Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/06/2008

Tien geheime van brood bak, met 'n stertjie - vetkoeke

deur Emile de Villiers

Om brood te koop is so maklik want jy ry net na die kafee of supermark en daar is tien soorte om van te kies. Die kuns om self jou broodjie te bak het al byna uitgesterf. Die elektriese oond met daardie intuïtiewe aanvoeling van die gereedheid van hitte in die oond - dit is as jou hand vir 18 tellings in die oond kan uithou sonder om jou hand daaruit te moet wegruk - vervang met 'n termometer wat nie juis gekalibreer is nie. En die deeg: wanneer is dit deurgeknie? Na 'n lang en intense Pinksterbiduurreeks het ek besluit dat ek nou tyd is om te leer hoe om brood te bak. Die Kook en Verdriet, 'n resepteboek van formaat, word uitgehaal en die teorie word bemeester voordat die praktyk aan die beurt kom. Wel, nou na jare se ondervinding deel ek huiwerig my geheime met jou!

Brood word beoordeel nie na die uiterlike nie, maar na mate van sy vullingswaarde, later meer hieroor, en as basiese voedselsoort om sy veselinhoud. Die rede hiervoor is voor die handliggend. Maar laat ons nou nie lelik wees as ons na die bakhuisbrood kyk nie, aangesien hulle in 'n groot behoefte voorsien. Tuisgemaakte brood maak die verskil want dit het gewig en dit terwyl die winkelbrood pure wind is. Vat nou 'n deeglike sny, nie 'n skaapwagtersny nie, soetsuurdeugbrood. Dit is maklik een vir drie. Ja, drie snye winkelbrood balanseer met een van dié wat uit jou eie oond kom. Hoe ongesond is al die botter, soetgoed en soutsmeersels nie op drie snye nie, terwyl die tuisgebakte die ware jakob is wat jou gesondheid sal bevorder! Maar onthou: dit gaan oor die brood en nie noodwendig dit wat op die brood gesmeer word nie! Of hoe?

Daarom is die eerste geloof oor tuisgebakte brood dat daar genoeg semels in moet wees. Tannie Belia Steyn, 'n kollega se vrou, het oor die brode in Heidelberg gesê: "Ag maar dit is so wit!" En so nie die toets deurstaan nie. Mede-bakkers onthou, 'n handvol of twee semels, nuttywheat, rosyne en selfs spinasie en fettakaas en 'n pakkie bruinuiesop kan jou van die verleentheid red! Dis nou as dit nodig is om gered te moet word! Die eerste geheim is: Dit is nie waarna jy kyk wat belangrik is nie, dit is die samestelling! Brood moet vastigheid hê.

Die tweede geheim is dat 'n goeie en deeglik gekniede deeg, effe aan die wit kant, ook vir vetkoeke, broodrolletjies en stokbrode gebruik kan word. Die broodrolletjie maak jy rond en sit dit in die oond of jy rol "worsies" en sit dit ook op die bakplaat en laat rys voordat jy dit in die oond sit. 'n Blikkie verroomde mielies of gebakte en fyngedrukte, gaar aartapppels by die deeg gee die heerlikste substansie aan die melkwitte vetkoeke.

Die derde geheim vir die witterige brode se bak, is dat die beste en gewilligste witbrooddeeg, goed geknie, reeds beskibaar lê in die koelkaste van die plaaslike deli. Glo my dis flatervrye brood, tensy jy self 'n gemors daarvan maak deur die brode te verkool in die oond.

Ook die ou swartpot is 'n pyn of 'n plesier vir 'n aspirantbakker. Dit is seker nie 'n geheim nie, maar ter wille van die indeling van die stuk noem ons dit die vierde geheim! Werk maar spaarsamig met die kole onder die pot se pens. Meer kole op die deksel maak van die swartpot 'n broodoondjie soos min! As jou swartpot reeds op hitte is, dit is nie nou wat met jou troeteldiere gebeur as jy hulle nog nie laat "regmaak"/"verkeerd maak het nie (dit is 'n debat vir 'n volgende dag). Nee, 'n swartpot se hitte is soos 'n stoomtrein wat aangejaag moet word om spoed op te bou en as die spoed bereik is, dan kos dit net bietjies vuur om die pot gaar te kry.

Hoe kry 'n mens die brood uit 'n driebeenpot? Geheim vyf volg nou. Dit is 'n probleem om brood uit die swart driebeenpot te kry, want die pot se geaardheid is een van 'n pens wat uitdy en die nek is dan nouer as die pens van die pot. 'n Brood hoort nie vas te gebrand het in die pot nie, want dan het jy 'n probleem met 'n eindresultaat van krummels in plaas van brood. Glo my! Die krummels sal vir baie bakke bobotie as basis kon dien! Die brood moet slegs, as dit uitgerys is, die helfde van die pot in beslag te neem. Jy vat 'n skerp mes en sny die brood in twee gelyke dele. Die brood moet dan voor jou lê soos die twee hemisfere van die brein voor 'n neurochirurg ... die brood moet dan deur sy eie as beweeg en die twee brode sal heel maklik en heel uitgehaal kan word!



Die sesde geheim wat ek wil openbaar, is dat die gemmerbroodmannetjie 'n broer het. Hy was nie so gelukkig soos sy gespeseryde broertjie nie, want hy kon nie van die pot of die eters weghardloop nie. Hy is vandag nog te kry in die potte van die ingewydes! Hoe heerlik is 'n gekluitjiede deeg wat deur die stoom en stroop van songedroogde perskes, van Rawsonville en Montagu gaar gestoom word. Of natuurlik kan die deegmannetjie ook soos 'n kombersie gelê word oor die pot en weer die potgeure intrek en na die ete kan die laaste sousies uit die pot gebagger word - koningskos!

