Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Indies. Show all posts
Showing posts with label Indies. Show all posts

7/29/2026

Dahl Tadka

Hierdie resep balanseer romerige, sagte lensies met 'n ryk ui en tamatie masala basis, afgerond deur 'n tadka wat die gereg verhef van eenvoudig tot restaurantgehalte. Die resep is glutenvry, vegetaries en kan in 45 minute gereed wees.

BESTANDDELE

Vir die dahl
1 koppie gesplete geel of rooi lensies, afgespoel totdat die water helder is
3½ koppies groenteaftreksel
½ teelepel gemaalde borrie
1 teelepel sout

Vir die Masala-basis
1 eetlepel botter - gebruik ghee indien dit beskikbaar is
1 medium geel ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, gerasper
3 cm vars gemmer, gerasper
1 rissie, fyngekap
1 medium ryp tamatie, fyngekap - of ingelegde, gekapte tamaties
1 teelepel gemaalde komyn
1 teelepel gemaalde koljander
1 teelepel garam masala
¼ koppie vars koljander, gekap

Vir die tadka
1½ eetlepel botter
1 teelepel komynsaad
½ teelepel swart mosterdsade
2 gedroogde rissies
10 vars kerrieblare (of 4 gedroogde kerrieblare)
1 ruim knippie asafoetida – gebruik knoffelpoeier as alternatief

STAPPE
Meng die lensies, aftreksel, borrie en sout in 'n pot. Bring tot kookpunt oor medium-hoë hitte.
Verlaag die hitte tot laag, bedek gedeeltelik met 'n deksel en prut vir 20 minute (of tot 30 minute vir ouer lensies).
Roer af en toe. Voeg nog 'n bietjie water by as dit te dik word. Die lensies is gaar wanneer hulle heeltemal sag is.
Wenk: Gebruik 'n lepel of staafmenger om ongeveer ¼ van die lensies liggies teen die kant van die pot te fynmaak. Dit skep 'n pragtig romerige, samehangende tekstuur.

Terwyl die lensies prut, verhit 1 eetlepel botter in 'n aparte, groot pan oor medium hitte. Voeg die gekapte ui en 'n knippie sout by. Braai vir 5 minute tot sag en goudbruin aan die kante.
Voeg die knoffel, gemmer en rissie by. Braai vir 2 minute tot geurig.
Roer die gekapte tamatie, komyn, koljander en 'n knippie sout by. Kook vir 5 minute en roer af en toe totdat die tamatie heeltemal opbreek en die mengsel verdik tot 'n pasta. Jy sal weet dis gereed wanneer jy 'n klein bietjie olie aan die kante sien skei.

Gooi die gaar lensies (en die kookvloeistof) in die pan by die masala-mengsel. Roer goed om te kombineer.
Voeg die garam masala en die helfte van die gekapte koljander by. Prut sonder 'n deksel 10 minute om die geure te laat saamsmelt. As die dal te dik is, voeg warm water by, ¼ koppie op 'n slag, totdat dit na jou smaak is. Proe vir sout.

Net voor opdiening, plaas 'n klein pan of kastrol oor medium hitte met 1½ eetlepel botter.
Sodra die botter gesmelt het, voeg die mosterdsaad by. Wag 'n paar sekondes totdat hulle begin bars en sis. Voeg onmiddellik die komynsaad, rissies en kerrieblare by. Roer die pan aanhoudend vir 30 sekondes.
Nou voeg jy die knippie asafoetida by en verwyder die pan onmiddellik van die hitte sodat die speserye nie brand nie.
Gooi die sisende tadka versigtig direk oor die oppervlak van die dahl. Dit sal sis en 'n ongelooflike aroma vrystel. Roer dit versigtig by.

Moenie die Tadka oorslaan nie. Dit is die siel van hierdie gereg. Dit laat die speserye blom en voeg 'n laag geur by wat nie bereik kan word deur net gemaalde speserye in die pot te roer nie.

