Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/05/2008

Rust in Vrede ... en hemel op aarde

Swaer Piet storm nou die dag hier by my in met ´n onstuimige frons. Ons moet nou dringend ons voorraad gaan aanvul want vrind Gerrie het ´n paar van diese vrinne het daar by hom aangebring en hulle het soos bronstige otters met ongebonde wellus onder sy versameling ingeklim. "Swerkater!" swets ek. Die swernoot het die jaarlikse trekkers Suid ook hier by my aangebring en hulle het soos sprinkane deur my kelder gedors. Na vlugtige kajuitraad pluk ons toe ´n sitplek uit sy Landie om plek te maak en sit toe af in die rigting van Stellenbosch. Op pad ry ons by ´n Coke-lorrie verby en toe moes ek weet dat daar perde is. Swaer Piet trek toe sy ore plat soos melkkoei wat gras geruik het en toe die stof gaan lê het sien ek ons staan voor die Van Rhyn Brandewyn Kelder op die Vlottenburg pad. Ons boek toe onmiddelik vir ´n toer en kyk selfs ´n skyfievertoning saam met kakiegeklede toeriste met sokkies in sandale. Die toer deur die kelder was merkwaardig maar die begeleiding nie. Die groentjie toerleier was op haar eerste toer en ongelukkig nie baie goed ingelig nie. Gevolglik moes die uwe die Duusmanne en Germane uit my gebrekkige kennisput help met die prossese van distilasie en nog wat. Dit wat ek nie geweet het nie dik ek toe aan. Dit blyk of dit effek gehad het, want hulle oë het al groter geword met elke verdigsel. Wat uitgestaan het as hoogtepunt was die kuiper wat met sy hamer en beitel al kuipende ´n pragtige ritme met die artifakte opgetower het. Die Duusmanne het van die Angels' Tears (roombasis likeur) gehou wyl die 15-jaar ´n uitstekende produk is wat die uwe gaaf geval het. Die groentjie het darem opgemaak met die proeëry toe sy ekstra sopies van die 15-jaar uitgedeel het. Ek moes ook net keer toe Swaer Piet Coke by sy 15-jaar wou gooi. Ent wel, als wel.

Na die brandewyn ontbyt vat ons toe kortpad na Alto toe. Alto was eens die wynmaak heiligdom van kaalvoet klong Hempies du Toit. Die se huidige plaas is net ´n paar honderd meter suid van Alto. Die dame wat ons bedien het was baie goed ingelig oor haar produk. Ons raak daar ook betrokke in ´n rugby gesprek met 2 Engelse omies, maar verander verander uit skaamte vinnig die onderwerp na die wyn ter tafel. Dit blyk dat hulle op ´n (Robert) Parker Krusade was, alreeds Meerlust bygeloop en nou op soek na Rust en Vrede. Ek maak toe ´n einde aan hulle rigtinglose soeke en stuur hulle onverwyld pad-op sodat ek en swaar Piet Alto se wyne in vrede kan smaak. My slotsom rakende Alto is dat die wyn in die ouer-wêreld styl val. Met ander woorde, vrugte verskans agter sware tanien vir langer bewaring. Dus, indien dit gedrink word moet dit óf gedekanteer word óf vir sowat ´n uur of 3 in die bottel "asemhaal" om sagter te word.

In die Landie geklim en ek sê Swaer Piet moet roer sodat ons by Rust en Vrede kan uitkom. Voor ons stop maak ons eers seker dat die Engelsmanne land uit is, want ek is moeg vir hand in die hoed loop oor ons nederige Bok-vertonings. Maar ek het niks om oor nederig te wees wanneer dit by een van ons "Blue chip" wyne kom nie. Wat ´n kragvertoning deur Rust en Vrede in hulle proelokaal! Die dame wat die lokaal bedien is nie net goed ingelig oor oor hulle eie wyn nie, maar ook oor wyne internasionaal. Die produkte wat ons proe is reeds genoegsaam verouder om wel geproe te word en word voorgesit in groot stylvolle bolglase. En die wyn ...heerlik. Dit val goed op die tong saam met kos maar, dit moet verkieslik huiwerig en keurig alleenstaande geniet word. Tyd moet met elke sopie gespandeer word, nie om die Rand te rek nie, maar die smaakplesier. Swaer Piet, nes ek, het veral die Tinta Barocca geniet. ´n Wyn wat nie weer volgende jaar vrygestel word nie omrede hulle net gaan fokus op ´n Estate-versnit. Die Estate-versnit verdien ook indrukwekkende buitelandse valuta onder die Ernie Els naam. Rust en Vrede doen ook ´n reeks waarvan van die druiwe ingekoop word en onder die Guardian Peak naam uitgereik word. Dit is meer bekostigbaar, maar is nie geproe met die besoek nie.

Oppad terug stop ons by Bilton as ´n nagedagte. Ek wou eers nie, want ek het ´n broertjie dood aan mense wat wyne na hulself vernoem, veral na aanleiding van Christo Wiese se 5 Heirs-reeks (5 Hase doen dit vir my). My opinie ter syde, die wyn was ´n aangename verrassing. Werklik goeie wyn teen amper billike pryse. Ook hier het ons entoesiastiese en ingeligte personeel ervaar. Die dame wat ons te hulp gestaan het, het vir ons die verskillende houtsoorte gewys wat in vatveroudering gebruik word. Sy het aan ons ander metodes uitgewys, soos stawe en skaafsels, en watter hout gee watter tipe karakter aan die wyn.

Na ons middagmaal op Stellenbosch besluit ons toe om nog ´n draai by Villiera te maak omrede dié wynbedrywigheid witwyn kán maak. Die teleurstelling was egter groot omrede die meeste van die produkte hier geproe mynsinsiens nog te jonk was vir die proelokaal en dit is nie deur die dienspersoneel uitgewys nie.

WYNE GEPROE
Bilton
Cabernet Sauvignon:
1999 R60-00 / 750 ml
2001 R68-00 / 750 ml
2001 R150-00 / 1.5 lt
Merlot:
2001 R65 / 750 ml
2001 R150-00 / 1.5 lt
2001 R600-00 / 5lt
Shiraz:
2001 R150-00 / 1.5 lt
2001 R600-00 / 5 lt

Rust en Vrede
1999 Estate Blend R 400 / 1,5 L
1999 Estate Blend R 200/ 750ml
1999 Cabernet Sauvignon R 115 / 750ml
2000 Tinta Barocca R 55 / 750ml
2001 Merlot R 100 / 750ml

KOOPWENK
Kies die hase pad na Hazendal vir ´n paar bottels Chenen Blanc Bushvine (houtverouderd) terwyl dit nog beskikbaar is. Dit is besig om baie akkolades in te oes en teen R32 is dit ´n goeie koop. Anders as baie van ons Kaapse houtverouderde chardonnays word die kenmerkende chennin-vrugtegeure nie deur die hout oordonder nie.

"Quickly bring me a beaker of wine, so that I may whet my mind and say something clever."

Proesnis

deur Kris-Jan Alleman

No comments :

Post a Comment