Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/05/2008

Verjaarsdae

Koek
Eerste verjaarsdag
Vir daardie spesiale eerste verjaarsdag is dit beter om twee koeke te bak. Die een is net vir die verjaarsdagmaatjie om alleen te eet (. . . en te mors) en die ander een vir die gaste.

Bak vooruit.
As tyd 'n faktor is, kan die koek 'n week voor die tyd gebak en gevries word in 'n lugdigte houer, todat jy reg is om dit te versier.

Versier
Indien jy die koek vooruit gebak het, ontvries dit vroegtydig die dag voor die partytjie en versier onmiddelik. Dit gee die koek genoeg tyd om vanself te ontvries en daar gaan nie van die vogtigheid verlore nie. Dit bly ook langer vars en klam.

3D Koek
As jy beplan om die koek in sekere vorms te sny, is dit raadsaam om dit eers te vries. Dit voorkom dat die koek verkrummel en opbreek wanneer jy dit sny.

Floppies
Beplan vooruit indien die eerste poging dalk nie suksesvol is nie - laat jouself genoeg tyd vir 'n tweede poging

Gekoopte koek
Bestel

Om onnodige stress uit te skakel en seker te maak jy kry wat jy wil hê, moet die koek vroegtydig bestel word

Spesiale ontwerp
Indien jy 'n spesiale koek bestel het, is dit wys om die dag voor die partytjit seker te maak dat die koek reg versier is. Dit gee die bakkers genoeg tyd om die saak reg te stel as dit nie reg is nie.

Versierings
Spaar Tyd
Om tyd te bespaar wanneer die koek versier moet word, vul al die versiersakke voor die tyd. Maak een sak met elke kleur vol en gebruik soos nodig.

Versiersakke
Maak jou eie versiersakke. Dit spaar tyd en geld. Sny waspapier in vierkante van 250 - 300mm. Vou dubbeld om 'n driehoek te vorm en vou dan weer om die middel van die gevoude kant te kry. Hou die middelpunt vas en rol die een kant van die driehoek op om tot by die middelpunt en vou dan die ander helfte om die eerste om 'n stewige tregter te vorm. Jy kan die kante omvou of met kleefband plak om dit stewig te hou.
Sny nou die punt van die tregter oop om die vorm te huisves en maak die tregter half-vol versiersuiker.
Druk die versiersuiker vorentoe en vou die bokant van die tregter toe tot die versiersuiker stewig vasgedruk is. Die sak is nou reg om te gebruik

Patrone
Patrone is handig om ontwerpe van prente of boeke na die koek oor te dra. Plaas waspapier of aftrekpapier oor die prent en trek dit na met 'n skerp potlood. Dra nou die patroon oor na die grondlaag op die koek der met 'n skerp naald al op die lyne gaatjies te steek.

Verversings
Aartappelskyfies
Moenie in bakke gooi by 'n kinderpartytjie nie. Sny net 'n gat in die sak en sit dit plat neer. Dan weet almal ook watter smaak die skyfies is.

Happies
Dit is belangrik om versnaperings voor te sit todat die ete bedien word. Bv. Artappelskyfies, doopsouse, kaashappies, vrugte borde, koue vleise, buffalo wings

Toebroodjies
Een brood maak tot 11 toebroodjies. Gebruik klenkoekie vormpies om interessante patrone uit te sny.

Volwassenes
Wanneer jy gaste by die huis of in 'n restourant onthaal, is 'n buffet-ete baie keer goedkoper en minder moeite as 'n aansit ete. Bedien groot skinkborde met kos wat vooraf gemaak kan word.

Ysies
Iets wat ek oulik vind veral vir kinders, is om die plastiek
vormpies wat in sjokolade dose is, vir die kinders te vul
met aanmaakkoeldrank en dit te vries.

Gaste
Allergies
Almal wil graag deelneem aan die verrigtinge. Indien jy bewus is dat sekere gaste sekere voedsels vermy, sorg dat daar alternatiewes bekikbaar is.