IDEE
Gebruik die Dhungar metode om die rokerige geur van Indiese padrestaurante (dhabas) na te boots.
Plaas 'n klein, hittebestande staalbak bo-op die gaar dal. Gebruik 'n tang om 'n klein stukkie houtskool oor 'n oop vlam te verhit totdat dit rooiwarm is. Plaas die warm kole in die staalbak, drup ½ teelepel botter daaroor en bedek die hele pot onmiddellik met 'n digte deksel. Laat dit vir 10 minute rook.
Verwyder die bak en kole voor opdiening.

Sit die dahl warm voor saam met gestoomde basmati-rys en/of warm brode soos roti, chapati of naan.
Vir diegene wat gaan sukkel met die brand bedien jy ook gewone jogurt, dun gesnyde rooi uie en skyfies suurlemoen daarmee saam.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

7/16/2026

Paneer en sampioen Makhani

BESTANDDELE
Vir die paneer- en sampioenmarinade
400 g paneer, in happiegrootte blokkies gesny 250 g knopiesampioene of cremini-sampioene, in skywe of in kwarte gesny
½ koppie gewone jogurt
1 eetlepel gemmer-knoffelpasta

1 teelepel rissiepoeier (verkieslik Kasjmir-rissiepoeier)
1 teelepel gemaalde komyn
1 teelepel garam masala
Sap van ½ suurlemoen
Sout na smaak

Vir die sous (Makhani-sous)
1 medium ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
1 eetlepel vars gemmer, gerasper
400 g blikkie fyngekapte tamaties
50 g tamatiepuree
1 koppie room
3 eetlepels botter
1 eetlepel kookolie
1 eetlepel gemaalde koljander
1 teelepel gemaalde komyn
1 teelepel rissiepoeier
1 teelepel garam masala
3 kardemom sade
5 swart peperkorrels
2 lourierblare
1 teelepel suiker
Vars koljander, vir garnering

STAPPE
Klits die jogurt, suurlemoensap, gemmer-knoffelpasta en die marinade-speserye saam in 'n groot bak.
Gooi die paneerblokkies en gesnyde sampioene versigtig in die mengsel totdat dit goed bedek is. Laat dit vir 20 minute staan.

Verhit die olie en 1 eetlepel botter in 'n groot pan oor medium-hoë hitte.
Voeg die gemarineerde sampioene en paneer in 'n enkele laag by (werk in bondels indien nodig). Braai vir 2-3 minute per kant totdat die paneer goudbruin word en die sampioene krimp en 'n mooi kors ontwikkel. Verwyder dit uit die pan en hou eenkant.

In dieselfde pan, gooi nog 'n eetlepel botter. Braai die gekapte ui vir 5 minute tot sag en deurskynend.
Roer die gekapte knoffel en gerasperde gemmer by en kook vir 1 minuut tot geurig.

Gooi die blikkie tamaties, tamatiepuree, gemaalde koljander, komyn, rissiepoeier, garam masala, kardemom, peperkorrels, lourierblare en suiker by. Laat die mengsel vir 12 minute oor medium-lae hitte prut, en roer af en toe totdat die sous verminder, verdik en effens donkerder van kleur word.

Draai die hitte tot laag. Gooi die room stadig by en roer aanhoudend totdat die sous in 'n syagtige, eenvormige oramjerige sous verander.
Skuif die geskroeide paneer, sampioene en enige oorblywende sappe terug in die pan. Prut saggies vir 5 minute sodat die paneer die sous absorbeer.

Roer die laaste eetlepel botter by vir 'n glansende afwerking.
Garneer ruim met vars koljander.
Bedien die warm makhani met warm knoffelnaan of basmati-rys.

