Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

3/28/2018

Evita se empanadas

Lewer ongeveer 12 maalvleishappies
Bereidings- en gaarmaaktyd: 10–15 minute
Yskastyd: 1 uur
Baktyd: 35–45 minute

Hierdie Argentyns-geïnspireerde maalvleishappies gaan niemand laat huil nie. Allermins. Dis ewe lekker as ’n ligte middagete, piekniekkos of ’n lekker kosblikbederfie. Moenie skrik vir die baie botter nie – die geheim van ’n goeie empanada lê in die vleissouse wat in die pan vorm en dit kry jy net deur, sommer met die intrapslag al, baie botter te gebruik.

deeg
2½ koppies koekmeel
1 t bakpoeier
½ t sout
125 g botter
¼ k water
1 eier
2 e water

maalvleisvulsel
125 g botter
1 groot ui, fyngekap
5 stingeluie, in dun ringe gesny
500 g maalvleis
¼ k sultanas, in kleiner stukkies gekap
1 t paprika
½ t rissievlokkies
¼ t fyn komyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 hardgekookte eiers, fyngekap
13 groen olywe, ontpit en fyngekap
¼ k geroosterde amandelvlokkies

Deeg: Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak. Sny die botter in blokkies en vryf met jou vingerpunte in die meelmengsel tot dit soos growwe mieliemeel lyk.
Giet die water bietjie-bietjie by tot ’n sagte, hanteerbare deeg vorm. Draai die deeg toe in kleefplastiek en laat vir 1 uur in die yskas rus.

Maalvleisvulsel: Verhit die botter in ’n swaarboompan en braai die ui en stingeluie tot die uie sag en deurskynend is. Voeg die maalvleis by en roer liggies met ’n vurk sodat die vleis nie klonte vorm nie. Braai tot die vleis verbruin het.
Voeg die sultanas by en kook saam vir ’n minuut of twee. Haal af van die stoofplaat en roer die paprika, rissievlokkies en komyn by. Geur met sout en peper. Laat die vleismengsel heeltemal afkoel en roer dan die res van die vulselbestanddele liggies by.

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.

Rol deeg uit tot ongeveer 3 mm dik op ’n meelbestrooide werksvlak. Gebruik ’n koekiedrukker van ongeveer 7,5 cm in deursnee en druk 12 deegsirkels uit (’n paar ekstra sal nie kwaad doen nie).

Klits die eier en die water saam. Verf die rande van die deegsirkels met van die eiermengsel. Skep 2 opgehoopte eetlepels vulsel in die middel van elke deegsirkel. Los ’n randjie rondom oop. Vou die deegsirkel toe om ’n halfmaan te vorm. Druk deegrande vas om te verseël.

Pak die halfmaantjies ’n entjie uitmekaar op die bakplaat. Verf die deeg met die eiermengsel. Bak in die oond vir 35–45 minute tot bruin. Sit warm of teen kamertemperatuur voor saam met ’n mengelslaai.

wenk: Jy kan die deeg nog makliker in ’n voedselverwerker voorberei: Voeg net die blokkies botter een vir een by en verwerk. Voeg ook die water bietjie-bietjie by en laat die masjien die mengwerk doen.



No comments :

Post a Comment