Kruie- of ystee
Baie mense vermy gaskoeldranke of koeldrank met suiker in. 'n Goeie idee is om ystee of kruietee beskikbaar te hê.

Kinders
Koek
'n Koek is noodsaaklik. Hou dit eenvoudig. Moenie probeer om 'n aparte ete vir die volwassenes voor te berei nie - almal sal te besig wees om hul eie kinders dop te hou.

Hoeveel maatjies
'n Algemene reël wat nogal goed werk - is om soveel maatjies te nooi as wat die kleinding wat verjaar oud is. Moet nie meer as agt nooi nie en sorg dat daar genoeg toesig is vir al die kleintjies.

Vier tot vyfjariges
Vir 4 tot 5 jariges is roomys en koek noodsaaklik - hou by basiese kleure en geure. Kinders geniet ook betrokke te wees by die versiering van hul eie vormkoekies Skryf die name van die maatjies op die koppies om verwarring en vermorsing te voorkom.

Uitnodigings
Wanneer om te stuur
Mense is besig. Om negatiewe terugvoer te vermy moet uitnodigins ten minste 2 - 3 weke voor die groot dag

Koste
As koste 'n faktor is kan uitnodigings sommer op die rekenaar gedruk word

Persoonlike uitnodigings
Persoonlike uitnodigings maak altyd 'n goeie indruk. Koppel die uitnodigings aan name, gebeurtenisse of foto's

Selfgemaak
Kinders hou daarvan om betrokke te wees met die maak van uitnodigingskaartjies. Druk 'n basiese kaartjie op die rekenaar uit en laat die kleingoed dit verder versier.

Antwoordkaartjies
Klaarbetaalde antwoordkaartjies binne die uitnodiging moedig die ouers aan om te antwoord en voorkom die verleentheid van onvoorbereid wees vir die gaste wat opdaag.

Inhoud
Dui duidelik die plek en die tyd van die partytjie aan asook hoe laat die partytjie verby sal wees.
Dui ook aan wat die gaste kan verwag
Moenie vergeet om jou eie naam en kontakbesonderhede te gee nie asook die datum wat jy graag 'n antwoord op die uitnodiging wil hê.

Aktiwiteite
Begin reg
Aan die begin van 'n partyjie is die kinders baie opgewonde. Kies 'n speletjie of aktiwiteit waaraan almal kan deelneem en maklik kan inskakel - al is hulle bietjie laat.

Kies reg
Wanneer aktiwiteite gekies word moet die gaste se ouderdom in ag geneem word. Klein kindertjies steur hulle nie aan reëls nie - en groter kinder kinders haat speletjies vir kleintjies! Kies speletjies waarin elke kind tenminste een keer die wenner kan wees en goed voel oor homself.

Binneshuis
Wees voorbereid om op kort kennisgewing die partytjie binneshuis voort te sit indien dit sou begin reën. Skattejag en soortgelyke speletjies verg goeie voorbereiding maar is altyd 'n treffer.

Mylpaal verjaarsdae
Stuur saam met die uitnodigings ook 'n eenvoudige vorm uit en vra die gaste om dit te voltooi. bv.
My grootste verleentheid saam met Anna was:______
Wat ek altyd van Anna sal onthou is:______________
Iets wonderliks wat Anna vir my gedoen het_________
Die snaakste ding saam met Anna was ___________
Ens
Ens.
Laat die gaste dan om die beurt grepe uit die vormpies voorlees en verduidelik. Dit maak ook 'n wonderlike plakboek item na die partytjie.

Speelgoed
Kunsvlyt
Kleiner kinders- en veral dogtertjies hou daarvan om iets te maak. Laat hulle toorstaffies of iets maak wat hul verbeelding aangryp (Al die voorbereidings moet vooraf gedoen word)

Speletjies
Af, Af, Af
Laat die maatjies in 'n kring staan en 'n bal vir mekaar gooi. Indien die een die bal mis vang of lelik gooi, word hy gestraf deurdat hy op een knie moet afsak. As hy dan weer 'n fout maak moet hy op altwee knieë staan, plat sit of lê. Indien hy egter hierdie keer raak vang, kan hy terugkeer na die vorige posisie.

