Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Brood. Show all posts
Showing posts with label Brood. Show all posts

7/09/2026

Maklike mieliebrood / Easy Corn Bread

BESTANDDELE
1 x blik sweet corn (mielies)
1 x blik kondensmelk
1 x 250g self rising flour
knippie sout

STAPPE
Gooi al die bestanddele in ‘n bak en meng goed.
Plaas in broodpan.
Bak by 180ºC vir 45 minute, of tot gaar.

resep: Lena Els

2/11/2026

Soetsuurdeeg brood

2,5 kg broodmeel
1 liter lou water
1 dessertlepel sout
1 teelepel suiker
1 middelslag aartappel

Begin laat namiddag met suurdeeg.

Kook die water en laat dit afkoel in ’n 3 liter kastrol.

Spoel die aartappel af en sny dit in die helfte. Skep dit saam met die sout en suiker in die kastrol. Sprinkel sowat 1 koppie meel oor die water. Moet dit nie roer nie. Maak dit toe met ’n kombers en laat dit deurnag staan om te rys.

Die volgende oggend roer jy nog ’n koppie meel by. Plaas die kastrol in ’n groot bak warm water en laat rys.

Roer die res van die meel met 1 dessertlepel sout. Wanneer die suurdeeg goed gerys het skep jy die meelmengsel by. Knie deur en voeg nog water by soos nodig. Knie tot ’n gladde deeg. Laat dit dan rys tot dit verdubbel.

Knie weer deur, verdeel die deeg en plaas in twee gesmeerde broodpanne. Laat dit rys tot die panne feitlik vol is.

Bak vir 1 uur in ’n voorverhitte oond teen 180°C.

1/08/2026

Broodslaai

'n Maklike resep.

sny brood in dik snye en dan in blokkies
sny kaas van jou keuse in blokkies
gebraaide spekvleis, in stukkies gekap
gelyke hoeveelhede kondensmelk & mayonnaise
olie vir diepbraai
gebraaide sampioenstukkies (opsioneel)

Diepbraai broodblokkies in olie tot bruin. Dreineer en laat afkoel. Voeg die res van die bestanddele by die mayonnaise-mengsel 'n halfuur voor opdiening.

bydrae: Rika Spang


Resep 2

1 brood in blokkies gesny
2 koppies kaasblokkies
2 teelepels mostertpoeier
1 teelepel sout
1 teelepel peper
2 eiers
½ koppie gesmelte botter
1 koppie kondensmelk
25ml asyn

Braai broodblokkies tot bruin in olie. Dreineer op papierhandoek. Laat koud word. Klits mostert, sout, peper, en asyn saam. vVoeg geklitste eiers by. Voeg kondensmelk en botter by. Kook vir 5 minute. Roer aanhoudend. laat afkoel. Meng met brood en kaasblokkies. Versier met vars pietersielie.

bydrae: Petro van der Westhuizen


Resep 3

6 eiers
6 eetlepels asyn
6 eetlepels suiker
1 eetlepel mostertpoeier
sout na smaak
750 g Mayonaise
3 koppies broodblokkies
1 koppie kaasblokkies

Klop eiers tot skuimerig. Meng asyn, suiker mostert met bietjie water en voeg by geklopte eiers. Roer oor warm plaat tot dit dik is. haal van hitte af en klits goed. Laat afkoel en voeg mayonaise by. Braai broodblokkies in diep olie tot bruin. Dreineer en meng met brood en kaas. Gooi sous oor net voor opdiening.

bydrae: Petro van der Westhuizen

1/01/2026

Soet suurdeeg brood / Sweet sourdough bread

Hierdie is ’n beproefderesep vir 1 groot of 2 medium soet suurdeegbrode – geskik vir iemand wat 'n goeie krummelstruktuur soek. Die brood het ’n sagte, effens soet geur met net genoeg suurdeeg-karakter om dit interessant te maak, sonder om skerp te wees.

