Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/04/2008

Fleur du Cap Ongefiltreerd

Soos laasweek belowe fokus ek hierdie week op Fleur du Cap se ongefiltreerede reeks. My lieflike dame en ek het ongelukkig ten tye van nog ´n uitnodiging Bergkelder toe ´n ander sosiale verpligting gehad, dus stuur ek toe vir vrind Gerrie om my sandale vol te staan. Die was natuurlik oorstelpt van vreugde synde ek aan hom gedink het en met trane in sy oë is hy toe vort nadat hy my kar gewas het. Hier volg sy relaas. Lesers sal let dat Gerrie sy taak bet erns bejëen het en tegnies geraak het.

"Groot was my vreugde to Alleman my na Bergkelder gebied om op uitnodiging van die keldermeester Fleur du Cap se reeks ongefiltreerde wyne te proe. Daargekom is ons toe onder die berg in. Die gange en donker gate is kersverlig en die keldermure is met honderde en honderde bottels wyn versier. Die Bergkelder-konsep is ´n rariteit in Suid-Afrika (ander voorbeelde plaaslik is Lievland en ook iewers een in Franschoek), maar in Europa is dit ´n algemene gebruik waar veral die Franse wyne in die "La Cave" (grot) verouder. Rede, natuurlik omdat dit koud en donker daar binne is en die wyne word ook nie aan vibrasies of allerlei steuring blootgestel word nie. Dis die perfekte omstandighede vir wyne om hul botteldae deur te bring, jaar na jaar in ´n grot van genot.

In een van die amper-verdwaal stegies wag daar toe ´n tafel met Riedel-glase (die Rolls Royce van wynglase) en vier bottels van die ongefiltreerde reeks; die sauvignon blanc, chardonnay, merlot en cabernet. Die reeks word genoem "ongefiltreerd" omrede hierdie wyne nie deur ´n laaste filtrasie proses gaan nie. Gevolglik bly die reste van gisselle nog as sediment in die wyn agter. En hoekom wil ´n wynmaker so ´n "onsuiwer" produk botteleer? Soos deur die Keldermeester beaam beteken dit dat meer van die natuurlike druifgeure in die wyn behoue bly. Die gevolg is geuriger, ryker wyne, met onskadelike sediment wat as bewys dien dat die wyn nie gefiltreer was nie. ´n Risiko, aldus die keldermeester, maar die resultate is oor en oor die moeite werd. Al vier wyne is defnitief koswyne en ek wil amper sê ryk en romerig met ´n lieflike nasmaak wat net nooit ophou nie. Probeer die groen, kruierige 2002 sauvignon blanc saam met vars aspersies en Brie-kaas. Of drink die 2001 chardonnay saam met lekker vars seekos. Hierdie sitrusgeurige en botterige wyn sal wonderlik smaak in kombinasie saam met diepsee Knysna oesters (die lekker vlesige grotes!). Die Veritas Dubbelgoud merlot 2001 is om van liries te raak. ´n Komplekse neus vol kaneel, naeltjies en donker sjokolade. En so van die soet goedjies gepraat, as jy nie hierdie merlot saam met ´n sappige lendeskyf wil drink nie, probeer gerus Bournville-sjokolade. Dis blykbaar hemels! En dan vir die 2001 cabernet sauvignon. Die diep, donker wyn het al die eienskappe van ´n tipiese cabernet - swartbessiegeure, sigaardoos en selfs ´n bietjie liquirice. Bêre die outjie as jy kan en knak hom oor ´n jaar of wat saam met Ma se Sondagmiddag lamsboud."

Nouja, daar het ons dit. Ek hoop vrind Gerrie het genoeg van die Chardonnay huis toe geneem want die kreefseisoen is op hande. Die merlot met Bournville-sjokolade? Die sal ek aan die avontuurlikes oorlaat om te probeer en berus by vrind Gerrie se woord dat dit hemels is. Beesvlees vir my 'seblief!

Wyne deur Gerrie geproe:
q Sauvignon Blanc Ongefiltreerd R 36
q Chardonnay Ongefiltreerd R 45
q Merlot Ongefiltreerd R 62
q Cabernet Sauvignon Ongefiltreerd R 77
Vir meer inligting, skakel 021 809 8582.

Sêgoed
"Wine improves with age. The older I get, the better I like it."

Op Germaans, Prost!

deur Kris-Jan Alleman

No comments :

Post a Comment