Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Inlê. Show all posts
Showing posts with label Inlê. Show all posts

3/04/2026

Korrelkonfyt

Jy gaan twee dae nodig hê vir korrelkonfyt.

Gebruik vars, ryp hanepootkorrels. Jy het sowat 2 kg korrels nodig.
Maak ’n klein snytjie aan die stingelkant van elke korrel.
Plaas die korrels in ’n groot kastrol en gooi 1,5 kg suiker oor. Spat die laag suiker effens nat.
Laat dit oornag staan.

Die volgende oggend bring jy die konfyt stadig tot kookpunt met die deksel op.
Haal die deksel nou af en kook baie vinnig. Skep die skuim gereeld af.
Kook tot die stroop die verlangde dikte is.
Voeg 5 mℓ suurlemoensap by om versuikering te voorkom.

Haal die pot van die stoof af en roer vinnig sodat die pitte na bo kom en uitgeskep kan word.

Verseël die konfyt in gesteriliseerde flesse en laat staan om koud te word.
Sny stukkies ronde waspapier om bo-op te pas. Doop die papier eers in brandewyn voor jy dit bo-op plaas en dan die deksel toeskroef.

2/25/2026

Druiwekonfyt / Druiwe konfyt

Die basiese manier van konfyt kook is amper dieselfde vir alle vrugte. Ons gebruik druiwe hier as voorbeeld.

BESTANDDELE
1 kg druiwe
75 ml water
500 g suiker
20 ml suurlemoensap

STAPPE
Voeg die druiwe en water in ´n kastrol en kook tot die druiwe sag is. Verwyder van hitte. Voeg suiker en suurlemoensap by en begin weer stadig verhit tot die suiker gesmelt het. Kook dan vinnig tot dit stol. Verwyder enige skuim bo-op die konfyt. Bottel warm en seël dadelik.

2/04/2026

Ingelegde kerrie perskes / Preserved curried peaches

2 kg perskes, geskil en in helftes gesny
1 kg uie, fyn opgesny
750 mℓ asyn
8 lemoenblare
1 teelepel gemaalde koljander
1 koppie suiker
2 eetlepels kerrie
20 naeltjies
1 teelepel sout

Kook die uie in water tot dit begin sag raak.
Gooi die water af en gooi die res van die bestanddele by.
Kook tot die perskes sag is.

Bottel dit warm.

12/11/2025

Gedroogde vrugte / Dried fruit

Gebruik altyd die beste vrugte wat nie oorryp is nie. Bewerk die vrugte onmiddelik nadat dit gepluk is. Die vrug kan geskil of ongeskil wees voor jy dit ontpit, dit kan ook gekerf word.

Behandel nou met sout- of askorbiensuur. Met sout kan die vrugte in soutwater gedompel word. Gebruik 150 g sout in 5 liter water. Moenie meer as 15 minute in die water hou nie. Vir askorbiensuur moet jy 10 ml daarvan meng en dit oor die vrugte sprinkel. Maak die konsentrasie bietjie sterker wanneer jy appels gebruik. Dit help om verkleuring te voorkom.

Blansjeer nou die vrugte deur dit te kook of te stoom. Dit help om die kleur en nutriëne te bewaar en voorkom klein barsies in vrugte. Sit vrugte in kaasdoek en laat sak in kokende water. Kook vir 5 minute en haal uit diewater. Gooi yswater oor.

Die volgende stap is om dit met *swawel te berook om verbruining te keer, skadelike swamme te dood en dit versnel ook die droogproses. Sit die vrugte in 'n kartondoos met gaaitjies onder in om lug deur te laat. 'n Bietjies lug is nodig anders sal die swawel nie brand nie. As 'n mens blomswawel daaroor strooi sal die swawel mooi uitbrand. Gebruik 500 g - 1,5 kg swawel per 3 m³ruimte. Appelkose het egter 750 g swawel nodig, perskes 1 kg en pere 1,5kg of meer.

Pak nou die vrugte uit op draadrakkies. Dit mag nie in die swawelboks gelaat word nie.
Die beste manier vir my is om die vrugte op draadrakke uit te pak, 'n houtboks met swawel onder in te skuif en die swawel aan die brand te steek. Sit 'n deksel op en maak styf toe en laat vrugte 2 - 3 uur lank in die dampe bly.

* Swawel word algemeen gebruik as 'n preserveermiddel, maar dit moet nie buite rekening gelaat word dat dit allergiese reaksies by baie mense veroorsaak nie. Dit word aanbeveel dat 'n veiliger alternatief gesoek word. Laat weet asseblief indien u enige voorstelle het.

bydrae: Petro van der Westhuizen

12/04/2025

Hoe om jou eie appelkose te droog

Jy kan kies tussen die son en die oond.

Son
Halveer en ontpit ryp appelkose.
Swawel dit 5 uur lank.
Pak die vrugte op oop stellasies in die son en laat uitdroog.
Draai dit af en toe om.
Moet dit nie snags of as dit reën buite los nie.

Oond
Blansjeer, halveer en ontpit ryp appelkose.
Plaas dit op bakplate en droog dit 6 uur lank in die oond by 60 gradeC.

Om te gebruik week jy 500 g droë appelkose oornag in 1,25 liter water.

4/05/2024

Kaapse kerrievis

Hierdie is 'n resep wat gewild is in die Kaapse Maleiergemeenskap.


2 kg ferm visfilette (verkieslik geelstert of kabeljou)
sout en varsgemaalde witpeper

Kerriesous:
125 ml olie
3 uie, dun gesny
200 ml bruinasyn
20 ml suiker
5 ml borrie
10 ml kerrie
5 ml rissiepoeier
5 lourierblare
sout

Geur die vis met die sout en peper.

