Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/11/2008

Rissies

Frik Lombard

In Viëtnam noem hulle dit ot. Maar hier by ons word dit sommer chillies genoem. Rissies is al sedert 7 500 vC deel van die mens se dieet. Daar is bewyse dat sedert 3 500 vC rissies op ´n georganiseerde wyse gekweek is. Rissies word geklassifiseer as ´n vrug, alhoewel mense dit ´n spesery noem.

Daar bestaan 27 verskillende variëteite rissies waarvan 22 wild groei en net 5 gekweek word. Rissies het baie goeie kwaliteite en een daarvan is dat ´n sekere variëteit in Mexiko die minimum daaglikse vitamien C bevat, maar die rissies moet groen wees. Indien daardie selfde rissies gelos word om ryp te word, rooi, dan bevat hy twee keer soveel vitamine A as wat ´n wortel bevat.

Die brand kom voor in die vlies waar die pitte sit. Dit is ´n olie wat capsaicin genoem word. Aangesien die "brand" ´n oliebasis het help dit nie om water te drink as jy so ´n lekker hap rissies geneem het nie. Die water en olie meng glad nie. So ´n ander oplossing moet gesoek word. Daar word genoem dat dit sal help om rys te eet om die brand weg te neem. Nog ´n moontlike oplossing is om ´n lepel suiker te eet. Verder kan jy ook warm tee drink of ´n komkommer eet.

Natuurlik moet mens kan sê hoe sterk die brand gevoel van die rissies is. ´n Amerikaanse apteker genaamd Wilbur Scofield het ´n metode opgetoor om dit te bepaal. Suiker word in ´n glas water opgelos. Rissies word verpulp en dan word daar ´n sekere hoeveelheid druppels rissies in die suikerwater gegooi. Elke druppel rissies verteenwoordig ´n aantal punte. Hulle kry nou ´n paneel mense om die konkoksie te drink, en met elke sluk wat hulle neem word daar minder rissiesap ingegooi. Die paneel hou aan proe totdat die mengsel hulle monde nie meer brand nie. Daar kan nou gesê word dat Jalapeno's ´n Scofield-telling van 2 500 tot 4 000 het. Habanerao's het ´n Scofield-telling van 100 000 tot 300 000.

Die wêreld oor word rissies gebruik in die voorbereiding van kos, maar veral in die meer warmer streke van die wêreld. rissies word gebruik om kerries te maak in Thailand. In sekere dele van China gebruik hulle baie rissies in hulle kos. In Korea word rissies ingelê saam met gemmer en knoffel. In Tibet gaan hulle so ver as om rissies met kaas te meng.

Ek het in Dullstroom ´n ander gebruik van rissies gesien. Daar maak een entrepreneur toiletsitplekke van perspex waarin hy rissies sit. Dit lyk nie te sleg om na te kyk nie maar ek weet darem nie of ek die moed sal hê om op een van daardie sitplekke te sit nie. Daar is ´n spesialiteitswinkel in Sandton waar hulle rissie-roomys verkoop. So met die tyd het rissies hulle begin vestig in ons kultuur. So sien ek dat Mev Balls nou ook rissies saam met haar blatjang meng. Daar is ook nou rissie-tamatiesous.

Ek myself is lief om rissies in te lê en dan saam met my kos te eet. Die beste gebruik van rissies kom in die volgende resep voor. ´n chef van Kaapstad het hierdie voorgereg opgedis. Knoffel en rissies gebraai in botter. Dan word garnale bygevoeg. Sodra die garnale gaar is word dit gevlam met whiskey. Daarna word daar sjokoladesous oorgegooi en voorgesit. Dit klink miskien nie lekker nie maar ek kan my voorstel dat die brand van die rissies en die soet van die sjokolade ´n groot smaak ontploffing in jou mond kan veroorsaak.

No comments :

Post a Comment