Die sewende geheim van die broodbakkersgilde, is dat wat jy gebruik om jou pan mee uit te smeer sodat die deeg nie aan die pan sou vassit nie en ook as die brood warm uit die oond is en die brood behandel moet word sodat dit nie uitdroog nie, is dat jy sagte of korrelvet van 'n dikstertafrikaner, ('n soort skaap vir julle wat die dier nie ken nie) moet aansmeer. Ander glo weer in die sagtevet van 'n vark. Goed laat ons nie daaroor stry nie - sagte vet of dit skaap of vark is- sagtevet is noodsaaklik vir die rand van die brood. Hermien wil nie dat ons olie gebruik nie want dit gee 'n aanpaksel af op die broodpanne. En glo my sy is erg oor haar braaipanne. En wat sit 'n mens op die brood, benewens die korrelkonfyt en die vyekonfyt? Botter natuurlik! Plaasbotter met sy sout smakie en soos oom Jan en tannie Martha Swart van Klipdrif alleen dit kon maak!

Die agste geheim van die broodbakkersgilde is dat 'n brood 'n bietjie kluitjie en effens souterig moet wees. Die genoeg sout is belangrik anders voel dit al asof die lawwe brood aan jou verhemelte vassit - aldus my skoonma. Brode moet ook nie klippe wees, waarmee jy jou buurman se "op hitte kat" (sien vroeëre debat) kan omklits nie. Die geheim lê tussen uitrys en nie uitgerys wees nie! As jy dan iets wat uitgerys is wil eet, kry vir jou gedroogde mosbolletjies, maar nie jou brood nie, want brood bly een van ons tradisionele stapelvoedsels.

Die negende geheim van broodbak is dat broodbak in 'n elektriese oond nie aan die hoogste vereistes van broodbak voldoen nie want 'n vuursmaak ontbreek. Kry 'n buiteoond of 'n houtstoof of jou swart pot en bak dit daarin. Wat 'n vreugde is dit om by die stalletjie net duskant Caledon aan te ry en een van die gelukkiges te wees om 'n effens souterige, semelversterkte, houtvuurgebakte, effens warme, in 'n vetterige bruin kardoes verhulde brood huis toe te vat met die vooruitsig van plaasbotter en korrelkonfyt!

Die tiende geheim is dat, al my meerderwaardige kennis ten spyt, ek nog nooit 'n suksesvolle, deurgaar brood in 'n houtstoof se oond kon bak nie. Hierdie belydenis is tussen jou en my, maar my dag kom!

Basiese broodresep: (hoeveelhede moet aangepas word)

1 kg meel (wit en / of bruinbrood gemeng, spinasie en fettakaas, bruin uiesop, soetmielies, rosyne, spek, gekookte eiers, sade of wat jy ookal voor lus is, maar onthou die semels)
1 pakkie droë korreltjie gis
3 e suiker
lou water
1 t gelykvol sout
bietjie asyn
bietjie sonneblomolie

Gooi alles bymekaar en knie tot deeg van jou hande begin aftrek.
Smeer die deeg met olie en sit doek oor en wag totdat dit dubbeld soveel gerys het.
Knie weer en sit deeg in gesmeerde panne. Gooi oor wat jy wil bv saadjies en bestryk die brood se bokant liggies met olie en wag dat dit weer rys.
Verhit oond tot jou hand vir 18 tellings daarin kan uithou (ek vermoed 1 telling is 10 grade).
Kyk die brood gaar! As jy twee panne in die oond het, skuif die panne rond as dit lyk asof die brood wil brand het. Bak eers van onder (40min) en dan om die uur vol te maak van beide kante.
As gaar is haal uit en bestryk brood met sagtevet en draai in 'n doek toe tot koud.
Die eerste korsie is die bakker se loon. Iemand wat dit sou steel sal gestraf word met: die genot van die korsie vir 'n oomblik op die tong en vir 'n ewigheid op die heupe!

Swartpot: alles dieselfde. 3 - 4 brikette (brandend natuurlik) onder die pot se boom. LW. Pot moet op 'n staander staan en 3-4 brikette op die deksel. Maar onthou meer van bo as van onder!

Vetkoek: alles dieselfde maak ronde balletjies, bestryk met olie en gee tyd om te rys. Bak in olie in dikboompot. Onthou om nie olie te oorverhit nie want dan verkleur die vetkoeke. As die vetkoek hol klink as jy daarop tik dan is dit tyd ...

foto © 2005 David Monniaux)

5 comments :

  1. shantell7/7/10 11:14

    goeie dag ek soek graag `n bruin brood resep wat die volgende bestanddele gebruik poppy seeds sesame seeds whole grain disetive bran en nutty wheat kan enigeiemand my help met `n bruin brood resep dit sal bie gaaf wees

    ReplyDelete
  2. Anonymous7/7/10 11:47

    Dit lyk my jy soek die volgende resep:

    http://www.kookkuns.com/2009/10/mikrogolfvolkoringbrood.html

    ReplyDelete
  3. Wat is die oorsaak dat ñ deel van ñ brood kluitjierig uitkom?
    Dankie!

    ReplyDelete
  4. My brood rys Baie goed maar het barste Bo op die brood. Wat Kan die oorsaak wees adb

    ReplyDelete
  5. Ek wil weet waarom my bruin brood nie so hoog rys soos die witbrood nie en as ek dit ini oond sit, sak die deeg dadelik laer in die broodpan tenspyte daarvan dat ek dieselfde hoeveelheid meel gebruik. Die bruin brood kry trouens nog 2 koppies semels in, tog is dit soveel laer as die witbrood wat hemelhoog rys. Is dit dalk die semels wat dit doen en hoe stel ek dit reg?

    ReplyDelete