Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

9/01/2008

Tabasco

Frik Lombard

Wanneer ek aan Tabasco sous dink dan sien ek die advertensie waar hierdie Cowboy so op sy stoep sit en sy kos vol Tabasco sous gooi. ´n Arme muskiet kom sit dan op die cowboy en neem maar so ´n paar druppels bloed. Die muskiet vlieg weg en dan loer die muskiet so oor sy skouer. Net na die muskiet so klaar geloer het ontplof hy.

Dit is ´n baie treffende advertensie en ek glo baie mense ervaar Tabasco sous so. Maar daar is miljoene mense wat op ´n daaglikse basis die sous eet en geniet. Vir die wat nie van so ´n warm sous hou nie kan gerus hulle groen sous probeer. Dit is ´n baie sagter weergawe van die gewone rooi Tabasco sous. Die groen Tabasco hou net omtrent so ´n week in my huis.

Die storie van Tabasco begin baie vroeër. In 1850 bring ´n soldaat aan die bankier Edmund McIlhenny gedroogde rissies wat hy saam gebring het van Mexico. Die soldaat het gesê hy moet van dit probeer in sy kos. Edmund het daarvan gehou en het so ´n paar sade geneem en in sy vrou se tuin geplant in Avery Eiland.

In 1863 vlug Edmund en sy vrou na Mexico a.g.v. van die Amerikaanse burgeroorlog. Die soldate het Edmund se huis geplunder maar hulle het net die paar rissies gelos. In 1868 na hulle terugkeer begin Edmund ´n sous maak van die rissies. Die sous het bestaan uit Avery Eiland sout, gekapte rissies en asyn. Hy het die sous verpak en aan groothandelaars gestuur. Edmund het ook van die sous aan ´n sekere Generaal Hazard gegee om te probeer. (Ek wonder of die Generaal sy van gekry het voor hy die sous geëet het).

Natuurlik het Generaal Hazard se broer ´n groot afdelingswinkel in New York gehad, en hy het aan sy broer van die sous gestuur. Sy broer was gaande oor die sous en het dadelik van dit bestel. So het die beroemde McIlhenny sous die lig gesien. In 1870 patenteer Edmund sy sous. So begin sy sous stadigaan oor die wêreld versprei.

Wat verder beroemdheid aan die sous gegee het was ´n Amerikaanse kroegman in Parys wat die eerste Bloody Mary gemaak het. Natuurlik was daar in die Bloody Mary Tabasco Sous gewees. In 1929 wen Edmund ´n hofgeding waarin hy die alleen reg kry om die naam Tabasco te gebruik.

Die rissies word gepluk wanner hulle ´n sekere stadium van rypheid of rooi bereik. Dieselfde dag word die rissies gemaal en gemeng met Avery Eiland sout. Die mengsel word dan in hout balies geplaas waar dit fermenteer en dan verouder vir 3 jaar. Wanneer die mengsel reg is moet een van die McIlhenny familie dit goedkeur. Daarna word die mengsel met natuurlike asyn gemeng. Vir 4 weke lank word die mengsel op verskeie stadiums geroer. Die sous word dan deur siwwe gegooi om sodoende die pitte te verwyder. Hierna word dit gebottel en reg oor die wêreld versprei.

´n Andere nuttelose feit wat ek op afgekom het is dat daar nie minder as 720 druppels sous in ´n Tabasco bottel is nie. Warm of nie dit is ´n geurige sous wat saam met alle kos geniet kan word.

No comments :

Post a Comment