Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/30/2017

Kokkedoortjie

Die inspirasie waarop elke gesin gewag het. Kokkedoortjie volg in die spore van die uiters gewilde Kokkedoor- en Koekedoor-reekse, met tien jong kinderkokke wat meeding vir die titel van die land se beste kinderkok.

Dié kookboek is ’n versamelstuk vir die derduisende aanhangers wat die Kokkedoortjies leer lief kry het, en wil bak en kook soos hulle.

Kokkedoortjie is ’n gesinskookboek, ’n kinderkookboek, ’n kookboek vir die kind in ons almal. Dit verweef elke dag se staatmakerresepte met ’n unieke bestanddeel – die kleurvolle verbeelding van ’n kind.

Dit wissel van eiernessies vir ontbyt, die beste kosblik-toebroodjies ooit, koekies vir Entrepreneursdag, trooskos, sportiewe hamburgers, piekniekslaaie in flesse, poetsbak-poedings, plaatkoekies en pannekoek. Daar is kreatiewe visgeregte en die finaliste se wengeregte wat die land se monde laat water. Die beoordelaars deel ook hul gunstelingresepte in die boek.

Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos van Kokkedoortjie, vang die hoogtepunte van die reeks in dié boek vas. Kokkedoortjie is haar agste boek. Sy is ’n geliefde kok en radiopersoonlikheid en haar mees onlangse boek, Tuistafel, word uit alle oorde besing.

Edwin Theron (13) van Worcester – wenner van Kokkedoortjie – is die spreekwoordelike klein pakkie met groot verrassings. In sy eie woorde: ‘die kleinste sleutels maak die grootste deure oop’. Hy is ‘n self-geleerde jong kok wat elke aand kos maak vir sy ma Marietjie en sussie Martli, wat hom baie selfvertroue in die kombuis gegee het.

Hy is vreesloos (hy is ‘n bekroonde stoeier, boer nou met bye en eet brandrissies soos lekkergoed) en avontuurlik, maar weet ook hoe om kos te maak wat almal van hou om te eet.

Sy gunsteling-resepte uit die kompetisie is almal in die Kokkedoortjie-boek opgeneem, van sy selfie-suurlemoenkolwyntjies wat hy vir die oudisie gemaak het, monsterkoekies uit Sesame Street, Franse roosterbroodvingers met graanvlokkie-kors, tregterkoekies tot sy Spaanse pizza, Usain Bolt-hoenderburger, beur-jou-op-bobotie en die souserige sjokoladekersiepoeding wat hy in die finale rondte gemaak het.

Sy kenteken-gereg “Beesfilet-Cordon Bleu balle met sampioenroomsous” is sy persoonlike gunsteling.

Kokkedoortjie / Errieda du Toit -- Human & Rousseau, 27 Julie 2017; 310 p. ; sagteband. -- ISBN 9780798176217


Kokkedoortjie,
Bettie Blom,
30 Augustus 2017.

3

No comments :

Post a Comment