Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/18/2008

´n Formele middagete

Desiree Huysamen het geskryf en gevra of ek enige voorstelle het vir ´n goue bruilof-middagete. Wat volg is nie net my voorstelle vir die ete nie, maar ook ´n paar wenke vir so ´n formele ete. Ons kan gerus meer so aansit by die huis.

OPDIENING
Wit eetgerei is altyd ´n treffer! Maak borde warm in die winter. ´n Gasvrou moet verkieslik al die geregte klaar maak VOOR die onthaal. As die gaste nie goed bekend is nie, los liewers skulpvis en knoffel uit.

´n Spyskaart kan gerus gebruik word. Ek gebruik dit sefls vir my kinders op spesiale dae, bv. Kersdag.

Bedien altyd voorgereg in klein porsies. Dit moet die aptyd wek en nie bevredig nie. Voorgeregte is nooit juis soet nie. Dit moet geurig en aantreklik wees. Neem altyd jou spyskaart in ag. As die maaltyd groot en swaar is, moet die voorgereg lig wees en ook andersom. Dit bestaan net uit een gereg. Die voorgereg se bestandele mag nie weer in hoofmaal voorkom nie. Onthou die voorgereg-eetgerei.

Kry ´n kelner om te help met bediening. Die persoon moet altyd baie stylvol en netjies aangetrek wees. Kos word altyd van die linkerkant af bedien. Opskeplepels se handvatsels moet na die gas wys indien die gas self moet inskep. Dit is heeltemaal aanvaarbaar dat kos in die kombuis ingeskep word. Met vreemde gaste gaan dit moeilik wees, want jy ken nie hul smaak nie. Vuil borde word ook van die linkerkant verwyder, maar asseblief moet dit nie opgestapel nie want daar kan ´n glips kom. GEEN kos word by die tafel van die borde afgeskraap nie.

Die kelner begin by die dameseregas wat aan die gasheer se regterkant sit. Na die eregas word die damesgas aan die linkerkant van die gasheer bedien. Daarna die ander dames en dan die die die manseregas en dan die ander mans.

Bedien eers die groentes, dan vleise en dan souse. Verkieslik kan slaai op die tafel gelos word. Voorgeregte kan ook voor die tyd op die tafel gesit word. Dit vergemaklik die bediening. Onthou goeie bediening kan selfs ´n swak ete red.

Wynglase kan as voorgereg en nagereg bakkies gebruik word. Sit ´n klein blommetjie in die voorgeregbordjie.

By die koffie, gewoonlik geperkoleerd, moet ten minste sjokolade of sjokoladebeskuitjies bedien word.

Indien kerse gebruik word vir versiering MOET dit aangesteek word. Blomme moet nie te hoog wees nie, die gaste moet mekaar kan sien. Blomme op die tafel moet ook nooit verlep lyk nie.

DRANKIES
Sjerrie kan in die voorportaal op ´n tafel gesit word, MET sjerrie in glase en ook ´n bottel sjerrie of soveel as wat nodig sal wees. Daarby kan klein soutbeskuitjies en kaashappies ook neergesit word.

Daar is vandag so ´n groot verskeidenheid wynglase op die mark. Onthou net groot is vir rooiwyn en klein vir witwyn. Bespreek jou keuse van wyn met die winkelassistent.

Indien dit ´n groot onthaal is stel ek voor jy kontak ´n drankwinkel vir hulp. Hulle het gewoonlik kelners wat die drank bedien.

Wyn word in dieselfde volgorde as die kos bedien. Die gasrou kan daarmee begin deur eerste haar servet uit haar glas te haal. Die gaste sal wel volg. Jy kan ook dat die gasheer die wyn toets. ´n Gasvrou moet altyd gemaklik lyk - sonder aansitterigheid - en altyd in beheer wees. Probeer om nie die tafel te verlaat nie. Gedurende ´n klein onthaal kan die wyn in ´n wynhouer naby die gaste of by die gasheer gehou word.

Moet nooit wyn uit ´n doos bedien nie. As joy moet stel ek voor jy gebruik eerder ´n mooi houer.

Vrugtesap en water is altyd welkom.

VOORGEREG
Helder sop - Behou ´n paar groot stukke groente stapel op in die sopbak met bietjie room bo-oor. Wyn: ´n chenin blanc of selfs ´n halfsoet sjerrie. Of gevulde pannekoekies met suurlemoen-mosterdsous bo-oor. Wyn: sauvignon blanc.

HOOFGEREG
Gegeurde rys. Koop dit sommer by die winkel. Sny groterige stukke tamatie in rys voordat jy die uitskep. Dit moet net warm wees maar nie gekook. Dit lyk mooi. Pynappelstukke kan ook bygevoeg word.
Klein vars boontjies, toegedraai in spek en met ´n tandestokkie vasgesteek, in min water stadig gekook tot gaar. Moenie te veel sout byvoeg nie want spek is reeds sout.
Koop blikkies klein wortels. Dit werk vinnig en is sag. Roerbraai dit vinnig in botter en bruinsuiker. Dit moet nie pap kook nie. Hou warm.
Kook klein aartappeltjies tot gaar. Braai dan vinnig in olyfolie en gekneusde knoffel. Net voor jy dit uit pan haal voeg vars gekapte pietersielie by en roer goed deur.
Probeer bietjie ontbeende varknek of gerookte varkboud. Dit is anders en altyd ´n treffer.
Skaaprol - Vra jou slagter om ´n ribbetjie te ontbeen. Hy kan dit vir jou stop of jy kan dit self doen. Kap die ontbeende ribbetjie met ´n vleishamer. Sout en peper na smaak (kan ook eers met olyfolie gesmeer word en met knoffel gevryf word). Neem vars spinasie (maak skoon en blanseer) pak dit op rib, volg dan met fyn gesnyde sampioene. Rol stewig op en werk vas met lyn. Bak in oond tot gaar. Wyn: merlot / shiraz.
´n Slaai is nie nodig nie maar dit is jou keuse. Komkommer kan net in skyfies gesny en op slaaiblare gerangskik word met gekleurde soetrissierepies.

NAGEREG
Kaaskoek is altyd ´n treffer maar wat van ´n korslose melktert met room? Wyn: port.

bydrae: Petro van der Westhuizen

No comments :

Post a Comment