4/08/2026

'n Groente kerrie / Vegetable Curry

3 eetlepels olie
½ ui, fyngekap
½ teelepel sout
½ teelepel gemaalde borrie
½ teelepel gemaalde kardemom
½ teelepel gemaalde komyn
1 vars rissie, fyngekap
½ koppie gaar kekerertjies of boontjies
1 blik klappermelk
1 koppie aftreksel
3 stukkies suurlemoenskil
2 koppies oorskiet gaar groente
½ koppie geroosterde grondboontjies, gekap
vars suurlemoensap
vars koljander en warm rys vir opdiening

Verhit 'n groot, swaarboom-braaipan. Voeg die olie, ui en sout by en kook tot sag, 5–10 minute.
Voeg die speserye en rissie by. Sodra die speserye geurig is, voeg die kekerertjies, klappermelk, aftreksel en sitrusskil by. Kook oor lae hitte en roer af en toe vir ongeveer 30 minute. Dit moet nie prut nie.
Voeg die groente en grondboontjies by en kook vir 15 minute oor lae hitte.
Proe vir sout en pas aan.
Voeg suurlemoensap by na smaak.
Garneer met koljander en bedien op warm rys.

4/02/2026

’n Groente sabzi

Sabzi verwys na 'n wye verskeidenheid Suid-Asiatiese groente-geregte, gewoonlik kerries of roerbraaigeregte. Dit moet nie verwar word met die Irannese kruie-gebaseerde geregte nie.

3 olie
½ teelepel komynsaad
1 eetlepel fyngekapte knoffel
½ eetlepel gemaalde vars gemmer
1 ui, fyngekapv 1 vars groen rissie, fyngekap
½ teelepel sout
¼ teelepel gemaalde borrie
1 teelepel garam masala
½ teelepel gemaalde koljander
1 teelepel gemaalde brandrissie
'n knypie uiepoeier
3 koppies oorskiet gaar groente (pampoen, wortels, broccoli, blomkool, kool, eiervrug en groenbone is geskik hiervoor), in happiegrootte stukkies
1 blikkie ingemaakte tamaties, gekap
1 teelepel fenegriek blare
2 eetlepels gekapte koljander
Rys of brood vir opdiening

Verhit 'n groot, swaarboom-braaipan met die olie en komynsaad.
Sodra die saad begin sis voeg jy die knoffel en gemmer by, dan die ui, groen brandrissie en sout. Braai tot die ui begin sag word, ongeveer 2 minute.
Voeg dan die borrie, garam masala, koljander, gemaalde brandrissie en uiepoeier by.
Voeg die gaar groente by, dan die tamatie en fenegriek en kook tot die tamatie opgebreek het, ongeveer 5 minute. Voeg 'n bietjie water of olie by indien nodig.
Proe vir sout en pas aan. Voeg die koljander by en eet saam met warm rys of brood.

10/16/2024

Indiese viskerrie

Jy kan kerrie maak van enige vis, maar 'n sterk kerrie is veral geskik vir vis met donker vleis, soos tuna of ansjovis.

500 g visfilette, of klein skoongemaakte vissies
30 mℓ olie
8 kerrieblare
1 ui, fyn opgekap
2 knoffelhuisies, fyn opgekap
15 mℓ fyngekapte vars gemmer
15 mℓ fyngemaalde koljander
10 mℓ fyngemaalde komyn
2,5 mℓ fyngemaalde borrie
2,5 mℓ rissiepoeier
2,5 mℓ fyngemaalde fenegriek
500 mℓ kokosneutmelk
7,5 mℓ sout
suurlemoensap na smaak

Verhit die olie en braai die kerrieblare daarin tot dit net begin verbruin.
Voeg die ui, knoffel en gemmer by en braai tot die ui sag is.
Voeg al die kruie en speserye by en meng goed.
Voeg die kokosneutmelk en sout by en draai die hitte op hoog tot dit begin kook.
Prut onbedek vir 10 minute.
Plaas die vis in die sous. Skep van die sous oor die vis as dit nie ten volle bedek is nie.
Prut verder tot die vis gaar is.

