Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

10/15/2008

Jogurt

Jogurt se geskiedenis trek al lang baard. Daar word beweer dat jogurt sowat al 4000 jaar gelede gemaak en geëet is. Niemand weet presies waar kom dit vandaan nie maar die legende beweer dat Abraham deur ´n engel geleer is hoe om jogurt te maak.

Die woord jogurt of eerder die engelse woord yogurt is ´n Turkse woord wat Lewe beteken. Die Turke beweer dat ´n nomade deur die woestyn getrek het met ´n velsak vol melk wat oor sy kameel gehang het. Die hitte van die son en die skommeling het hierdie melk in ´n dikkerige vloeistof laat verander.

´n Ander interessante weergawe wat weergee word is dat een of ander Turkse veglustige het ´n vegter van ´n ander dorp gevangene geneem. Om hom te vergiftig het hulle suur melk in sy velsak gesit. Maar die suurmelk het ook verander in hierdie dikkerige vloeistof. Hierdie vegter het voortgegaan met sy reis en hoe verder hy gery het hoe sterker het hy geword want hy het net van jogurt geleef.

Daar is ook verskeie stories opgeteken oor een of ander Mongoolse veldmaarskalk wat in 1215 omtrent die hele ooste verower het en al wat hy omtrent sy manskappe gevoer het om te eet was natuurlike jogurt gewees. Dit was seker ´n ontsaglike proses gewees om jou eie jogurt te maak.

Daar word baie goeie dinge aan jogurt gekoppel. Meeste mense wat allergies is vir laktose in melk kan jogurt gebruik. Jogurt is ook goed vir mense met diarree en mense wat hardlywig is. (Hierdie een kan ek nie verstaan nie.) Wat sterk aanbeveel word is dat jogurt moet geëet word wanneer antibiotika geneem word. Dit versterk jou liggaam se imuunstelsel. Verder word daar beweer dat jogurt ook aknee kan verminder.

Om spesiale smaak aan ´n dis te verleen kan jogurt in plaas van room gebruik word. Dit is altyd raadsaam om die jogurt aan die einde van die kookproses in te gooi en dan net sowat 5 minute te laat prut. Wanneer die jogurt aan die begin van die kookproses bygevoeg word bestaan die moontlikheid dat dit kan skif.

Vir nog ´n unieke smaak kan jy mayonnaise en jogurt meng (so om die helfte). jogurt kan ook as basis gebruik word vir doopsouse. My naby aan die einde van die maand doopsous is jogurt gemeng met ´n bietjie sop poeier. Heerlik saam met skyfies en glo my iemand in die geselskap gaan jou die resep vra. Vir ´n gesonde slaaisous gooi jogurt oor jou slaai. Smaak heerlik.

Om jou eie heerlike jogurt te maak neem ´n bakkie gewone jogurt (met lewendige kultuur / live cultures) en meng dit met 1 liter melk. Bring die melk tot kookpunt. Haal van die plaat af en plaas in die yskas. More oggend het jy heerlike tuisgemaakte jogurt. Meng dan jou gunsteling vrugte daarin of eet net so.

Dat jogurt goed is vir ´n mens kan ek nie betwyfel nie. Kos uit die hemel? Besluit maar self.

Frik Lombard

No comments :

Post a Comment