BESTANDDELE
Suurdeeg starter
100 g aktiewe suurdeeg starter
100 g louwarm water
100 g wit broodmeel

Deeg
500 g wit broodmeel
180 g volroom melk, louwarm
2 groot eiers, teen kamertemperatuur
80 g wit suiker
10 g fyn sout
80 g botter, baie sag (nie gesmelt nie)

STAPPE
Meng die starter, water en meel goed. Bedek losweg en laat staan 4–6 ure by kamertemperatuur tot borrelend en aktief.

Meng die meel, melk, eiers, suiker en die starter. Meng tot dit ’n growwe deeg vorm.
Laat rus vir 30 minute.

Voeg die sout en botter by. Knie die sout in. Voeg die botter bietjie vir bietjie by terwyl jy knie. Knie 10–15 minute (met hand of menger) tot die deeg glad, elasties en effens blink is. Die deeg moet sag wees, maar nie taai nie.

Plaas in ’n liggies gesmeerde bak. Bedek en laat rys 4–6 ure by ±24 °C. Vou die deeg elke uur liggies om, om struktuur te bou. Die deeg moet ongeveer 50–70% in volume toeneem (nie verdubbel nie).

Keer die deeg uit.
Vorm liggies in ’n brood of twee kleiner brode.
Plaas in gesmeerde broodpanne of op bakpapier.
Bedek losweg. Laat rys 3–5 ure tot die deeg stadig terugveer as jy dit liggies druk.
Alternatief: oornag in die yskas vir beter geurontwikkeling.

Verhit oond tot 180 °C.

Verf die bokant met eier en melk (1 eier + 1 eetlepel melk).
Bak 35–40 minute vir ’n groot brood. 25–30 minute vir kleiner brode Die brood is gaar as dit hol klink onder en ’n interne temperatuur van ±93 °C het.

Laat heeltemal afkoel voor sny – dit stabiliseer die tekstuur.

2/28/2024

Tuisgemaakte Bruismeel / Self Raising Flour

Hoe om bruismeel te maak:
So maak jy jou eie bruismeel tuis; 'n plaasvervanger vir bruismeel wanneer jy dit dringend nodig kry:

250 ml koekmeelblom + 7,5 ml bakpoeier = 250 ml bruismeel



... of hoe om koekmeel in bruismeel te verander. En ja, bruismeel is self raising flour in Afrikaans.

9/06/2023

Crostini Gustosi alla Romana / Roosterbrood met kaas en ansjovis

8 snye goeie witbrood
8 filette ansjovis, fyngekap
8 snye mozzarella
8 eetlepels botter

Verhit die botter in ’n souspan tot dit net begin smelt. Verwyder onmiddellik van die hitte en werk die ansjovis by, tot dit ’n dun smeer vorm.
Smeer die mengsel oor die brood en bedek elke sny met ’n sny mozzarella.
Plaas dit in ’n voorverhitte oond van 230°C tot die mozzarella begin smelt.

6/01/2022

Parmesaanbroodjies / Parmesan Bread

6 Individuele broodjies.

250 mℓ semelryke bruismeel
250 mℓ bruismeel
100 g gerasperde parmesaan
4 sprietuie, gekap
30 mℓ fyngekapte pietersielie
2 mℓ sout
500 mℓ karringmelk

Meng alles, behalwe die karringmelk, goed saam.
Gooi die karringmelk agterna by en meng.
Verdeel die mengsel in ’n gesmeerde muffinpan.
Bak teen 180°C vir omtrent 40 minute tot gaar.

Sit warm voor met botter.

6/08/2020

Skuinskoek

Skuinskoek word gewoonlik gemaak van oorskiet-mosbolletjiedeeg wat diepgebraai word in olie.