Verhit die olie in 'n pan en braai die vis vir 5 minute aan 'n kant.
Verwyder die vis uit die olie en dreineer om handdoekpapier.

Kook die uie, asyn, suiker en speserye saam in 'n souspan vir 10 minute.
Geur met sout na smaak.
Plaas die vis in 'n bak en gooi die sous oor. Sorg dat die sous die vis bedek.
Plaas 'n deksel op die bak en bêre in die yskas vir ten minste 'n dag voor jy dit gebruik.


(die Kaapse kerrievis resep is genoeg vir 6 persone)

12/27/2023

Appelkooskonfyt / Apricot Jam

Ontpit die appelkose die vorige dag en laat vir ± 5 uur in sout water lê, 1kg appelkose 1 opgehoopte teelepel sout.
Spoel af en gooi suiker bo-oor, 1kg appelkose - ¾ koppie suiker
Laat staan oornag. MOET geen water bygooi!
Sit in mikrogolf bak en op ¾ hitte kook jy dit vir 10 minute. Roer na 5 minute.
Laat rus vir ½ uur en herhaal. Die konfyt behoort nou reg te wees maar indien nie kan nog bietjie gekook word. Dit moet onbedek kook.
Voorstel - Bruinsuiker kan gebruik word asook wit maar ek gebruik die suiker TYTE LYLE (R14.99) dit het reeds pektien in en maak die konfyt lekker. (Dit is te kry by groot afdelingswinkels.
Indien nie moontlik, neem suurlemoenpitte en laat week 'n paar uur in 'n bietjie water. Voeg die water by appelkose plus bietjie suurlemoensap. Hierdie suiker en of suurlemoen kan met enige konfyt gebruik word en op dieselfde manier gekook word.


Resep: Petro van der Westhuizen

8/04/2021

Kweperkonfyt / Quince Jam

4 kwepers, vryf die donse af en rasper die kwepers met skil en al
1500 mℓ suiker
500 mℓ water

Gooi die suiker en water in ’n groot kastrol. Bring tot kookpunt terwyl jy aanhoudend roer. Die suiker moet oplos voor die water kook.

Voeg die kwepers by wanneer die stroop begin kook.
Meng goed en laat dit oop kook vir 30 minute. Roer af en toe.

Bottel warm in gesteriliseerde flesse.


5/19/2021

Kweper-, komkommer- en uiesambal

Skil en rasper die groente en vrug.
Geur met ’n knypie sout, suiker, asyn en fyngekapte rissie by.

4/14/2021

Nartjie-marmelade

18 vasteskil-nartjies
6 suurlemoene
2,8 liter water
1,4 kg suiker

Sny die vrugte middeldeur en druk die sap uit.
Verwyder die vrugte se middelste vliesies en pitte.
Plaas die vliesies en pitte in 280 mℓ water om te week.

Snipper die vrugte se skille baie fyn.
Plaas dit saam met die orige water en vrugtesap in ’n houer om oornag te week.

Dreineer die volgende dag die water van die pitte en vliese. Gooi die water by die sapmengsel. Kook dit in ’n konfytkastrol vir 1 uur.

Voeg die suiker by en verlaag die hitte. Kook stadig tot die suiker opgelos het.
Kook dan vinnig tot die marmelade begin stol.
Skep nou die skuim af en skep dan in warm, droë flesse.
Plaas ’n waspapier-sirkel op elke fles en bedek met ’n groot sellofaan-sirkel. Maak dit vas met ’n rekkie of toutjie. Plaas die deksel op en bêre in ’n koel, droë plek.

4/07/2017

Ingelegde geelbek / Curried fish

Die beste vis vir hierdie resep is geelbek of kabeljou, maar jy kan enige vis met ferm vleis gebruik.

4 kg vis, in skywe van ongeveer 25 mm gesny
2 eetlepels sout
6 uie, in ringe gesny
2 lourierblare
2 rissies
½ koppie kerrie
1 teelepel borrie
2 eetlepels suiker
12 peperkorrels
6 koppies asyn

Strooi die sout oor die vis en laat staan dit so vir ’n paar uur.

Braai of stoom die vis tot gaar.

Kook die res van die bestanddele saam.
Terwyl dit warm is pak jy laag op laag vis en kerriemengsel in ’n erdepot. Maak die pot styf toe.
Laat dit staan vir ten minste 24 uur voor jy dit gebruik.

10/13/2016

Geurige tamatiekonfyt

Sny die stingelente van 1 kg tamaties af en kap dit grofweg.

Plaas dit in ’n middelslag pot met 180 mℓ bruinsuiker, 30 mℓ wit balsemiekasyn, 3 mℓ sout en 5 mℓ paprika en verhit dit tot kookpunt. Verlaag dan die hitte en laat prut dit vir 25 tot 30 minute tot dit ’n konfyttekstuur het. Bewaar dit in ’n gesteriliseerde fles.

2/19/2013

Tassal-vleis

Hierdie is 'n ou tradisionele manier om vleis te bewaar. Die biltongsnitte is veral geskik hiervoor, maar jy kan ook die rugstringsnit of beeshaas (steak) gebruik. Verder het jy sout, peper, koljander en asyn nodig. Die sout, peper en koljander moet liggies in die oond geskroei word.

Sny die vleis in lang stukke van ongeveer 7,5 cm dik. Strooi die speserye oor en sprinkel asyn oor.
Laat dit vir 'n dag lank so lê en dan hang jy dit op om droog te word.

Wanneer jy dit vleis wil braai week jy dit eers in water en vlek dit dan so wyd oop as moontlik.