Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/05/2008

Hoe wyn gemaak word

Waar daar goeie kos, goeie wyn en goeie geselskap is word daar natuurlik goeie herinneringe gemaak.´n Ruk gelede het ek so aan die geskiedenis van wyn geraak en wil nie nou verder daaroor uitbrei nie. Hier volg maar ´n baie kort opsomming hoe wyn gemaak word by 'n koöperasie.

Die boer neem sy druiwe na die koöperasie. Daar word die druiwe geweeg. Dan word ´n monster van die druiwe geneem en dan getoets vir suikerinhoud met ´n balling-meter. Die suurinhoud van die druiwe word dan ook hier bepaal.

Die vrag word dan in die meule gegooi waar die druiwe so fyngemaak word dat die sous van die druif uitkom maar die druiwepitte nie gekneus word nie. Indien die druiwe pitte gekneus word stel dit ´n olie en suur vry wat ´n byterige smaak aan die wyn sal gee.

Die druiwesap word nou verkoel en laat staan vir 24 uur om toe te laat dat sedimente na die bodem toe kan sak. Die sedimente word op verskeie maniere verwyder. Die sedimente bestaan uit takkies, pitte en druiwe skille. Sodra die wyn sy graad van helderheid verkry het word dit na die fermentasietenks geneem.

By die fermentasie enks word ´n aktiewe gis bygevoeg. Die wyn word nou gelos om die natuurlike proses van die omskakeling van die suiker na alkohol te voltooi. Hoe meer suiker in die wyn is natuurlik hoe soeter is die wyn, hoe minder suiker in is na die fermentasieproses hoe droër is die wyn. ´n Droë wyn moet minder as 4 gram per liter suiker hê.

Temperatuur speel ook ´n baie belangrike rol in die wynmaakproses. Bo 32,2 grade gaan die gisselle dood en onder 4,4 grade word die gisselle dormant. So die wynmaker moet altyd sorg dat die temperatuur reg is. Die wynmaker besluit op watter stadium hy die proses stop.

Na die fermentasieproses word die wyn gebottel. Chardonnays word op drie maniere verouder naamlik in ´n staaltenk, of in ´n staaltenk met hout daarin of in houtvate. Die manier van veroudering het natuurlik ´n sterk invloed op die smaak van die wyn.

Die groot verskil tussen die rooi- en witwyne is die kleur van die skil. Vir rooiwyne word die skil ingelos met die fermitasieproses. Die skil gee die kleur aan die wyn. Druiwesap is kleurloos. Meeste van die rooiwyne word in houtvate verouder. Hout gee dan weereens daardie unieke smaak aan die wyn.

Wat interessant is omtrent die druif is dat die druif so deur die Vader geskep is dat ´n mens hom net soos hy is kan gebruik om wyn mee te maak. Om die druif is ´n laag gis wat, sodra die skil gebreek word, in aanraking kom met die suiker in die sap om dan die suiker in alkohol te verander. Die sap van die druif is ´n amper perfekte balans van nitrate om te verseker dat die gis kan groei. So sonder ´n vreeslike kennis van wyn maak kan ons begin eksperimenteer om ons eie wyn te maak.

Kos- en wynreëls bepaal watter wyn sal pas by watter tipe vleis of gereg. Maar gelukkig is daar van die meer moderne wynmeesters wat aanbeveel dat ´n mens die wyn drink waarvan jy hou en nie juis moet steur aan die reëls nie. Daarom dink ek nog steeds dat ´n goeie Cabernet goed saam met vis gaan.

Daar is ook al baie gepraat dat mens rooiwyn moet drink teen kamertemperatuur. Hierdie kamertemperatuur is natuurlik die Europese kamertemperatuur wat so in die omgewing van 16 tot 18 grade Celsius is. So daar is niks mee fout om ´n bottel rooiwyn so vir ´n uur of wat in die yskas te sit voor jy hom drink nie. Jy moet net sorg dat die temperatuur van die wyn nie onder 16 grade gaan nie. Ek glo ook verder daaraan dat rooiwyn moet so ´n halfuur voor die tyd oopgemaak moet word sodat hy kan asemhaal. Witwyn se drinktemperatuur is so in die omgewing van 14 to 16 grade Celsius.

deur: Frik Lombard

1 comment :