2½ koppies koekmeel
½ koppie suiker
Knypie sout
½ eetlepel fyn kaneel
½ eetlepel kremetart
1 eetlepel botter
3 eetlepels melk
3 eetlepels water
1 teelepel koeksoda
2 eiers, geklits
Olie
Kaneelsuiker

Sif die meel, suiker, sout, kaneel en kremetart saam.
Vryf die botter met die vingerpunte by die meelmengsel.

Meng die melk, water en koeksoda.
Meng die helfte van die melkmengsel met die eiers. Gooi dit by die meelmengsel en meng. Dit moet ’n sagte deeg wees, maar nie slap nie. Voeg die res van die vloeistof bietjie vir bietjie by tot dit nat en kniebaar is.
Knie die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties.

Breek stukke deeg af en rol dit dat dit so groot soos dik boerewors is. Druk die “worse” plat met jou hand tot dit omtrent 2 cm dik is. Sny in stukke van 5 cm.
Bak in warm olie – nie te warm nie, dit moet kan rys en moet nie te donker braai nie.

Skep uit met ’n gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.
Rol in kaneelsuiker en sit voor met room en konfyt.
Hoe gouer dit geët word hoë beter.

5/20/2020

Braaibroodjies in ’n pan

90 mℓ sagte botter
12 snye witbrood
60 mℓ blatjang
12 skywe cheddar
1 ui, in ringe gesny
2 tamaties, in ringe gesny
Sout en varsgemaalde peper.

Verhit ’n riffelpan tot matig warm.

Smeer brood met botter aan beide kante.
Smeer 6 snye met blatjang, gevolg deur ’n skyf cheddar.
Verdeel die uieringe tussen die 6 snye. Daarna die tamatie.
Geur met sout en peper.
Sit nog ’n skyf cheddar op en plaas die ander 6 snye bo-op.
Braai vir 5 tot 8 minute aan ’n kant tot goudbruin en die kaas gesmelt het.

Die resep is genoeg vir 4 tot 6 persone.


5/18/2020

Bruinbrood / Bruin brood resep / Brown Bread

500 g bruinbroodmeel
10 g kitsgis
5 mℓ sout
30 mℓ suiker
45 mℓ botter
300 mℓ louwarm water

Meng die droë bestanddele. Laat dit ’n tydjie staan.

Meng die droë en nat bestanddele.
Strooi meel op jou werksoppervlakte en knie die deeg vir ten minste 10 minute. Die deeg moet van jou hande afkom en elasties voel. Smeer bietjie olie in ’n mengbak en plaas die deeg daarin. Verf die deeg met olie. Maak dit toe met kleefplastiek en ‘n vadoek en laat dit rys tot dubbel die grootte.

Smeer 2 broodpannetjies met botter en verdeel die deeg tussen die pannetjies. Maak toe met ’n vadoek en laat dit weer rys tot dubbel die grootte.

Voorverhit die oond tot 180°C.

Bak dit teen 180°C vir ongeveer 1 uur. Klop op die brood. As dit hol klink is dit gaar.


5/11/2020

Boston-brood / Boston Brown Bread

Die tradisionele Amerikaanse brood word in ’n koffieblik of klein broodpan gemaak.

Botter om die blik of broodpan mee te smeer.
½ koppie broodmeel
½ koppie rogmeel
½ koppie mieliemeel
½ teelepel bakpoeier
½ teelepel koeksoda
½ teelepel sout
½ teelepel allspice
½ koppie molasse
1 koppie karringmelk
1 teelepel vanillaekstrak (opsioneel)
½ koppie rosyne (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 165°C en kook ’n groot pot water.

Smeer jou koffieblik of broodpan met botter.

Meng al die droë bestanddele in ’n groot mengbak. Voeg die rosyne ook op die stadium by indien jy dit gaan gebruik.

