Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/08/2008

Peking-eend / Peking Duck

Die geheim van die Peking-eend is die bros vel. Dit word na die kookproses verwyder en apart bedien.

Dit is belangrik dat die eend se vel kurkdroog is voor daar begin word met die kookproses. Droog die eend goed af en sprei dan die vlerke oop. Dit sal ideaal wees indien jy die voël iewers kan ophang met oopgespreide vlerke. As jy die voël afvee met skoon brandewyn sal dit die droogproses aanhelp. Plaas 'n waaier so dat dit lug op die eend blaas en laat dit so staan vir 4 ure. Jy kan ook die voël oornag in 'n trek hang.

Jy gaan borsels van sprietuie nodig hê. Die sprietuie moet nie langer as 10 cm wees nie. Maak hulle mooi skoon en sny die punte af. Maak 2 vertikale snitte van so 2 cm lank regoor mekaar aan die wit kant van die uie. Dan maak jy nog 2 soortgelyke snitte regoor mekaar tussen die ander snye.

Plaas die uie in 'n bakkie yswater in die yskas. Die gesnyde punte sal opkrul en jou uie sal soos klein borseltjies lyk.

Die eend word bedien met 'n tipe pannekoek. Daarvoor het jy nodig:

450 g meel
600 ml kookwater
30 ml sesame-olie

Sif die meel en meng met die water om 'n sagte deeg te vorm.
Knie die deeg vir 10 minute tot dit 'n rubberagtige struktuur ontwikkel.
Bedek met 'n teedoek en laat met rus vir 20 minute.

Rol die deeg 5 mm dik uit en sny 5 cm-sirkels uit met jou dukker wat jy vir skons gebruik.
Smeer die een kant met sesame-olie en plaas 'n ongesmeerde sirkel bo-op.
Rol albei saam uit, so dun as moontlik. Hulle behoort uiteindelik 'n deursnee van ongeveer 15 cm te hê.

Verhit 'n skoon swaarboompan vir 30 sekondes en draai dan die hitte tot op die laagste merk.
Plaas 'n pannekoek in die pan en draai sodra daar lugborrels begin vorm.

Laat jou pannekoeke afkoel en draai hulle dan toe in foelie en hou hulle in die yskas tot benodig.

Jou eend gaan ook 'n sous nodig hê:

125 ml Hoisin (of pruimsous)
20 ml suiker
20 ml sesame-olie
20 ml koue water

Meng al die bestanddele in 'n klein kastrolletjie tot dit begin kook. Draai die hitte af tot by die laagste merk en roer vir 3 minute.

Gooi die sous in 'n opdienbakkie.

Jy het ook 'n sous nodig vir die bakproses. Meng 45 ml sojasous, 20 ml strooisuiker en 150 ml koue water en verf jou eend daarmee.

Plaas jou eend op 'n draadrak in 'n roosterpan met die bors na bo.

Gooi kookwater in die pan tot dit 6 mm diep is.

Die oond moet aanvanklik verhit wees tot 200ºC.

Plaas die eend onder in die oond vir 'n uur en 'n kwart.
Verf elke 15 minute met die drupsous.

Na 45 minute moet die hitte verhoog word na 230ºC.

Op die stadium kan jy die pannekoeke sommer so in die foelie in die oond sit om dit te verhit.

Voor opdiening verwyder jy die vel en sny of knip dit in 5 cm-blokkies. Hou dit warm.

Sny die eend in lang repe vir bediening.

Plaas nou die vel, eend, pannekoeke, sous en uiborsels (so in die yswater) op die tafel in hul eie opdienborde.

Jy eet die eend deur die twee helftes van die pannekoek versigtig van mekaar af te trek. Gebruik jou borseltjie om die sous op die klam een van die 2 pannekoeke te smeer.

Sit stukke hoender en vel op die sous, vou toe, rol op en eet.

No comments :

Post a Comment