Geur met suurlemoensap.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

7/31/2024

Paneer Makhani

Paneer Makhani is 'n heerlike, tradisionele Indiese gereg gemaak met blokkies kaas of groente gekook in 'n ryk en romerige tamatie-gebaseerde sous.
Die woord makhani beteken "botteragtig" en is afgelei van die woord makhan wat "tuisgemaakte botter" beteken. Hierdie gereg is die vegetariese weergawe van Murgh Makhani, wat algemeen buite Indië bekend staan as "Butter Chicken".
Hierdie weergawe is in ’n tradisionele Pundjab-styl – geen moderne bestanddele is gebruik nie. Jy kan ook groente in plaas van paneer gebruik. Paneer is moeilik om te bekom in Suid-Afrika. Jy kan ’n sagte hoe kwaliteit feta ook probeer – nie die sout blokke in supermarkte nie.

Jy het nodig:
200 g paneer, in blokkies gesny
250 g tamaties, gekap
3 eetlepels room
2 eetlepels botter
1 lourierblaar
1 teelepel van gemengde fyngedrukte gemmer en knoffel
½ teelepel rissiepoeier
3 groen rissies, opgesny
¼ teelepel Garam Masala
½ teelepel suiker
’n duim vars gemmer, fyn opgesny
½ teelepel gedroogde fenegriek
1½ koppie water
Sout na smaak

Maak die tamaties fyn in ’n voedselverwerker.
Smelt die botter in ’n pan en voeg dan die lourierblaar en knoffel-mengsel by. Sauté dit vir ’n paar sekondes.
Voeg die tamatie, rissiepoeier en garam masala by en hou aan sauté tot die vet om die tamatie begin lê.
Indien jy groente gebruik voeg jy dit op hierdie punt by. Dit moet prut tot die groente sag is.
Gooi die water by, meng en laat dit prut. Die sous moet begin verdik.
Dan voeg jy die gemmer ’n rissies by. Laat dit prut vir 1 minuut.
Proe vir sout en geur na smaak.
Voeg die fenegriek en suiker en roer.
Voeg nou die paneer by. Roer dit versigtig.
Die paneer moet geensins kook nie, anders raak dit hard en taai.
Roer nou die room versigtig by.
Bedien met roti, naan of rys.

1/01/2020

Tikka-hoendervlerkies / Tikka Chicken Wings

1,5 kg hoendervlerkies
Sout en varsgemaalde peper
3 eetlepels tikka masala
1 eetlepel borrie
¼ koppie groente-olie

Plaas die hoendervlerkies in ’n groot bak en geur.

Meng die masala, borrie en olie.
Vryf die vlerkies daarmee in en marineer vir 1 uur.

Braai die vlerkies vir 50 minute oor medium-warm kle tot die vel bros en effens geskrei is. Draai gereeld om.

Sit die vlerkies voor saam met wiggies suurlemoen.

Die hoender is genoeg vir 6 persone.

10/30/2017

Botterskorsie-kerrie

3 eetlepels olyfolie
500 g botterskorsie, in blokkies gesny
’n fyngekapte rissie
50 g kerrie-smeer
400 g klappermelk
500 mℓ groente-aftreksel
400 g kekerertjies
½ teelepel gemaalde koljander
100 g feta, verkrummel
’n skeut lemmetjiesap
Vars fyngekapte koljander

Plaas die botterskorsie op ’n gesmeerde bakplaat en drup 2 eetlepels olyfolie oor.
Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Plaas in ’n 200°C-oond vir 30 minute. Draai die botterskorsie so nou en dan om.

Braai die rissie vir 1 minuut in 1 eetlepel olyfolie en roer dan dadelik die koljander en kekerertjies by. Hou eenkant.

Verhit die smeer, melk en aftreksel saam in ’n kastrol. Prut dit vir 10 minute tot die sous begin verdik en afgekook het.
Voeg die botterskorsie en kekerertjies by en prut dit oor lae hitte vir 5 minute, of tot alles goed warm is.
Geur met ’n skeut lemmetjiesap en proe vir sout en peper.
Garneer met die vars koljander.

Bedien die kerrie saam met gekookte brokkoli en basmati rys.