Meng die karringmelk met die vanielje – indien jy laasgenoemde gaan gebruik. Klits die molasse met die hand by.
Gooi die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng goed met ’n houtlepel.
Gooi die beslag in die blik of pan. BAIE BELANGRIK: Die beslag moet NIE die houer met meer as ⅔ vul nie.
Bedek die blik of pan met foelie.
Neem ’n diep oondpan waarin die blik of broodpan pas. Plaas die blik of broodpan daarin en vul op met die kookwater. Ten minste ⅓ van die blik of broodpan moet bedek wees met die water.
Plaas dit in die oond vir ten minste 2 uur en 15 minute.

Verwyder die blik of broodpan uit die oond en laat afkoel voor jy dit op ’n draadrak plaas. Laat dit vir ten minste 1 uur afkoel op die draadrak voor jy dit uit die blik of broodpan verwyder.


4/17/2020

Asbrood / Ash Bread

360 g bruin broodmeel
140 g wit broodmeel
10 g kitsgis
5 mℓ sout
50 mℓ varkvet, botter of margarien
500 mℓ karringmelk

Meng die droë bestanddele saam.
Vryf die botter in met die vingerpunte tot dit goed gemeng is.
Voeg die karringmelk by en meng goed.
Plaas die deeg op ’n groot vel aluminiumfoelie. Vorm tot ’n ovaal/ovale brood, ongeveer 3 cm dik. Vou dit toe in die foelie en plaas op matige warm kole. Bedek met nog kole. Bak ongeveer 45 minute of tot die brood klaar is.


6/03/2019

Volkoringbrood

4 koppies volkoringmeel
1 teelepel sout
1 eetlepel heuning
1 teelepel koeksoda
2 eetlepels olie
500 mℓ gewone jogurt
Bietjie warm melk

Voorverhit die oond tot 180°C.

Meng die droë bestanddele.
Voeg die jogurt met en heuning by.
Meng goed, gooi in ’n gespuite broodpan en bak vir 1½ uur.

1/11/2019

Nutty Wheat broodjie / Nutty Wheat Bread

3 koppies nutty wheat
1 teelepel koeksoda
2 eetlepels bruinsuiker
’n hand vol neute/sade/rosyne
2 koppies karringmelk
Knippie sout
1 eetlepel olyfolie

Meng alles saam en pak die deeg in ’n gesmeerde broodpannetjie.
Bak vir 1½ uur in ’n voorverhitte oond teen 180°C.


11/15/2018

Bruingebakte krummels

Bak broodkorsies in ’n stadige oond tot goudbruin.

Druk of rol die korsies tot fyn.
Sif dit deur ’n draadsif om ’n egalige krummelmengsel te kry.
Bêre die krummels in ’n droë konfytfles.

1/17/2018

Soetsuurdeegbrood

2,5 kg broodmeel
1 liter lou water
1 teelepel sout
1 eetlepel sout
1 teelepel suiker
1 middelslag aartappel

Begin laatmiddag, die vorige dag, met die resep.

Kook die water in ’n 3 liter kastrol en laat dit dan afkoel.

Sny ’n skoongemaakte aartappel in die helfte en plaas in die water saam met die sout en suiker. Strooi 1 koppie meel oor die water. Moet nie die bestanddele roer nie. Maak die kastrol toe met ’n kombers en laat dit oornag staan.

Die volgende oggend roer jy nog ’n koppie meel by. Plaas die kastrol in ’n groot bak met warm water.

Wanneer die suurdeeg goed gerys het verwyder jy die aartappel en voeg jy die res van die meel by en 1 eetlepel sout.
Knie die deeg deur. Gebruik nog lou water indien nodig. Knie tot dit ’n gladde deeg is.
Laat dit weer rys tot die deeg verdubbel het.

Knie weer die deeg en plaas in 2 gesmeerde panne. Laat dit rys tot die panne feitlik vol is.
Bak vir 1 uur teen 180°C.

