Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

4/17/2010

Nargisi Kofta

Die Indiese kookkuns het die Engelse eetgewoontes beïnvloed. Tydens die besetting van die Kaap het daardie disse ook hul pad na Suid-Afrika gevind.

Wat minder bekend is, is dat die Britte ook hier en daar die Indiërs beïnvloed het. Nargisi Kofta is een so ’n gereg. Die Britse imperialiste se voorliefde vir Skotse eiers was verantwoordelik vir die ontstaan van die dis.

8 eiers
400 g maalvleis (lam)
1 ui, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 teelepel borrie
½ teelepel rissiepoeier
1 teelepel garam masala
sout
½ koppie rysmeel
olie vir diepbraai

Kook 6 van die eiers tot hard. Dompel dit agterna in yskoue water en skil af. Hou eenkant.

Meng die maalvleis, ui, knoffel, borrie, rissiepoeier, garam masala, 1 rou eier en sout saam. Deel in 6 gelyke dele.

Neem een hardgekookte eier en een deel van die vleismengsel en vou die vleis om die eier. Maak 6 sulke vleiseiers. Sprinkel rysmeel oor al die eiers.

Verhit die olie in ’n diep pan. Klits die oorblywende eier en doop elke vleiseier daari. Diepbraai die eiers tot goudbruin.

Vir die sous het jy nodig:

2 uie, fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
2 cm vars gemmer, fyngekap
3 tamaties, fyn opgesny
2 teelepels gemaalde koljander
1 teelepel gemaalde komyn
½ teelepel borrie
½ teelepel rissiepoeier
1 teelepel garam masala
8 eetlepels gewone jogurt
3 eetlepels olie
sout
vars koljander

Verhit die olie en braai die uie tot dit goudkleurig is. Voeg dan die gemmer en knoffel by. Braai vir 3 minute en voeg die tamatie en speserye by. Meng goed en braai tot die mengsel begin olie afgee. Voeg die jogurt en ’n ½ koppie water by. Meng goed en kook vir nog 2 minute.

Voeg die gebraaide eiers by en kook nog 1 minuut lank.

Sny die eiers in die lengte deur voor opdiening. Garneer met vars koljander en bedien met chapatis.

No comments :

Post a Comment