Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

10/14/2008

Slaai

´n Slaai is iets wat baie keer eie aan ´n huis of huisgesin is. Elke huisgesin het sy eie spesiale slaai wat voorberei word en wat met trots voorgesit word wanneer die gaste kom kuier. Die verslankers eet net slaai om hulle maer te kry en ander hou weer van slaaie op ´n heerlike warm dag. Maar vir my is slaai iets wat daardie kunstigheid en kreatiwiteit van jou na vore kan bring.

Met enige kosmaak en nie net met slaai nie is daar een geheime bestanddeel wat jou kos spesiaal kan maak en dit is die liefde waarmee jy die kos voorberei. Dit het al baie met my gebeur dat ek ´n resep moet maak wat ek al by iemand geëet het en dan proe dit net nie dieselfde by my nie. Maar dan onthou ek die geheime bestanddeel en siedaar werk die resep.

Om ´n heerlike slaai voor te berei kan jy begin met ´n basis slaaiblare. Indien jy so bevoorreg is om vars kruie in jou tuin te hê kan jy gerus van dit ook in die slaai gooi. Aan die begin sal ek voorstel dat jy spaarsamig moet wees want party kruie kan nogal geniepsig op die tong wees. Daarby kan jy groente byvoeg of partykeer sommer kaas of neute of droë vrugte of net wat jy in die huis het.

Wat nog mooi kleur aan ´n slaai kan gee is roosblare. Die blare is soeterig en ruik heerlik. Viooltjie blomblare kan ook gebruik word. Nasturtiums proe pepperig en kan ook by ´n slaai gevoeg word.

In plaas daarvan om ´n slaaisous te maak kan jy gerus probeer om so ´n bietjie sitrussap oor te gooi. Onversoete lemoen sap, lemmetjie sap, pomelo sap of suurlemoen sap kan wondere verrig aan ´n doodgewone slaai. Vervang asyn met lemmetjiesap in jou slaaisous. Lemmetjiesap verander die smaak van ´n seekos, hoender of groente slaai van doodgewoon na ´n smaaksensasie.

´n Maklikke slaai of heerlike voorgereg kan vinnig gemaak word deur avokado blokkies met en pomelo segmente te meng en dan strokies hoender of gekookte garnaal by te voeg. Bedien net op gesnyde slaaiblare.

Lemoensegmente saam met gesnyde beet smaak vorentoe en is ´n heerlike gesonde slaai. Lemoensegmente saam met pasta of rysslaai is heerlik. As jy die slaai eers so saam met lemoen geëet het sal jy nie sommer weer jou beet, pasta of rysslaai maak sonder lemoen nie.

´n Gunsteling slaai van my is biltongslaai. Dit is ´n heerlike en kleurvolle slaai wat ek graag met julle wil deel. Vir die slaai het julle 6 tot 9 gekookte eiers, ´n bottel Miracle Wip, slaaiblare en ´n botteltjie fyn biltong nodig. Kerf die slaaiblare fyn en plaas ´n derde van die slaaiblare in ´n bak. Neem nou miracle wip en smeer oor die slaaiblare. Gooi nou fyngedrukte en gekookte eier oor en rond af met ´n lagie fyn biltong. Herhaal 2 of drie maal. Gebruik ´n deurskynende glasbak want die slaai sal baie beter daarin vertoon.

Gee julle kreatiwiteit vrye teuls wanneer dit by die maak van slaai kom. Probeer om al die ou gunstelinge op te kikker met een of twee onbekende bestanddele.

Resep 2

Jennifer Marais

(net-net genoeg vir 4 persone)

1 - 2 Avo's
R25 se biltong, fyn, maar nie te fyn nie
2 tamaties in blokkies gesny
feta
kaas in blokkies gesny
biltong/peper chips dip

Meng alles saam en geniet.

Resep 3

Rika Spang

Slaaisous:
60 ml balsem-asyn
125 ml olyfolie
1 knoffelhuisie, gekneus
5 ml suiker of na smaak
5 ml Dijon-mosterd
1 stingel sprietui, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper

Slaai:
250 g klam, baie dun gekerfde biltong
375ml gerasperde cheddarkaas
'n verskeidenheid blaarslaai om die slaai op te rangskik
3 agurkies, gekap
2 hardgekookte eiers, in skyfies gesny
2 ryp avokado's, in blokkies, besprinkel met suurlemoensap

Plaas al die bestanddele vir die slaaisous in 'n skroefdekselbottel en skud goed. Hou in die yskas tot benodig. Plaas die biltong en kaas in 'n bak en voeg genoeg van die slaaisous by om dit goed klam te maak. Bedek en marineer ten minste 'n uur (of selfs tot 'n dag lank) in die yskas. Rangskik die blaarslaai op 'n mooi groot plat slaaibord en pak die slaaibestanddele bo-op. Besprinkel liggies met van die slaaisous. Skep die gemarineerde biltongmengsel bo-op en sit die oorblywende slaaisous apart in 'n klein bekertjie voor. Sit dadelik voor.

deur Frik Lombard

No comments :

Post a Comment