4/18/2014

Tandoori masala hoender

8 hoenderboudjies of hoenderborsies of hoenderdytjies, met die vel verwyder en fyn snytjies in die hoender gemaak met ’n skerp mes
knippie sout
die sap van ’n suurlemoen
2 cm vars gemmer, geskil en gerasper
6 knoffelhuisies, fyngedruk
2 rissies, ontpit en fyngekap
10 mℓ garam masala
60 mℓ Griekse jogurt
30 g botter

Plaas die hoender in ’n bak en sprinkel die suurlemoensap oor, gevolg deur die sout, gemmer, knoffel, rissies en die masala. Vryf die kruie in die hoender tot dit goed bedek is. Meng dit nou met die jogurt.
Sit die bak se deksel op en laat dit in die yskas staan vir ten minste 4 uur lank.

Verhit jou oond tot 240°C en plaas die hoender op ’n bakpan in die oond. Dit moet vir 20 minute in die oond bly. Na 10 minute stip jy die hoender met die botter.


Laat die hoender vir ten minste 5 minute staan voor jy dit bedien. Bedien saam met ’n salsa en brood of rys en ekstra jogurt.

3/04/2014

Lamtjops, gekook en gebraai in 'n degie

Indien jy iets oorspronklik met jou lamtjops wil doen, probeer hierdie Indiese resep – genoeg vir 4 persone.

8 klein lam tjops
375 mℓ melk
125 mℓ water
5 mℓ sout
8 kardemomsade, gekneus
8 naeltjies
klein stokkie kaneel
12 swartpeper korrels
80 mℓ kekerertjiemeel
5 mℓ gemaalde koljander
2,5 mℓ sout
'n knypie gemaalde kardemom
'n knypie gemaalde rissiepoeier
'n knypie gemaalde kaneel
'n knypie gemaalde naeltjies
'n knypie gemaalde neutmuskaat
'n knypie gemaalde borrie
80 mℓ water
10 mℓ gesmelte botter
olie om mee te braai



Plaas die tjops in 'n diep pan saam met die melk, 125 mℓ water, 5 mℓ sout, 8 kardemomsade, 8 naeltjies, klein stokkie kaneel en die swartpeper korrels. Bring dit tot kookpunt.
Stel die hitte laer en prut met 'n deksel op. Dit moet prut tot die vleis sag is en die vloeistof verdamp het.
Laat dit afkoel na die tyd.

Meng met die res van die bestanddele met 'n houtlepel tot jy 'n gladde mengsel het. Laat die mengsel vir ten minste 30 minute staan voor jy dit gebruik.

Verhit die olie. Doop die tjops in die deeg sodat dit 'n dun lagie oor het en braai dan aan beide kante tot dit goudbruin is. Dreineer op kombuispapier.

Bedien die tjops warm saam met brood en groente.
(foto Stuart Webster)

7/18/2013

Noord-Indiese kerrie

700 g skoongemaakte hoenderborsies, jy kan ook blokkies vleis gebruik inplaas van hoender
2 uie, in blokkies gesny
4 knoffelhuisies, gerasper
5 cm gemmer, gerasper
olie om mee te braai
'n klein blikkie tamatiepasta
1 blikkie geskilde tamaties
6 tamaties, opgekap
'n knippie suiker
sout en peper na smaak
30 mℓ kerriepoeier

Maak fyn snytjies in die hoenderborsies en braai dit dan bruin in olie in 'n kastrol. Die hoenderborsies moet nie gaar wees nie. Sny dit dan in repe en hou eenkant.

Braai die uie, knoffel en gemmer in olie tot sag in dieselfde kastrol.
Roer die kerriepoeier by.
Nou voeg jy al die verskillende tamatie by. Jy kan ook bietjie water byvoeg as jy dit meer souserig wil hê.
Laat dit 'n bietjie kook tot die sous lyk of dit wil begin verdik. Geur met die suiker, sout en peper.
Voeg nou die hoender by en prut tot die vleis gaar is.

