Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

4/22/2013

'n Nuwe waardering vir bier

Die 2013 Southyeaster Somerfees kon nie vir 'n beter dag gevra het nie. 'n Windstil, sonskyndag in April is nie te versmaai in Kaapstad die tyd van die jaar nie. Die somer in die fees se naam verwys na die seisoen waarin die bier op die fees gebrou is.


Southyeaster Somerfees 2013

Die Southyeaster fees is 'n geleentheid waarop brouers van handgemaakte bier se produkte beoordeel kan word. Die hoof pryse is die Wolfgang Beker vir die beste weiss, en 'n eerste, tweede en derde prys vir die beste bier.

Die Wolfgang Beker is vernoem na die legendariese meesterbrouer Wolfgang Knoedel. Knoedel was vir 14 jaar die meesterbrouer van die Paulaner Bräuhaus in Kaapstad. Hy is nou broumeester en mede-eienaar van die CBC (Cape Brewing Company). Knoedel se weiss bier is internasionaal bekend en hy is baie opgewonde oor sy nuwe Amber Weiss. As feesgangers se reaksie enige aanduiding was, gaan hierdie bier net weereens Knoedel se meesterskap bevestig. CBC se Krystal Wiess gaan ook 'n populêre keuse word. Jy kan die bier koop by uitgeskoekte drankwinkels en CBC se brouery in die Paarl.


Wolgang Knoedel se blik op verrigtinge

Professionele broumaatskappye soos CBC en Honingklip was by die fees ter ondersteuning van handgemaakte bier. SAB in Nuweland, Kaapstad, tree al die afgelope paar jaar op as gasheer vir die fees.


Mark ter Morhuizen van Honingklip

Die beste bier op die fees word beoordeel deur die kaartjiehouers. 'n Beperkte aantal kaartjies was beskikbaar teen R 80. Hiervoor ontvang jy 'n Southyeaster-glas en een stem in die vorm van 'n albaster. Jy plaas jou albaster in 'n spesiale bekertjie met die naam van jou gunsteling bier. Vroeër jare het proeërs meer as een stem ontvang, maar weens die toenemende gewildheid van handgemaakte bier word stemme tans beperk tot een per persoon.

Die toenemende gewildheid en stand van handgemaakte bier word weerspieël deur die Southyeaster. Vanjaar was daar merkbaar minder bier gemaak van klaar voorbereide kommersiële mengsels. Daar is ook 'n algemene verbetering in die aanbieding en verpakking van die produkte. Die feesgangers het hoofsaaklik bestaan uit 'n paar ouskool toegewyde bierdrinkers en 'n groot groep jongmense in hul twintigs.

Die Wolfgang Beker is verower deur Zebonkey se Poseidon. Die meesterbrouer van Zebonkey onderskryf die Duitse Reinheitsgebot. Hiervolgens beloof 'n brouer om slegs water, hops en gars te gebruik. Daar is egter geen reël oor die gebruik van seewater nie. Poseidon is gebrou met 10% seewater en die beoordelaars en verskeie feesgangers was beïndruk met hierdie weiss.


Zebonkey se meesterbrouer verduidelik

Die algehele derde plek het gegaan aan Timmerman Brouery se Dark Ale. Die mooi volronde donker bier, wat net die regte hoeveelheid fermentering ondergaan het, is sag op die palet, met die kenmerkende gemoute smaak van hierdie klas bier. Timmerman se bier het 'n uitstaande geroosterde aroma wat dit 'n baie goeie brown ale maak. Brown ale is 'n ander naam vir 'n dark ale. Timmerman Brouery kan uitsien na 'n opwindende toekoms met hierdie klas bier onder leiding van broumeester Johnny King, 'n distilleerder by 'n bekende handelsmerk vir brandewyn.


Timmerman se Johnny King, links

Tweede plek het gegaan aan 'n lager van Q Brew. Ongelukkig het ek nie dié bier geproe nie. Die eerste plek is verower deur 'n weiss van Lakeside. Dis fenomenaal in die lig daarvan dat die bier net sewe dae in die bottel was ten tyde van die fees. Een proe was genoeg om te raai dat dit 'n gewilde keuse sou wees op die dag. Mens wonder egter hoe die bier oor 'n maand of twee gaan proe.


Q Brew

Ander persoonlike gunstelinge was Bad Dog se Black IPA, David Viranyi se Porter, en Fools Gold ('n American Amber Ale?) waarvan Lucy Corné 'n mede-brouer was. Corne en Rudolph Reyneke is die skrywers van African Brew, Exploring the Craft of South African Beer, wat in Junie vanjaar verskyn. Volgens Corne is daar tans sowat 50 produsente van handgemaakte bier in Suid-Afrika, 'n getal wat oor die volgende vyf jaar kan verdubbel.


Lucy Corne


Bad Dog


CBC se aanbieding

Handgemaakte bier is nie 'n oornag verskynsel nie. Onbekende toegewyde brouers wy hulle al jare aan hierdie kuns. Dit is nie 'n modegier van diegene op soek na die jongste in-ding nie. Handgemaakte bier is verbruikers se nuwe waardering vir produkte wat met sorg voorberei word en hopelik met sorg verbruik word.

bydrae: Quintus van Rensburg

No comments :

Post a Comment