Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/02/2011

La Motte wen 2012 Great Capitals-kompetisie

La Motte naby Franschhoek is die Suid-Afrikaanse wenner van die Great Wine Capitals (GWC) Best of Wine Tourism-toekenning vir 2012. Dié aankondiging is vandag (27 Oktober) in Mainz in Duitsland gemaak by `n glansdinee waar vooraanstaande wyntoerismepraktisyns van orals ter wêreld teenwoordig was.

Die gasheer by die geleentheid was GWC, `n netwerk van die voorste wynproduserende lande wat internasionale beste praktyk uitruil om wyntoerisme-standaarde wêreldwyd te verbeter.

La Motte, waarvan die geskiedenis oor drie eeue strek, is in die kategorie Kuns en Kultuur as die wenner aangewys, danksy die indrukwekkende kunsmuseum wat die Rupert-familie se groot versameling kunswerke deur Pierneef, die 20ste-eeuse Suid-Afrikaanse meester, en ander kunstenaars huisves. Die landgoed is egter as algehele wenner aangewys omdat dit ook uitstekend gevaar het in die ander kategorieë waarvoor dit ingeskryf het.

As die houer van die Best of Wine Tourism-titel vir 2012 staan La Motte nou in dieselfde ry as ikoniese name in wyn soos Spanje se Bodegas Campo Viejo van Rioja, geloof vir sy wyn en argitektuur die bekende 13de-eeuse Château d´Agassac van Bordeaux in Frankryk die 900 jaar-oue Dievole van Florence in Italië Vinothek Bingen am Rhein in Duitsland wat dien as besoekersentrum by die poort na die Middel-Rynvallei, ʼn UNESCO-Wêrelderfenisgebied Quinta do Portal, wat vier landgoedere in die Douro, Portugal, verteenwoordig Bodega Atamisque wat so hoog as 1 300 meter bo seespieël by die ingang na die Uco-vallei in Mendosa, Argentinië geleë is die weelde-oord Meadowood van Kalifornië se Napa-vallei met sy driester-Michelinrestaurant en spesialisboetiekgidse, Appellation Central Wine Tours van Christchurch, Nieu-Seeland.



Benewens Kaapstad-Kaapse Wynland is die lede van GWC Mainz-Rheinhesse (Duitsland), Bilbao-Rioja (Spanje), Bordeaux (Frankryk), Florence (Italië), Mendoza (Argentinië), Porto (Portugal), San Francisco-Napa (Verenigde State) en Christchurch (Nieu-Seeland).

Waterkloof naby Stellenbosch, ʼn Biodiversiteit & Wyn-kampioen, het in Suid-Afrika net-net tweede gekom. Dit het die kategorie Argitektuur en Landskappe gewen, en in verskeie ander kategorieë ook baie goed gevaar.

Ander streekwenners was Delaire Graff Lodges & Spa in die Helshoogtepas naby Stellenbosch wat vir die tweede agtereenvolgende jaar vir die beste akkommodasie bekroon is Waverley Hills tussen Tulbagh en Wolseley (Volhoubare Wyntoerismepraktyke - ook vir die tweede agtereenvolgende jaar) Tokara van Stellenbosch (Wyntoerisme-restaurant) Solms-Delta buite Franschhoek (Vernuwende Wyntoerisme-ervarings) en Waterford-landgoed van Stellenbosch (Wyntoerismedienste). Waterford het dié kategorie ook reeds tevore gewen.

Steenberg-wingerde was verlede jaar die Suid-Afrikaanse wenner. Die landgoed het `n gewese skoonmaker, Zelda Petrus, wat tans vir kelderverkope-kliëntedienste verantwoordelik is, gekies om na Kalifornië te vlieg om meer oor wynverkope en bemarking in die beroemde Napa-vallei te wete te kom. Trinchiro Family Vineyards en die San Francisco-Napa-tak was die gashere.

André Morgenthal, die kommunikasiebestuurder van Wines of South Africa (WOSA), het namens die Kaapstad-Kaapse Wynlandtak van GWC gesê daar was vanjaar meer inskrywings as verlede jaar, en dat die gehalte hoër was - ondanks die lang ekonomiese afswaai, wat apatie onder produsente kon veroorsaak het. "Ons voel bemoedig deur die al groter steun vir die kompetisie, en die vertroue en optimisme wat dit onder plaaslike wynmakerye in hul aanbod aan besoekers en wynliefhebbers weerspieël.

"Daar is `n toenemende besef dat wyntoerisme `n belangrike werktuig is om `n dieper verhouding met verbruikers te skep. Dit hoef nie bloot van aangesig tot aangesig te wees nie. Dit voeg waarde, dieper betekenis en deurlopenheid by hul wisselwerking met wynliefhebbers, veral deur middel van sosiale kanale.

"Wynliefhebbers smag na inligting wat hulle vertel waarom `n wynmakery uniek is. Dit help hulle om hul besoek te beplan, en hulle ruil hul ervarings met ander uit. Hulle wil verstaan wat een produsent van `n ander onderskei, nie net wat hul wyne betref nie, maar ook wat die etos en lewenstyl van elke wynmakery betref."

Morgenthal het gesê `n onlangse aanlyn-ontleding deur Acceleration Media het getoon dat Suid-Afrika `n positiewe aanlyn-reputasie onder internasionale Internetgebruikers geniet. Talle gesprekke draai om die land as `n toeristebestemming.

Vanjaar se beoordelaars was onder andere die wyntoerismespesialis Margi Biggs die wynjoernalis Joanne Gibson die voorligtingsbeampte van die Biodiversiteit & Wyn-inisiatief (BWI) Joan Isham die voormalige hoof van die SA Nasionale Kunsmuseum Marilyn Martin die argitek Alex Robertson die kos-, wyn- en leefstyljoernalis Myrna Robins die kosresensent en skrywer van die jaarlikseRossouw`s Restaurant Guide J.P. Rossouw en die terreinargitek Johan van Papendorp.

Die wenners en naaswenners in elke kategorie was:

AKKOMMODASIE
1. Delaire
2. Grande Provence
3. Steenberg-hotel

ARGITEKTUUR EN LANDSKAP
1. Waterkloof
2. La Motte
3. Tokara

KUNS EN KULTUUR
1. La Motte
2. Delaire
3. Solms Delta

VERNUWENDE WYNTOERISME-ERVARINGS
1. Solms Delta
2. Spier
3. La Motte

VOLHOUBARE WYNTOERISMEPRAKTYKE
1. Waverley Hills
2. La Motte
3. Waterkloof

WYNTOERISMERESTAURANTE
1. Tokara-restaurant
2. Rust en Vrede
3. Waterkloof

WYNTOERISMEDIENSTE
1. Waterford
2. Steenberg-wingerde
3. Grande Provence

No comments :

Post a Comment