Bedien op basmati saam met sambals.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

4/20/2013

Aartappel puri / poori

Die resep is genoeg vir sowat 20 puri’s.

250 g fyngemaakte aartappels, eers gekook natuurlik
500 mℓ meel
10 mℓ sout
60 mℓ louwarm water
olie, vir diepbraai

Sif die meel en sout saam en meng dit met die aartappel wanneer dit afgekoel is.
Knie en voeg van die water by soos nodig. Dit moet 'n droë ferm deeg vorm. Hoe meer die deeg geknie word, hoe ligter sal die puri’s wees. Knie die deeg vir ten minste 10 minute.
Bedek die deeg met 'n doek en laat staan dit vir 30 minute tot 'n uur.

Deel die deeg in 20 tot 24 balle.
Rol elke bal uit tot dit so groot soos 'n piering is.
Diepbraai die brode in olie. Braai een op 'n slag. Sorg dat die puri bo-op nat is; dit laat dit oppof. Draai die puri om wanneer die onderkant goudbruin is.
Dreineer die puri’s op kombuispapier.
Bedien die aartappel puri’s saam met lensies, groente of kerrie.



(foto Abhijith Rao)

3/18/2013

Kachori

'n Kachori is 'n puri met 'n vulsel. Jy volg die resep vir puri’s en laat die deeg dan rus vir so 15 minute.

Jy kan 18 balle deeg kry uit die puri resep. Rol elke bal so plat as moontlik, maar nie te dun sodat die deeg breek met die vulsel nie.

Plaas 'n bietjie kerrie in die middel van elke sirkel. Vou die kante na bo en druk dit vas.

Braai die kachori’s in olie in 'n pan.

3/10/2013

Puri [poe-rie]

Hierdie Indiese brood is chapatis wat diepgebraai word.

Berei die deeg voor soos vir chapatis.

Verhit nou olie wat 2,5 cm diep in die pot lê.
Skep die olie oor die puri terwyl dit braai. Dit behoort op te pof.
Draai dit om en doen dieselfde aan die ander kant. Dit moet braai tot dit amper goudbruin wil raak.

Bedien die puri dadelik saam met kerrie.



(foto Bryan Alexander)

3/04/2013

Indiese lam met rys

Vir hierdie gereg gaan ons 2 resepte gebruik van kookkuns.com. Die gereg is genoeg vir 6 persone.

Berei die lam voor soos in die resep vir lam korma. Kook 1 kg lam.

Kook rys in aftreksel.

Week 1 mℓ saffraan in 200 mℓ warm melk vir 'n paar minute.
Roer dan 30 mℓ rooswater by die melk.

Smeer 'n oondskottel en maak lae met die lam en die rys. Sprinkel die melkmengsel oor elke laag rys. Eindig met 'n laag rys.
Plaas die skottel se deksel op.

Bak in 'n 150°C oond vir 30 minute.

Garneer die gereg met die volgende voor jy dit bedien:
1 komkommer, in dun skywe gesny
3 tamaties, in skywe gesny
1 ui, in skywe gesny
2 rissies, ontpit en in dun repies gesny
3 hardgekookte eiers, in kwarte gesny
50 mℓ gevlokte stukkies amandel, verbruin in 'n pan

12/06/2012

Indiese rys met lensies / Kitchri

250 mℓ rys
250 mℓ rooi lensies
40 mℓ botter
2 uie, fyn opgesny
875 mℓ warm water
12 mℓ sout
7 mℓ garam masala

Spoel die rys en lensies af.

Verhit die botter in jou ryspot en braai die uie tot dit begin goudbruin raak. Verwyder die helfte van die uie en hou dit vir garnering.
Voeg die rys en lensies by en braai vir 3 minute terwyl jy aanhoudend roer.
Voeg die water, sout en garam masala by. Bring tot kookpunt, bedek en prut oor lae hitte vir 25 minute of tot die rys en lensies sag is. Moet nie die deksel oplig terwyl dit prut nie.

