Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Nederlands. Show all posts
Showing posts with label Nederlands. Show all posts

5/27/2026

Hollandse ertjiesop

Die sop is geurig en besonders ryk in voedingswaarde.

BESTANDDELE
250 g groen split-ertjies
500 g beesskenkel of varkpootjie
2 liter koue water
2 groot selderystingels met blare, grof gekap
1 ui, grof gekap
1 prei, in ringe gesny
2 groot wortels, in ringe gesny
2 groot aartappels, in kwarte opgesny
125 g swoerdlose spekrepies (±6)
50 ml koekmeelblom
500 ml water of melk
5 ml biefekstrakpoeier
2,5 ml sout
30 ml gekapte pietersielie
1 - 2 gerookte kontinentale worse (opsioneel), byvoorbeeld 1 Hollandse kookwors of 2 Frankfurters
sout en wit / vars gemaalde swart peper
'n bietjie ekstra water om te verdun (opsioneel)

STAPPE
Plaas die ertjies, vleisbene en 1 liter van die water in 'n groot kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte, bedek gedeeltelik en prut stadig vir ongeveer 1 ½ uur of totdat die vleis en ertjies heeltemal sag is. Laar 'n rukkie afkoel.

Plaas intussen die oorblywende water in a kastrol saam met die seldery, ui, prei, wortels en aartappels en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte, bedek en prut totdat die groente heeltemal sag is, Laat 'n rukkie afkoel.

Lig die vleisbene met 'n dreineerlepel uit die eerste kastrol en plaas die ertjies en vloeistof in die bak van 'n voedselverwerker. Versap tot glad en giet die puree terug in die kastrol.

Plaas 'n sif oor die kastrol en giet die groente en vloeistof daardeur. Plaas die groente in die bak van 'n voedselverwerker en versap to glad. Voeg by die kastrol met die ertjiepuree en vloeistof.

Verwyder die vleis van die bene, doen weg met die vet en bene en sny die vleis in klein stukkies, Voeg die vleis by die kastrol.

Kap die spek grof en braai in 'n aparte kastrol tot gaar maar nog nie bros nie. Roer die meelblom en water of melk by en bring tot kookpunt terwyl met 'n ballon draadklitser geroer word om 'n gladde verdikte sous te verkry. Voeg die sous by die sop.

Roer die mengsel tot egalig vermeng en voeg die biefekstrakpoeier, sout, pietersielie en gerookte wors by en prut stadig vir 15 minute lank. Pas die geurmiddels aan en voeg nog 'n bietjie water by om die sop te verdun indien nodig.

Haal die wors uit en sny in skyfies by die sop te voeg of bedien apart indien verkies. Bedien stomend warm met warm roosterbrood en botter, volgraan-en-rogmeelbrood of broodrolletjies, tuisgemaak of gekoop.

Bedien 10 tot 12 persone.

Berging
Indien die sop slegs met water gemaak is kan dit tot 'n week lank in die yskas bewaar word. As melk bygevoeg is, verkoel die sop vinnig en hou nie langer as 3 dae in die yskas nie want die sop mag suur word.

Bevriesing
Die sop vries baie goed, tot 'n maand lank. Laat oornag in die yskas ontdooi of ontdooi in die mikrogolfoond. Verhit stadig bo-op die stoof terwyl af en toe geroer word of in die mikrogolfoond op medium tot stomend warm.

Variasie
Vegetariese split-ertjiesop

Om 'n heerlike vegetariese ertjiesop te maak, laat die vleisbene en wors weg en vervang die biefekstrakpoeier deur groente-ekstrakpoeier om the verseker dat die sop geurryk en bevredigend sal wees.


Jy sal hierdie resep kry in Art of Cooking.

Die boek kan bestel word by caroliedekoster@gmail.com.

resep: Carolie de Koster & Art of Cooking

5/04/2020

Blinde vink / Blinde vinken / Beef Olive

8 dun snye kalfsvleis
Sout
2 eiers, geskei
2 snye droë witbrood, verkrummel
120 g gemaalde kalfsvleis
½ teelepel witpeper
½ teelepel swartpeper
¼ teelepel neutmuskaat
2 eetlepels suurlemoensap
1 koppie broodkrummels
4 eetlepels botter
8 skywe suurlemoen
Pietersielie

Strooi sout oor die snye kalfsvleis en laat staan in die yskas vir ten minste 15 minute.

Klits die eiergele en week die brood daarin.

Meng die brood, maalvleis, peper, neutmuskaat en suurlemoensap.
Verdeel die mengsel in 8 en smeer op die skywe kalfsvleis.
Rol die skywe op en steek vas met ’n tandestokkie.
Klits die eierwitte saam met ’n bietjie water. Smeer die rolletjies kalfsvleis daarmee.
Strooi broodkrummels oor elke rolletjie.
Verhit die botter in ’n pan. Verbruin die rolletjies in die botter. Maak seker dit is reg rondom gebraai. Hou eenkant.

Wanneer al die rolletjies gebruik is gooi jy bietjie water in die pan.
Plaas die rolletjies terug in die pan en dan die suurlemoenskywe. Jy sal dalk eers nog bietjie botter in die pan moet smelt.
Stel die hitte laer en prut bedek vir 40 minute. Loer net na die vloeistof in die pan so af en toe. Gooi nog bietjie water by indien nodig ... of witwyn.