Appelskil
Kyk watter kind kan 'n appel so skil dat sy skil die langste aaneenlopende skil vorm

Balonne
Sluit die partytjie af met die vrylaat van balonne - soveel as die kleinding oud is. Laat die gaste goeie wense op 'n stukkie papier skryf en maak dit dan aan die balonne vas voordat dit vrygelaat word.

Been-stoei
Twee spelers lê op die mat met hul koppe by die ander se voete. Hulle lig die binnekantse bene op en buig dit drie maal op die telling 1, 2, en drie! Op die derde telling hak hulle hul bene by mekaar in en probeer die oponent omrol.

Boontjiesakgooi
Vir kleters is dit 'n baie lekker speletjie en dit help sommer met koördinasie ook

Eendresies
Merk 'n wegspringplek en wenpaal uit en laat die spelers resies hardloop terwyl hulle hul enkels vashou.

Lepelresies
Lê 'n roete deur die tuin uit vir 'n resies of 'n aflos. Gebruik wattebolletjies, druiwekorrels of broodballetjies. Kinders plaas die balletjies in die lepel en moet dan die roete so gou moontlik voltooi. Indien die voorwerpe afval - word hulle met 'n paar tree ge penaliseer.

Muurverf
Berei 'n groot doek voor(ou laken), kry genoeg kwaste en wasbare verf en die kinders het 'n ideale geleentheid om kreatief te wees. Hierdie kunswerk kan gebêre word of selfs as versiering in die kinderkamer dien.

Papier-Gholf
Benodigdhede
"n Groot vel papier
Kleurpodlode (Een vir elke speler)
Teken 'n volledige putjie op die vel papier. Dui die bof, grense en putjie duidelik aan. teken gerus ook 'n paar watergate of sandkuile aan.
Die eerste speler plaas nou sy potlood op die bof en met sy oë toe, trek hy 'n reguit lyn in die rigting van die putjie. Dit is nou die ander spelers se beurt om dieselfde te doen. Net soos in regte golf kry die speler wat die verste van die putjie af is nou die geleentheid om sy tweede "hou" te slaan. Indien die hou oor die grens gegaan het of die water geraak het. word 'n hou bygetel.
Die speler(s) wat die minste houe slaan om 'n putjie te behaal, is die wenner en kry een punt. Speel soveel gaatjies as wat nodig is en die speler met die meeste punte is die wenner.

Seepballe
Die volwassenis kan seepballe blaas wat die kleintjies kan stukkend slaan. Die kleuters geniet hierdie non-kompiterende spel baie.

Skattejag
Steek 'n "skat" of skatte in die huis of die tuin weg en laat die kinders dit soek deur leidrade of wenke te volg wat jy ook wegsteek

Speel-Speel
Grimeer die kinders soos verskillende karakters van 'n bekende storieboek en laat hulle dan die storie opvoer!

Tippy,tippy,touch
Die erste speler sê Tippy,tippy,touch raak aan .........! Hy nommineer dan 'n kleur, voorwerp, soort blom of enigiets wat hy self kan sien. Die speler probeer dan 'n ander speler aanraak voordat lg. die genommineerde voorwerp kan kry. Indien hy slaag is dit weer daardie outjie se beurt om te nommineer.

Vroteier
Laat die kinders in 'n groot kring sit met genoeg spasie rondom. Die verjaarsdagmaatjie begin om al om die kring te loop. Sy probeer dan ongemerk 'n sakdoek agter een van die spelers te los. Indien sy rondom die kring kan loop en weer by die speler kom waaraagter die sakdoek lê, is daardie speler "vroteier" en moet binne in die kring gaan sit. As die speler egter agterkom dat die sakdoek agter hom lê, gryp hy die sakdoek en probeer die speler vang wat die sakdoek neergegooi het. Die een wat die sakdoek neergegooi het probeer weer so gou moontlik op die een wat hom jaag se sitplek te kom.

No comments :

Post a Comment