Die waarheid van hierdie stelling is duidelik in die geval van C Louis Leipoldt ― nie net was hy ’n digter en kenner van die kookkuns nie, maar ook ’n uitmuntende, traak-my-nie-agtige, anekdotiese, prikkelende kroniekskrywer van die ou-Kaapse kultuur en die destydse Afrikaanse lewensstyl.
Die vyf-en-vyftig rubrieke wat Polfyntjies vir die Proe uitmaak, is tussen 1942 en 1947 onder die skuilnaam K A R Bonadie geskryf, en het in Die Huisgenoot onder die opskrif Kelder en Kombuis verskyn. Leipoldt het omtrent drie weke na die verskyning van die laaste rubriek op die ouderdom van ses-en-sestig jaar gesterf. Die formaat van ’n gereelde tydskrifrubriek het moontlik daartoe bygedra dat Leipoldt sy wye kennis van kos en wyn, onder andere, op ’n intieme, nonchalante gesprekstoon met sy lesers gedeel het. Geen wonder dat Fred Le Roux Polfyntjies beskryf het as “van die mooiste prosa wat ons van hom het” nie.

No comments :
Post a Comment