Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/24/2008

Etenstyd in Wolfkloof

Quintus van Rensburg

Bacchus kyk na sy kinders. Moet wees, hoe anders kry Robertson sulke lieflike weer. Om alles te kroon lê die dorpie lepel met die Breërivier aan die een kant en die Langeberge aan die ander sy.

Vir die ongelukkige siele wat nog nie die pad soontoe kon vind nie : Omtrent een en 'n half uur se ry van Kaapstad net duskant Worcester lê dié plek van oorvloed. En om vadersnaam draai af van die R62 wat op sy verveligste deur die dorp vleg. Wat op jou wag is Victoriaanse geboue, lanings jakarandas, die mooiste tuine en te veel wynplase om op een dag te besoek.

Robertson het in 1853 ontstaan en is vernoem na 'n dominee Robertson. In daardie dae was die dorp bekend vir sy wamakers, maar met die koms van die treinspoor was daar nie meer 'n aanvraag nie. Volstruisboerdery was vir 'n tyd lank aan die orde van die dag, maar toe die industrie na die Eerste Wêreldoorlog in duie stort moes Robertson se boere weer plan maak. Dis toe dat iemand met die idee kom om wingerd te plant. Dit was dan Bacchus wat sy seën hier uitgespreek het en saam met 'n paar bekende resiesperde bydra tot die area se roem wat al 'n paar geslagte hier oorleef het.

Onder die name wat in Robertson gestalte gekry het tel : Klipdrift, Graham Beck Wyne en Van Loveren (of klink Four Cousins en Papillon meer bekend).

As danksegging wy Robertson elke eerste naweek in Junie aan Bacchus in wat bekend staan as die Wacky Wine Weekend. Die lighartige naam onderstreep die genot wat feesgangers daardie naweek ervaar, maar moet jou nie laat flous nie, as dit kom by spys en drank is dit 'n saak van erns op Robertson.

Vanjaar het die voorreg my te beurt geval om te gaan baas speel in die restaurant van een van Robertson se mooiste plase. Wolfkloof Kelder het my genooi om my slag in die kombuis te wys en natuurlik nié af te steek nie, dit teenoor ander aanbiedinge soos Bon Courage se Café Maude, die SA Sjefs met Brasiliaanse cuisine by De Wetshof, Fraai Uitzicht se antipasti, Graham Beck se soesji, die Belgiese sjefs met Franse cuisine by Rosendal, die La Masseria-span by Wederom Kelder en Zandvliet se Noorweegse salm en Argentynse braai.
Gelukkig geen druk nie ...

Wolfkloof se wynmaker en eienaar, J.C. (Jan) Kannemeyer, het sy kinderdroom om wyn te maak hier verwesenlik. Ja, die kinders op Robertson droom inderdaad anders en ja, die ander J.C. Kannemeyer is Jan se oom John.

Wolfkloof het tans twee wyne. Die Child's Dream Merlot was Jan se eerste probeerslag en die wyn se karaktertrekke spreek van 'n ou hand, nie 'n beginner nie. Die merlot se outentieke etiket het Jan deur sy seuntjie laat teken. Tydens die Wacky Wine Weekend kon ons ook proe aan Jan se jongste, 'n Bordeaux-versnit.

Daar was konsensus dat die spyskaart vir die Wacky Wine Weekend Wolfkloof se wyn moes komplimenteer. Die restaurant, met sitplek vir 150+ persone, moes ook 'n ontbyt aanbied elke oggend.

Dit het maar woes gegaan tydens die eerste ontbyt vreemde hande wat mekaar moes vind in die kombuis, maar soos een dame glo opgemerk het, die kwaliteit het die wagtydperk oorskadu. Teen Sondag het ons gemaklik 84 tevrede klante in twee ure bedien.

'n Foendi van Avondale Wynkelder, Krige Visser, het met die idee gekom om Wolfkloof se wyn in 'n dis te gebruik. Coq au vin is gekies, maar die eerste toets het dit duidelik gemaak dat selfs nie Robertson se plaashoenders opgewasse sou wees teenoor 'n ou tradisionele Franse resep nie. Dit was uiteindelik 'n resep van Nigel Slater wat elke tweede Europeër na die kombuis gestuur het met 'n kompliment.

Die naweek se ander wenner was die camembert. Ons het die kaas voorberei met knoffel en tiemie, dit toegevou in bakpapier, vasgebind met takke roosmaryn wat ons sommer daar op die plaas gepluk het en dit in die oond gebak tot die kaas loperig was. Dit is dan bedien met hompe Franse brood om die kaas mee op te skraap. Die reuk van roosmaryn was permanent in die lug en het tweede en derde porsies uit sommige mense forseer.
(Let tog daarop dat nie alle soorte camembert geskik is vir hierdie resep nie. Indien jy by kwaliteit hou behoort jy nie 'n probleem te hê nie.)

Teen Sondag-middag, toe almal reeds huis toe is, was my gô uit en my voete het gedreig om van my te skei. Die tyd vir uithaal en wys was verby. Wel, behalwe miskien die oom en tannie wat so rooi soos hulle neuse gebloos toe hulle, leë bottels merlot in die hand, probeer verduidelik het dat hulle gaan wyn drink het langs Wolfkloof se dam en "per ongeluk ingesluimer het". Ek dink nie die tannie se hare was so wild en vol stokkies van slaap nie. En waarom dan nou nie? Dit is die Wacky Wine Weekend en Bacchus sou gevlei voel.

(Wolfkloof se wyn is slegs beskikbaar in beperkte hoeveelhede. Skakel of faks (023) 6263911 vir meer inligting of praat met Ronelle by 0828908828)

Besoek Wolfkloof.co.za vir meer inligting.

No comments :

Post a Comment