Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

1/04/2010

Geskroeide tuna met mange tout en petit pois

Indien jy nie rou tuna kan eet nie is die gereg nie vir jou nie, maar weet dat jy 'n heerlike gereg mis.

Jy gaan die volgende slaaisous nodig hê vir jou gereg sodra dit klaar is. Maak dit vooraf en hou dit in die yskas:

10 ml sojasous
40 ml witwynasyn
80 ml avokadoolie
sout en varsgemaalde swartpeper

Maak hierdie salsa om saam met die vis te bedien. Meng die bestanddele net liggies:

1 avokado, in klein blokkies gesny
40 ml ingelegde gemmer, fyn opgesny
die sap van 'n halwe suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit nou 20 ml olyfolie in 'n braaipan tot dit begin rook.
Intussen sorg jy dat jou tunafilette (sowat 800 g s'n) goed gegeur is met sout en varsgemaalde swartpeper. Druk die geurmiddels fisies in die vis in.

Skroei die vis aan beide kante vir 2 minute per kant. Hou eenkant.

Blansjeer die volgende bestandele net vinnig in kookwater. Dit moet net effens sag word:

120 g vars petit pois
120 g groenboontjies
120 g mange tout

Spoel dit af in yskoue water en meng met 20 ml vars kruisement, 20 ml vars koljander, 120 g jong pak choi / jong spinasie en die slaaisous. As dit beskikbaar is sit ek ook skyfies turksvye by.

Verdeel jou groen bestanddele tussen vier borde. Sny die tuna in skywe en pak uit op die groente. Sny teen die grein van die vleis, sodat die tekstuur mooi vertoon.

Deel die salsa tussen die borde en bedien.

No comments :

Post a Comment