Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Showing posts with label Koreaans. Show all posts
Showing posts with label Koreaans. Show all posts

1/22/2026

Gochujang tuna

’n Blikkie tuna het nog nooit so uitgeblink in ’n gereg nie. Hierdie variasie van tuna en mayonnaise kan net so geëet word saam met kropslaai of rys, as ’n doopsous bedien word of op ’n broodjie gesmeer word. Gebruik opgesnyde rou of ingelegde groente saam met die tuna soos dit jou smaak pas.

Gochujang is ’n pasta gemaak van rooi brandrissies, gefermenteerde sojabone, rys en sout. Dit is met rede ’n stapel van die Koreaanse kookkuns.

Meng gewoon twee teelepels gochujang saam met twee eetlepels mayonnaise voor jy dit saam met jou tuna meng. Op die dag het ek twee fyngesnyde, ingelegde uie bygesit en ’n paar druppels makadamia olie.

Geur met bietjie swartpeper.

4/16/2025

Maklike Bibimbap

Bibimbap het baie variasies. Meer as gereeld word elke komponent afsonderlik voorberei. Maar hier is 'n maklike manier om alles op een slag te vermag.

Totale tyd: 35 minute

Opbrengs: 4 porsies

BESTANDDELE
180 g oestersampioene, in happiegrootte stukke geskeur
4 wortels, geskrop en in dun repies gesny
1 klein rooi ui, in dun skywe gesny
3 koppies krulkool
6 eetlepels olyfolie
Sout en swartpeper
4 koppies gaar wit rys
4 groot eiers
1 teelepel sesamolie, vir bediening
4 teelepels gochujang, vir bediening
Kimchi, vir bediening (opsioneel)

STAPPE
Voorverhit die oond tot 230 grade Celsius en plaas rakke in die boonste en onderste derdes van die oond.

Plaas die sampioene, wortels, rooi ui en krulkool in vier aparte mengbakkies en verdeel die olyfolie tussen hulle. Geur met sout en peper en meng elke groente apart.

Plaas die groente op vier aparte dele van ’n groot bakplaat. Hou die verskillende soorte groente apart.

Rooster op die boonste oondrak totdat die wortel sag is, die ui en sampioene effens gekaramelliseer en die krulkool bros maar nie gebrand is nie, 20 tot 25 minute.

Plaas intussen nog 'n groot bakpan op die onderste rak om warm te word. Wanneer die groente amper gaar is, in die laaste 5 minute, verwyder die verhitte pan uit die oond en drup die oorblywende 3 eetlepels olyfolie eweredig oor. Smeer die rys oor die helfte van die pan. Breek die eiers op die ander helfte en sit dit versigtig terug in die oond. Bak totdat die witte net gestol is en die eiergele nog loperig is, 3 tot 6 minute (hierdie tyd kan verskil na gelang van jou oond, so hou dit mooi dop).

Om voor te sit, verdeel die rys eweredig tussen vier bakkies. Verdeel nou ook die groente eweredig en plaas dit in vier netjiese hope oor elke porsie rys. Gebruik 'n spatel om die eiers oor die groente te skuif. Bedruip elke bak met ’n druppel of twee sesamolie en skep 1 teelepel gochujang oor, voeg meer by indien verkies. Bedien met kimchi indien dit beskikbaar is.

Meng alles saam met 'n lepel of eetstokkies voor jy induik.

7/24/2024

Oi Muchin / Gemengde komkommerslaai

Oi Muchin is ’n Koreaanse instelling. Sodanig dat elke familie omtrent hul eie weergawe van hierdie komkommerslaai het. So is hierdie weergawe ook gebaseer op persoonlike smaak.

Jy het die volgende bestanddele nodig:
1 Engelse komkommer – in dun halwe skywe gesny
1 klein rooi ui – in fyn halwe skywe gesny
2 fyngedrukte knoffelhuisies
2 fyngekapte rissies, met pitte en al – of hoeveel jy ook kan hanteer
1 teelepel sesamolie – die Koreane gebruik gewoonlik meer, maar dit kan oorweldigend wees as jy nie gewoond is daaraan nie
2 eetlepels sojasous
2 teelepels geroosterde sesamsaad


Meng gewoon al die bestanddele saam en sit dadelik voor. Dit mag dalk water trek as jy dit te lank voor die tyd maak.

Hierdie resep is genoeg vir 4 persone as jy dit saam met ander geregte bedien.
Voorstel: Bedien met kluitjies (dumplings).

8/29/2015

Koreaanse hoender

30 mℓ grondboontjieolie
8 stukke hoender - verkieslik dye, skoongemaak en vel verwyder
10 knoffelhuisies, fyngekap
60 mℓ witasyn
50 mℓ sojasous
30 mℓ heuning
1 mℓ fyngemaalde gemmer
5 mℓ fyngekapte rissie

Meng die asyn, sojasous, heuning en gemmer en hou eenkant.

Verhit die olie in ’n pan en braai die hoender vir 10 minute.
Gooi die knoffel en rissie by en braai vir nog 3 minute.
Gooi die sous by, draai die hitte af tot laag en sit deksel op. Laat dit prut vir 15 minute.

Bedien saam met noedels en groente.