Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

1/08/2011

Gravlaks / Gravlax / Gravad lax / Gravalax

Gravlaks is ’n Noorse uitvindsel, basies salm wat ingesout word met sout, suiker en dille.

Hierdie resep is vir 'n salm van so 800 g. Ek gebruik ook die resep vir forel. Die vis moet vir 3 dae lê voor dit reg is vir gebruik.

Meng 1½ teelepel gemaalde koljander met 4 teelepels varsgemaalde swartpeper, 3 eetlepels goeie sout en 1 eetlepel suiker.

Jy het ’n groot bos dille nodig vir gravlaks. Kap fyn.

Plaas die vis met velkant na bo en strooi ⅓ van die pepermengsel oor. Druk dille vas op die vel.

Draai die vis om en strooi die res van mengsel oor en druk dille bo-op vas.



Draai die vis toe in kleefplastiek, plaas tussen twee bakplate en plaas gewigte bo-op. Ek gebruik sommer handgewigte of bakstene.



Plaas in die yskas vir 3 dae; draai dit om elke 12 uur.

Wanneer die vis gereed is haal ek dit uit die plastiek, krap die dille af en trek die vel af. Dan sny ek dit in repe van so 1 cm.

Ek druk my stempel af op die gereg met my sous. Ek klits 1 eetlepel Dijon mosterd saam met 1 teelepel heuning, 1 eetlepel strooisuiker, 1 teelepel goeie sout en 2 eetlepels tarragon-asyn. Gebruik ’n handklopper.
Wanneer die suiker opgelos is klop ek 125 mℓ olyfolie by. Gooi die olie stadig in terwyl jy klop.
Roer 2 eetlepels gekapte dille by die sous.
Gooi die sous oor die vis en bedien.

Die vis kan net so met die hand geëet word of op brood - ek verkies rogbrood.
Tradisioneel word dit ook saam met aartappels geëet.

resep: Quintus van Rensburg

No comments :

Post a Comment