Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/18/2008

Ongewone kosse

Wanneer dit by ongewone kosse kom sit ons nasie nie te ver van die tafel af nie. Hier dink ek maar net aan skaapkop eet, biltong en snaaks genoeg monkey gland-sous. Die buiteland dink ons is barbaars om gedroogde vleis te eet. Hulle kan dit nie verstaan dat ons vleis ophang om droog te word en dan te eet nie. Daar is ook ´n persepsie dat ons monkey gland-sous maak van ape se kliere. Maar wanneer hulle eers die delikatesses proe en eet dan is daar geen keer aan hulle nie.

Maar dit is nie net by ons wat ons ongewone kosse eet nie. Die Japanese is bekend en beroemd vir Sushi. Ek verneem dat ´n goeie Sushi sjef ´n aantreklike salaris kan verdien. In een van die gewildste restaurante in Taiwan, waar die mense tou staan elke aand om te eet, is die spesialiteit vis. Maar dit is nie snaaks nie. Sodra jy inkom in die restaurant is daar ´n groot vistenk. Jou aandete swem so voor jou verby en jy kies die mooiste en lekkerste vis. Hulle vang dan jou vis vir jou. En net hier hardloop die papaja in die fan vas.

Die sjef gooi die vis net so heel in die warm water en kook hom. Die vis word dan net so netjies opgesny in soveel porsies as wat daar mense in die geselskap is. Hier moet julle net let op my woordkeuses, nie oopgesny en skoongemaak nie maar opgesny met die derms en al. Die stuk wat jy in jou bord kry moet jy net so opeet met die derms en al. Of dalk kry jy die kop met oë. "Jig", is al wat ek kan sê.

Franse en Italiaanse sjefs is lief om hane se kamme te gebruik om hulle disse mee te versier. Die haankamme is blykbaar heerlik maar so effe aan die taai kant. Die Aborigines van Australië is versot daarop om suikermiere en gekapte gemarineerde kangeroesterte te eet. In Oos-Europese lande en veral Rusland is beerpoot en beerskyf ´n delikatesse.

In veral China is haaivinsop baie gesog. Daar hou hulle ook daarvan om gedroogde voëlneste te eet. In China en Taiwan is daar ook een honderd jaar oue eiers te koop. Dit word geëet op baie spesiale geleenthede, soos bv. wanneer ën groot saketransaksie afgehandel word.

Gebraaide sprinkane en mopanie wurms is weer konigskos in Afrika terwyl miere gedoop in sjokolade bo aan die gourmet lys is in Japan. In Europe is skilpadvleis gesog en in sekere dele van Amerika is krokodilvleis gewild. In Meksiko is beespere gesog, veral van die beeste wat gesneuwel het in stiergevegte. Die lekkerny word gebraai in botter en olyfolie en met verskillende souse bedien.

As ek so na die snaaksste disse kyk sal ek maar by biltong en monkey gland-sous hou. Die twee geregte waarvoor die res van die wêreld hulle neus optrek bly maar baie lekker en ek sal beslis nie my stukkie biltong ruil vir ´n beespeertjie nie.

deur Frik Lombard

No comments :

Post a Comment