Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

10/07/2008

Kruie

Kruie is geurige plante wat ons gebruik om alledaagse bestanddele om te tower in uitstaande geregte.
Indien jy verkies om dit gedroog te gebruik kan jy die vars kruie uitspei op 'n bakplaat en vir 'n uur lank in 'n koel oond plaas.
Hier volg 'n lys van kruie wat ons gereeld (behoort te) gebruik asook verwysings na hul geneeskundige of ander gebruike.

Basielkruid
'n Kruid om jou tone te laat omkrul. Hemels saam met tamatie, pasta, eiervrug, skorsies en spinasie. Maak vir jou tee hiervan saam met heuning en jy sal nuwe lus vir die lewe kry. Stamp die gedroogde blare fyn en maak vir jou snuif vir verkoue en hoofpyn. Vars basielkruid help teen naarheid, verminder maagkrampe en help die liggaam om kos beter te verteer.

Grasuie
Hierdie kruid uit Europa kan ons gerus baie meer gebruik, al is dit as versiering. Dit gaan goed saam met eier, vis, souse, kaas, pluimvee en slaai. Indien jy dit in 'n warm gereg gebruik moet jy dit eers in die laaste vyf minute van die kooktyd byvoeg, anders gaan die smaak verlore. Die kruid kan aptyt aanwakker, dit is medisyne vir die niere en kan help om hoë bloeddruk te verlaag. Dit bevat ook vitamien A, C en foeliensuur, kalium, kalsium en yster.

Koljander
Wat is 'n kerrie sonder koljander. Die kruid gaan ook goed saam met hoender en Thaise geregte. Indien jy lighoofdig voel stamp jy 'n paar sade fyn en asem die walms in.



Komkommerkruid
Die blare van die plant smaak soos komkommer. Natuurlik 'n moet vir slaaie. Die blare kan ook gediepbraai word. Maak tee hiermee om jou bloedsomloop te verbeter.

Kruisement
Souse is meeste kruisement se voorland. Dit gaan ook goed saam met kalfsvleis, sop, slaai, jogurt, brood en meeste groente. Die tee help vir verkoue en spysvertering.

Laventel
Gebruik dit in koeke, beskuitjies en vla. Probeer ook jou eie laventelasyn te maak deur die blare 'n paar weke in asyn te laat lê.

Marjolein
Behalwe dat dit 'n mooi naam vir 'n meisie is gaan marjolein ook goed saam met pluimvee, slaai en botterbroodjies. Tee van hierdie plant verlig hoofpyn en help met spysvertering.

Oregano
Die familielid van marjolein is 'n geurige bymiddel vir pasta, rys, pizza, moussaka en tamatie. Soos marjolein verlig die tee hoofpyn en help dit met spysvertering.

Pietersielie
Meeste mense is vertroud met die staatmaker vir eier, aartappels, pasta, souse, pluimvee en vis. Maak tee met die plant vir hulp met die spysvertering en bloedsomloop. Vermy die krulblaar soort. Dit dien slegs as versiering. Wat jy wil gebruik is die platblaar Italiaanse pietersielie.

Roosmaryn
Die sterk aroma van die plant gaan goed saam met vark, kalfsvleis, bees, eend, brood, eiervrug en aartappels. Maak vir jou tee hiermee indien jy hoofpyn het, hulp nodig het met spysvertering of baie senuweeagtig is.

Salie
Die plant met sy silwergrys blare is 'n uitstekende geurmiddel vir pasta, vark, kalfsvleis en olierige vis. Om as versiering te gebruik diepbraai jy die blare. Die plant help vir mond- en keelseer. Insekte haat die reuk van salie.

Suurlemoengras
Die kruid staan reg vir enige Oosterse gereg of olierige vis. Die tee is goed vir oorwerkte niere en dit help om verkoue en koors te verlig.

Tiemie
Gebruik die kruid in bredies, sop, eier, vleis, hoender, vis en pasta. Behandel jou hoes, krampe, spysvertering en eetlus hiermee.

Vinkel
Vinkel is beslis nie nes koljander nie. Vinkel word meesal saam met vis gebruik maar dit is ook goed met slaai, pasta en rys. Die wortel van die plant is 'n groente op sy eie. Maak teesakkies van die kruid wat jy dan op seer oë plaas.

No comments :

Post a Comment