En gaan kies maar eerder jou sampioene by die plaaslike supermark. Net kundiges kan 'n sampioen in die veld pluk. 'n Verkeerde keuse kan jou met jou lewe laat boet.
Hoe kies jy 'n sampioen in die supermark? Dit moet ferm wees en moet verkieslik net een kleur wees.

Portabellini sampioene is omtrent so groot soos die knopiesampioen, net bruiner van kleur. Die geur is intenser as die van die knopiesampioen.
Portabello sampioene is 'n gunsteling onder die braaiers. Dit is die naam vir die volwasse portabellini. Ander name is die portabella, bruinsampioen of swartsampioen. Hulle is groot en geurig met baie vleis.
Die Crimini is soortgelyk aan die knopiesampioen, maar is donkerder van kleur en het 'n ryk smaak. Dit is veral geskik vir gebruik saam met vleis en souse.
Oestersampioene is die beste van die supermarkreeks. Hulle het 'n delikate geur en kan rou geëet word, net liggies gebraai word of gebruik word in sop, risotto en pasta. Dit is 'n goeie sampioen om te gebruik saam met vleisdisse.
Shimeji het 'n neutagtige smaak en gaan veral saam met roerbraai, Thaise disse of net so met rissie of knoffel. Gebruik hulle ook saam met vis of hoender.
Porcini het 'n sterk geur. 'n Gereg met room en sampioene vra vir hierdie soort. Braai dit in botter of gebruik in sop, bredies, pasta, souse en risotto.
Enoki het net 'n paar sekondes nodig in die pan. Hulle delikate voorkoms gee enige dis 'n ekstra dimensie. Hulle is ook geskik vir sop.
Eringii het baie vleis en is veral geskik vir hoendergeregte.
Shitake het 'n sponserige tekstuur en 'n rokerige geur. Dit is nommerpas by tuna, in sop, in roerbraai of net so in skywe in Teriyake-sous met gemmer, knoffel en rissie.
Onthou tog dat jy nooit 'n sampioen was nie. Die voedingswaarde, wat meesal in die skil sit, word daardeur geaffekteer. Vee dit af met 'n klam lap.
No comments :
Post a Comment