Jy begin deur die perlemoen uit die skulp te sny. Vat 'n lekker skerp mes en steek hom hier vlak teen die skulp in.
As hy uit is sny jy al die uitgroeisels af, jy soek net die vleis.
Sny nou vir jou lekker dik stukke. Sny teen die grein van die vleis.
Nou slaan jy die stukke sag.
Hier verskil elke man van hoe hy die perlemoen slaan. Daar is twee fris manne wat elke Desember langs my kamp wat die perlemoen sommer lelik pakgee. Voor hulle vleishammers gehad het moes die arme goed sommer onder 'n massiewe spanner deurloop. As die een moeg word vat die ander een oor en so slaan hulle tot die perlemoen soos pannekoek lyk. Ek wiks myne net liggies met die plat kant van 'n mes.

Die geheim van perlemoen gaarmaak is dat jou pan hel warm moet wees.
Gooi 'n lekker stuk plaasbotter in die warm pan en laat loop met die perlemoen, net so twee sekondes elke kant.
Jy eet hom dadelik.
bydrae: J. Visser
(foto: N Yotaru)
No comments :
Post a Comment