Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

Die spens

Met die nuwe belangstelling in kosmaak het die spens weer 'n plek in die huis gekry. Diegene sonder 'n spens het goed beplande kombuiskaste met draaiende rakke, versteekte laaie, deure wat self toemaak, blaaie wat opstaan en platslaan en kaste wat uit die mure kom. Daar is nou genoeg pakplek, sodat die kruie naby die stoof is, die kinders se kosblikke langs die ontbytbenodigdhede en die lekkergoed versteek agter die blikkies aspersies.

Wat jy in jou kombuis aanhou is persoonlike smaak, maar niemand wil meer blikkies koop wat jy drie jaar later agter in 'n hoekie gaan ontdek nie. Om dit te bekamp moet jy jou nuwe aankope agter in die kas pak, sodat dit wat voor staan eerste opgebruik word. Probeer ook om niks langer as twee weke in jou yskas te hou nie. Laastens is dit goed om 'n lys te hê. Dit is wat ons van tyd tot tyd hier op Die spens gaan aanvul. 'n Omvattende lys van wat jy in 'n spens kan aanhou en sommer ook inligting oor hoe jy dit kan gebruik of wanneer dit handig te pas kom.

Aartappels

Blikkies aartappels – gebruik dit vir 'n kits-aartappelslaai; maak dit warm en bedien saam met vars gekapte pietersielie en botter; braai saam met vleis.

Pakkies aartappelvlokkies - gebruik dit vir geroomde aartappels; maak 'n aartappelsop.


Agurkies

Agurkie atjar - gebruik in 'n gemengde slaai; bedien saam met vleis.


Appels

Ingelegde appels - vir gebruik in nagereg.

Appeljellie - gebruik saam met gebraaide vleis.


Appelkose

Ingelegde appelkose - vir gebruik in nagereg.

Appelkooskonfyt - gebruik as konfyt; vir glaseersel; gebruik om 'n sous van te maak.


Appelliefies

Ingelegde appelliefies - vir gebruik in nagereg, saam met room of roomys.


Aspersies

Geblikte aspersiesop - gebruik as voorgereg of vinnige maaltyd.

Geblikte heel aspersies - gebruik as voorgereg.

Geblikte aspersiesstukkies - gebruik in slaai, omelet of sop.


Asyn

Vir slaaisouse, marinades en as geurmiddel.


Atjar

Atjar - bedien dit by vleis; bedien saam met kaas.


Bakpoeier

Bakpoeier - mens het gereeld bakpoeier nodig as 'n rysmiddel vir gebak.


Beskuit

Altyd 'n staatmaker saam met tee of koffie.


Beskuitjies

Sorg dat jy 'n verskeidenheid beskuitjies in jou spens het, soet of sout. Dit kom handig te pas op menige geleenthede.


Biltong

Altyd handig as 'n vinnige happie. Gerasperde biltong kan op toebroodjies gebruik word, of strooi dit oor roereier.


Blatjang

Blatjang kan saam met verskeie vleisgeregte bedien word.


Bone

Gedroogde boontjies kom altyd handig te pas vir sop, bredies of slaai.


Botterpapier

Botterpapier het verskeie gebruike. Sorg dat jy altyd daarvan in jou spens het.


Bouillonblokkies

Vir die van ons wat nie die tyd of geduld het om aftreksel te maak vir souse en sop nie, is bouillonblokkies 'n kitsoplossing.


Dadels

As jy hou van bak het jy altyd dadels nodig. Dit word gebruik in koeke, koekies, poedings en slaai.


Droëvrugte

Sorg dat daar verskillende droëvrugte in die spens is. Dié sonder suiker, byvoorbeeld appelkose, perskes en pruime, wat gebruik kan word by stowegeregte. Dié met suiker word gebruik in nagereg of ontbyt, byvoorbeeld appels, perskes, pruime en pere. Vir gestoomde poedings en koeke het jy nodig dadels, rosyne, korente of sultanas.


Ertjies

Gedroogde ertjies kom altyd handig te pas vir sop en bredies.


Gelatien

Natuurlike gelatien word gebruik vir koue poedings, tertvulsels of om ander geregte van vleis, vis, ens. te laat stol.


Gis

Mens het altyd gis nodig, veral as jy hou van bak.


Konfyt

Sorg dat daar verskillende soorte konfyt in die spens is. Mens het mos aarbeikonfyt nodig vir skons, appelkoos vir toebroodjies en verskeie ander vir 'n konfytsous oor poedings.


Kruie

Hou 'n verskeidenheid gedroogde kruie in jou spens. Dit kan as geurmiddels gebruik word in baie geregte. Basiese kruie sluit in tiemie, roosmaryn, koljander, komyn, basiliekruid, pietersielie, ens.


Die lys word gereeld aangevul.

Stuur idees uit jou spens na con@qvrp.net.

No comments :

Post a Comment