Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/12/2009

Wonderlike streekskosse en -wyn

Dit is wat Oudtshoorn bied wanneer die eerste Klein Karoo Klassique die naweek van 14 tot 16 Augustus op Oudtshoorn afskop. Dié fees, wat die kollig gaan laat val op klassieke musiek, beloof ook om elke liefhebber van goeie kos en wyn mee te voer met ’n verskeidenheid smaakervarings soos min.

Sjokolade en vonkelwyn, port en vlamgebraaide volstruis, kruiebrood en snoekfrikkadelle, slaphakskeentjies en malvapoeding beloof om dié naweek elke lekkerbek se voete skoon onder hom of haar uit te slaan!

Een van die hoogtepunte is ’n werksessie by ’n splinternuwe wynkelder in die Schoemanshoekvallei net buite Oudtshoorn, Karusa Vineyards. Hiertydens kan feesgangers die proses van vonkelwynmaak volgens die Franse metode stap vir stap volg en proe. Karusa stel ook by die werksessie (From Base to Bubbly to Karoo Classique) die eerste vonkelwyn bekend wat in die Klein Karoo geproduseer is.

By nog ’n wynkelder, Kango Wyne, kan feesgangers by die vertoning Sjokoladefees met ’n neus vir bypassende wyn proe-proe leer hoe om die plaaslik vervaardigde Belgiese sjokolade en wyn saam te gebruik.

Dié gewilde vertoning was tydens vanjaar se Klein Ka­roo Nasionale Kunstefees uitverkoop.

Die bekende glanskok Francois Frreira tree by twee geleenthede by Jemima’s Restaurant op. Saterdag bied hy in Classic Food, Classic Port and Port Cultivars ’n agtgang-proespyskaart aan saam met die pryswennerporte van Calitzdorp. Die Vrydagaand bied hy saam met Barrydale se Joubert-Tradauw Privaatwynkelder ook ’n besonderse kos-en-wynervaring aan.

Nog lekkereet wag by die Kolonie Restaurant - die Vrydagaand met ’n betowerende Kaaps-Maleisiese buffet met onder meer kerriemosselsop, snoekfrikkadelle, hoenderbreyani, bobotie, lamskerrie, groentesamoesas, tamatie-slaphakskeentjies, geelrys, koeksisters, malvapoeding én vyf wyne van De Krans Wynkelder. Die Saterdagaand is ’n tradisionele Karoo-buffet met vyf wyne van Boplaas Wynkelder op die spyskaart en kan gesmul word aan lekkernye soos boontjiesop, visbobotie, geroosterde Karoo-plaashoender, Springbokpastei, piekelkwepers, vlamgebraaide volstruis, Adamsvy-en-okkerneuttert, brandewynpoeding en bruinsuiker-pavlova.

By die Pomegranate Restaurant bied bobaas-chef Garth Bradfield immer gewilde buitelugkos - die Vrydagaand unieke potjiekoskombinasies en die Saterdagaand ’n bobaas-braaibuffet.

Een van die lekkerste kuierplekke die Saterdag is ’n plaasmark in Schoemanshoek. The Orchard Fine Foods is ’n plaasmark in ’n appelkoosboord, aan die voetheuwels van die Swartberge, met meer as 30 stalletjies wat met kos en kuns besoekers gaan be­koor. Toegang is boonop gratis. Hier wag topkwaliteit-deliprodukte, witblits, gourmet-worsbroodjies, Franse pannekoeke, Belgiese sjokolade, plaasontbyte, potjiekos, brode, en die klassieke musiekgroep Musica Romantica op besoekers. Donkiekarritte, perdry, ’n springkasteel en plaasdiere sal die kinders vermaak.

Ander gastronomiese geleenthede sluit in ’n piekniek by die familierestaurant Wilgewandel, ’n broodbakdemonstrasie saam met Turkse operamusiek en Montagu-muskadel deur Nettie Pikeur, rubriekskrywer van Die Burger, twee heerlike etes (Vrydag en Saterdagaand) by Die Neelsie in die Langenhoven Sentrum op die dorp en ’n portdemonstrasie by Boplaas Wynkelder in Calitzdorp, 55 km vanaf Oudtshoorn.

• Die Klein Karoo Klassique, fees van klassieke musiek, streekskos en wyn en visuele kuns, vind die naweek van 14 tot 16 Augustus op Oudtshoorn plaas. Kaartjies vir etes en werksessies is te koop by by Computicket en Checkers. Vir die volledige program besoek www.klassique.co.za. Vir verblyf kontak Groter Oudtshoorn Toerisme by tel 044 279 2532.

No comments :

Post a Comment