Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

10/20/2021

Volmaanpiekniek by Afrikaanse Taalmonument

Meeste mense is dalk Covid-19-voos, maar soms is alles net maanskyn en rose, veral as jy die volmaan van nader bekyk op ʼn heerlike somersaand op die beeldskone Paarlberg. Daarom nooi die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se vriendelike personeel almal hartlik uit om die eerste Volmaanpiekniek van die seisoen op Vrydag, 22 Oktober 2021, met hulle te vier.

Dié pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig van die vallei geniet. Besoekers kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ʼn simboolgelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. Besoekers word ook aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies te bring. Onthou ook warm klere en ʼn flits, asook ʼn masker. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle.

Toegang is R40 per volwassene, R10 vir SA studente en pensionarisse, en gratis vir kinders onder 18 jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie. Jaarpermitte is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin (tot 30 November 2021 teen ʼn 20%-afslag aangebied), wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die piekniekreeks word aangebied ten bate van ‘Laat ons Lees!’, die Taalmuseum se geletterdheidsprojek vir kinders, en besoekers word versoek om ʼn nuwe of tweedehandse kinderboek te skenk.

Vir meer inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument, skakel 021 872 3441/863 0543, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Daar is voorts heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte.

DIE TAALMONUMENT EN TAALMUSEUM IS OOP VIR BESOEKERS – TANS GRATIS TOEGANG VIR KINDERS ONDER 18. Die volgende Volmaanpieknieks is op 19 November, 18 Desember en dan op 15 Januarie, 18 Februarie en 18 Maart in 2022.

No comments :

Post a Comment