12/05/2017

Kaastoebroodjies / Cheese Sandwiches

125 g goeie, gerasperde cheddar
3 hardgekookte eiergele, fyngemaak
1 eetlepel gesmelte botter
Snye gebotterde brood
Sout en peper

Meng die eiergele tot ’n pasta saam met die gesmelte botter. Meng dit dan met die kaas.
Smeer die mengsel op die brood.


Opsioneel: Sit ook bronkors op dié toebroodjies.

Nog ’n opsie: Stip die mengsel met sriracha-sous.

12/02/2017

Beslaggebraaide brood / Pane indorato

¼ koppie meel
1 eetlepel suiker
Die gerasperde skil van ’n ½ lemoen
’n knippie sout
1 koppie melk
2 eiers, geklits
Botter
Dik snye Franse brood – verkieslik ou brood

Meng die melk en eiers.

Meng die meel, suiker, suurlemoenskil en sout.
Gooi die eiermengsel stadig by terwyl jy aanhoudend roer tot jy ’n pap beslag het.
Doop die brood in die beslag, sorg dat dit goed bedek is, maar nie te lank dat dit pap raak nie.

Verhit botter in ’n pan en braai die brood tot goudbruin aan beide kante. Laat die brood agterna dreineer op handdoekpapier.

Bedien dit warm.

11/20/2017

Lavash

Lavash is ’n gewilde Turkse brood.

4 koppies meel, plus ’n bietjie ekstra om mee te strooi
10 g kitsgis
1 teelepel sout
1 ½ koppie louwarm water
2 eetlepels olyfolie
¼ koppie water
¼ koppie olyfolie

Meng die meel, gis en sout saam.

Meng die water en olie.
Maak ’n holte in die middel van die meelmengsel en meng die vloeistof stadig by om ’n deeg te vorm.
Gooi die deeg op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is en knie tot glad.
Plaas die deeg in ’n skoon bak en laat dit op ’n warm plek staan tot dit amper verdubbel het.

Knie die deeg af en verdeel dit in 8 bolletjies. Bedek die bolletjies met ’n vadoek terwyl jy een vir een met hulle werk.
Maak ’n bolletjie plat met jou hand en bedek dit met kleefplastiek wat met olyfolie gesmeer is. Laat dit rus vir 5 minute.

Verwyder die plastiek en rol elke broodjie 4 mm dik uit. Rek die broodjies effens met jou hande. As dit te maklik skeur moet jy dit liefs nog 5 minute laat rus.

Plaas die broodjies op ’n bakplaat wat liggies met olie gesmeer is en bak vir 8 minute teen 200°C of tot dit opgepof is en begin verbruin.


Die resep is genoeg vir 8 tot 10 brode.

11/03/2017

Olyf-focaccia

4 koppies meel, plus ’n bietjie ekstra om mee te strooi
10 g kitsgis
1 teelepel sout
1 ½ koppie louwarm water
2 eetlepels olyfolie
½ koppie elk swart en groen ontpitte olywe, gekap
¼ koppie water
¼ koppie olyfolie

Smeer ’n 30x25 cm bakplaat liggies met olie.

Meng die meel, gis en sout saam.

Meng die water en olie.
Maak ’n holte in die middel van die meelmengsel en meng die vloeistof stadig by om ’n deeg te vorm.
Gooi die deeg op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is en knie tot glad.
Plaas die deeg in ’n skoon bak en laat dit op ’n warm plek staan tot dit amper verdubbel het.

Knie die deeg af.
Voeg die helfte van die olywe by en knie dit in.
Voer die bakplaat uit met die deeg.
Laat dit op ’n warm plek rus vir 30 minute.

Druk holtes in die deeg met jou vingers.
Strooi die orige olywe en ’n bietjie sout oor.

Klop die water en olie goed saam en bestryk die deeg daarmee.
Laat die deeg nou weer eenkant staan, vir 20 minute die keer.

Bak die brood in ’n 200°C-oond vir 30 minute.

Keer die brood uit op ’n draadrak.