Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

9/27/2008

Kos van die eeu

Peter Veldsman se naam is sinoniem met lekker kos. Sy resepte pryk in menige amateur-kok se persoonlike versameling danksy sy gewilde rubrieke in tydskrifte en koerante en sy vele radio-onderhoude en -praatjies. Hy is nie net ´n koskenner nie - hy's ´n kospersoonlikheid. Sy vorige publikasies was treffers en sy nuwe pragboek Kos van die eeu is ´n pronkstuk vir enige koffietafel en kombuis. Boonop sal dit ´n gewaardeerde geskenk wees - veral vir Suid-Afrikaners wat hulle nou in die buiteland bevind.

Peter het gaan kyk na Suid-Afrika se ryk geskiedenis en die verskeidenheid invloede wat ingewerk het om ´n kosmopolitaanse kostradisie hier te vestig. En Suid-Afrikaanse kos is beslis nie net bobotie en biltong nie. Peter het gaan proe aan en eksperimenteer met Nguni, Sotho, Britse, Franse, Italiaanse, Duitse, Hollandse, Portugese, Griekse, township-, Maleise en Indiese disse soos die reënboognasie dit maak en dis alles onder die bykans 300 resepte in Kos van die eeu. Soos die uitgewer, Tafelberg, se publisiteit sê: "van tradisionele geregte soos smoorsnoek en boerewors, tot moderne internasionale gunstelinge soos tagliatelle, polenta en terami-su." Daar is selfs ´n hoofstuk oor vegetarisme, wat Peter "die groot nuwe trek" noem!

As dit nie genoeg is om mens se mond te laat water nie, sal kosfotograaf Johan Wilke se meer as 60 pragtige volkleurfoto's dit beslis regkry. Van voorblad tot agterblad is die foto's ´n lus vir die oog.

Maar Kos van die eeu is veel meer as net ´n resepteboek. Peter het die resepte aangevul met geskiedkundige agtergrondinligting oor die Suid-Afrikaanse kookkuns wat die maatskaplike en politieke omwentelinge van die afgelope eeu weerspieël. Dit word boonop aangevul met uittreksels uit Hennie Aucamp se gewilde bloemlesing kosstories, Borde borde boordevol wat beteken dat mens lekker kan lees, al is jy nie noodwendig lief vir kook nie.

Kos van die eeu word deur Tafelberg uitgegee. Dit is ook in Engels beskikbaar as Flavours of South Africa.

No comments :

Post a Comment