Wanneer die blinde vinke gereed is haal jy dit uit die pan, verwyder die tandestokkies, gooi die pansappe oor die vinke en garneer met gekapte pietersielie.


12/01/2011

Spekulaas

Spekulaas is ’n tradisionele Nederlandse koekie. Dit word op 6 Desember tydens die Fees van Sint Nikolaas geëet.

100 g botter, by kamertemperatuur
150 mℓ suiker
1 eier
gerasperde skil van ½ suurlemoen
480 mℓ koekmeel
5 mℓ bakpoeier
knippie sout
5 mℓ gemaalde kaneel
2 mℓ gemaalde neutmuskaat
2 mℓ gemaalde naeltjies
1 mℓ kardemom
1 mℓ witpeper
1 mℓ gemaalde gemmer
125 mℓ amandels, fyngekap

Room die botter en suiker saam.
Voeg die eier en skil by en klits goed.

Sif die meel, bakpoeier, sout en speserye saam.
Voeg die helfte van die meelmengsel en amandels by die bottermengsel. Meng goed.
Voeg geleidelik die res van die meelmengsel by en knie tot dit ’n stywe deeg vorm.
Draai die deeg in kleefplastiek toe en plaas vir 4 uur in die yskas.

Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot dit 6 mm dik is. Druk uit met ’n koekiedrukker en plaas dit op ’n gesmeerde bakplaat, tensy jy natuurlik so gelukkig is om spekulaasvorms (sien foto) te besit wat jy met die deeg kan uitvoer. Bak vir 15 minute by 200ºC tot goudbruin.

Laat die koekies op die bakplate afkoel voor jy dit op ’n draadrak uitkeer.

8/28/2011

Hollandse koekies

300 mℓ botter
300 mℓ suiker
420 mℓ meel
1 eier, geklits
5 mℓ bakpoeier
5 mℓ vanilla geursel
1 eierwit, net effens geklits
suiker

Verroom die botter en suiker saam.

Roer die vanilla by.

Sif die meel en bakpoeier by die mengsel.

Meng die geklitste eier by en knie.

Rol die deeg in klein slangetjies en rol elke slangetjie op om ’n plat, ronde koekie te vorm.
Doop die koekie in die eierwit en dan in suiker.

Pak uit op ’n bakplaat en bak by 180ºC tot gaar.

6/21/2010

Hollandse Poffertjies

250 g koekmeel
300 ml louwarm melk
1 eier, effens geklits
4 g kitsgis
knippie sout
75 g gesmelte botter

Meng en sif die meel.
Meng kitsgis en sout eweredig by.
Voeg melk en eier by en roer tot gemeng.
Bedek en laat rys in warm plek.

Verhit ‘n poffertjiepan en verf bietjie botter in elke holte.
Vul elke holte halfpad met deeg.
Wanneer die deeg gaar is teen die kante en nog
rou in die middel, moet dit omgedraai word.
In geheel bak dit omtrent klaar in twee en ‘n half minute.
Verf met botter as dit gaar is en sif versiersuiker oor.

Bedien met stroop, room, aarbeie of enige ander lekker sous of
bolaag.

8/19/2008

Ouma Grietjie se Hollandse botterkoekies

150 g sagte egte botter
100 g strooisuiker
200 g koekmeel

Meng bestanddele en maak bolletjies wat jy moet platduk met 'n vurk.
Bak in 180 grade oond vir ongeveer 15 - 20 minute - of totdat ligbruin.

resep: Linda Malherbe

7/28/2008

Lan se lekker hoender

Hierdie resep het ek gekry toe ek in Holland au-pair was. My familie en vriende kan nie genoeg daarvan kry nie en ek moet dit gereeld vir almal maak.

4 hoender fillets, in repies gesny
1 ui, opgekerf
1 houertjie suurroom
1 blik pynappelstukke, sap afgegooi
1 tl borrie
1 eetlepel kerrie
sout & peper na smaak
'n bietjie olie vir braai

Braai ui, voeg hoender by en verbruin. Voeg borrie, kerrie, sout & peper by. Braai vir 5 minute. Voeg pynappel by, kook 5 minute. Verlaag hitte en voeg suurroom by, kook vir 5 minute.
Soms as die sous te dun is verdik ek dit net met Maizina.
Bedien saam met rys.

bydrae: Yolandie Krahenbuhl

7/18/2008

Advokaat / Advocaat


Daar was 'n tyd toe geen Suid-Afrikaanse drankkabinet (onthou jy hulle?) sonder 'n bottel Advokaat was nie. Hierdie likeur het sy oorsprong in Nederland.

Vir 250 ml Advokaat het jy nodig:

6 eiergele
200 g suiker
2 ml vanillageursel
250 ml brandewyn

Klits die eiergeel, suiker en vanillageursel saam tot dit lekker dik is.
Klits nog terwyl jy die brandewyn stadig byvoeg. Hou aan klits tot dit 'n romerige tekstuur ontwikkel.

Bedien koud.
(foto R. Tobias)