 hardgekookte eiers, in kwarte gesny
8 swart olywe, ontpit
vars pietersielie, fyngekap

Meng die krap, seldery en soetrissie liggies.
Geur met die suurlemoensap, mosterd, sout en peper na smaak.
Meng die slaai met mayonnaise en skep op slaaiblare.
Garneer met die tamaties, komkommer, aspersie, eiers en olywe.
Strooi pietersielie oor en bedien.


Hierdie resep is genoeg vir 4 persone.

4/30/2010

Haiwaïse diaquiri

Druk die rand van 'n Martini-glas in grandinestroop en daarna in rooi jelliepoeier.
Hou eenkant.

Plaas vyf ysblokkies in 'n menger, voeg 2 sopies ligte rum, 4 sopies vars lemoensap en 1 sopie kersiestroop (van kersies wat vir koeke gebruik word) by en skud goed.

Plaas 1 kersie onder in die glas en giet die rummengsel bo-oor.

Bedien met 'n vrugtestokkie.

8/26/2009

Klassieke Waldorf-slaai / Classic Waldorf Salad


1 koppie appelstukkies (verkieslik Granny smith)
1 eetlepel suurlemoensap
1 koppie selderystukke
kwart koppie mayonnaise

Besprinkel die appels met die suurlemoensap nadat dit opgesny is en voeg dan al die bestanddele by mekaar.

Vir ´n voorgereg kan jy repies hoenderborsies, vark of salm byvoeg.

2/16/2009

New England Corn Chowder

4 aartappels geskil en blokkies gesny
2 medium Uie in ringe gesny
4 eetlepels botter
4 koppies room
2 groot blikkies sweatcorn of heel mielies
1 teelepel sout
Swart peper na smaak
¼ teelepel tiemie
½ teelepel marjoram

Braai uie en aartappels in botter tot uie gaar is. Gooi bietjie water by en laat stadig kook tot aartappels gaar is. Roer melk, room, mielies in en voeg sout en peper by. Moenie kook nie dit moet net baie warm wees. Geniet!

resep: Petro van der Westhuizen