Garneer met die uie en bedien warm.

Die resep is genoeg vir 6 persone.

11/15/2011

Chana Punjabi

Chana Punjabi is 'n eenvoudige, maar heerlike Indiese gereg. Die geheim van die resep is die geurmiddels en 'n rustige kookproses.

15 ml olie
1 ui, opgekap
10 ml fyngekapte knoffel
5 ml fyngekapte gemmer
1 opgekapte rissie (birdseye)
'n blikke gekapte tamaties
5 ml paprika
5 ml sout
5 ml gemaalde koljander
2 ml garam masala
2 ml borrie
5 ml suurlemoensap
2 blikkies kekerertjies (chickpeas)
30 ml fyngekapte koljander

Verhit die olie in 'n kastrol en braai die uie liggies vir 5 minute.
Voeg die knoffel, gemmer en rissie by en braai vir 3 minute.
Voeg die tamaties en 60 ml water by, plaas die deksel op en laat vir 5 minute kook teen dieselfde hitte.
Voeg die paprika, sout, gemaalde koljander, garam masala, borrie, suurlemoensap en kekerertjies by. Meng goed en bring tot kookpunt.
Draai nou die hitte af tot op die laagste. Plaas die deksel op en kook tot die kekerertjies baie sag is; vir ten minste 45 minute. Roer af en toe. Voeg water by indien dit droog kook.
Die sous moet lekker dik wees. Indien dit waterig is moet jy die deksel afhaal en dit 'n bietjie afkook.
Roer die vars koljander by net voor jy dit bedien.

Bedien dit op rys of fyngemaakte patats. Indien dit te veel brand na jou sin kan jy dit saam met gewone jogurt bedien.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

5/14/2011

Mulligatawny

Mulligatawny is ’n Indiese sop en die naam beteken letterlik peperwater.

Begin deur 4 appels, 4 uie, 4 knoffelhuisies en ’n rissie fyn op te sny en in 50 g botter te smoor saam met 30 mℓ kerriepoeier.

Jy het ’n hele hoender nodig wat in stukke gesny is. Kook dit in 2 liter water saam met die bogenoemde groente. Kook tot die hoender baie sag is - ten minste vir 2 ure. Voeg swartgemaalde swartpeper by en proe vir sout.

Verwyder alle bene en vel uit die sop, roer 5 ml suurlemoensap by en plaas terug op die hitte tot die sop weer warm is.

Jy kan rys saam met dit bedien vir ’n hoofgereg.

9/08/2010

Meng jou eie masala

Masala beteken letterlik speserymengsel. Daar is verskeie variasies van die kruiemengsel wat normaalweg vir kerrie gebruik word.
Jy kan jou eie mengsels maak met ’n voedselverwerker (of stamper en vysel).

Vir gewone masala benodig jy:
120 g borrie
100 g komynsaad
60 g fenegriek
120 g koljandersaad
15 g mosterdsaad
30 g vars gemmer
5 wit peperkorrels
1 gedroogde rissie
Maak alles fyn in ’n voedselverwerker en bewaar in ’n lugdigte houer.

Vir die sterker garam masala gebruik jy:
1 ¼ koppie komynsaad
¾ koppie kolandersaad
20 mℓ kardemomsaad
15 mℓ heel naeltjies
2 x 3 cm stukke pypkaneel
30 mℓ heel swart peperkorrels
5 lourierblare
knypie neutmuskaat
Maak net soos gewone masala.

7/07/2010

Masala / Kerriepoeier

Jy kan jou eie kerriepoeier maak en aanpas soos dit jou smaak geval. Jy het nodig:

120 g borrie
100 g komynsaad
60 g fenegriek
120 g koljandersaad
15 g mosterdsaad
30 g vars gemmer
5 swartpeperkorrels
1 gedroogde rooi rissie

Verwerk al die bestanddele tot fyn in 'n voedselverwerker.

Stoor in 'n lugdigte houer in 'n koel, droë plek.