Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/30/2008

Fort Simon

Ek het so ´n tyd gelede besluit om op ´n ondekkingsreis te gaan deur ons plaaslike wynindustrie. Lesers word vriendelik uitgenooi om te volg waar ek voorbrand gemaak het, of om my in welke rigting te stuur op ´n aanbevole ervaring. Die Groot Q was genadig genoeg om ´n forum vir die tog te verskaf sodat diesulkes met soortgelyke belangstelling kan deelneem in die epiese reis. Vir hierdie doel het ek ´n 1ste span gekies om my van tyd tot tyd te vergesel, want lesers, soos julle julself kan indink moet ´n mens kan kophou tussen al die kleure, smake en geure waaraan ´n leek, soos die uwe Alleman, blootgestel kan word op so ´n tog.

Die somer is op hande en dit is haas tyd om die yskas vol te hou met wit wyn vir die soel somersaande. Dit is toe met die koel gedagte dat ek en vrind Gerrie afsit na Fort Simon, omtrent eerste naaste op die Botterlary-pad, neffens Hazendal. Na ´n entjie grondpad loop ons ons vas in die imponerende fort wat geïnspireer is deur soortgelykes in Namibië wat dateer uit die Duitse besettingsdae. Die kelderdeur word genader oor ´n haalbrug wat oor ´n swembad span. Die tema in die proelokaal is jag te oordeel aan die dierereste teen die mure. ´n Hele paar toekennnings op uitstal verraai dat ons hier perdalks ´n ordentlike wyn gaan proe. In die somerstema spring ons toe weg met ´n heerlike sitrusgeurige chardonnay, ´n wyn wat heerlik in die somer sal wees saam met vis op die kole gebraai. Vrind Gerrie waks liries oor hulle rooi wyn terwyl ek en SAL hulle witwyne verkies. Gerrie beweer dat hy biltonggeure in die 1999 merlot kan bespeur, maar ek ek hou by my beskeie opinie dat dit ´n lekker ligte rooiwyn is wat lekker sal smaak saam met biltong. Ongelukkig is hulle wyne nie geredelik plaaslik beskikbaar nie, maar eienaar Renier Uys werk daaraan. Sowat 90% van hulle wyn word tans oorsee verkoop, veral in Swede en Estland. Hulle wyn is op spyskaarte by sommige restaurante en behoort binnekort meer geredelik op die rakke in die supermarkte te wees.

Persoonlik stel ek voor dat belangstellendes met ´n groot vis onder die arm afsit na Fort Simon in ´n groep van so 12 - 15 wanneer die weer dit toelaat. Daar is braaiplek by die swembad en ´n visbraai met heerlike koue wit wyn kan in ´n luilekker dag ontaard. Bespreek egter vooraf te tel. 021 906 0304.

Wyne geproe:
2000 Chardonnay R 42.50
2001 Sauvignon Blanc R 32.50
1999 Merlot R 41.50
2000 Anna Simon (Merlot/Pinotage) R 36.00

Hoekom klink ons glase
In die goeie ou dae toe water nog te vuil was om gedrink te word en melk vir kinders en kallers bedoel was, het die middeleeuse ridders hulle gaste uiteraard wyn aangebied. Om te wys dat die wyn nie vergiftig was nie het die gasheer die gas se wyn in sy glas gegooi en eerste gedrink. Indien die gas sy gasheer vertrou het, het hy sy glas geneem en "geklink" met die van sy gasheer ter aanduiding dat die gasheer se gebaar onnodig is.

Sêgoed
"Beer is made by men, wine by God!" --- Martin Luther.

Soos op Hollands, Prost!

Tot volgende keer.

- Kris-Jan Alleman

No comments :

Post a Comment