Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

4/04/2012

Wynmakers positief oor Cape Wine

Cape Wine, wat deur Wines of South Africa (WOSA) aangebied word, is ná vier jaar terug. Soos in die verlede, is daar groot geesdrif aan die kant van produsente om internasionale wynkopers, restaurant-eienaars, sommeliers en die media die vordering te laat ervaar wat daar in dié tyd in Suid-Afrikaanse wyn was.

Die handelsuitstalling, wat oor drie dae van 25 tot 27 September in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) aangebied word, het reeds sterk steun onder twee derdes van die land se wynmakers gekry. Dit sluit die groot maatskappye in, maar ook onafhanklike en kleinskaalse wynmakers wat reeds hul deelname bevestig het.

Volgens Su Birch, WOSA se uitvoerende hoof, gaan afgevaardigdes van oral in Europa, die VK, Noord-Amerika asook Afrika, Latyns-Amerika, Hongkong, China en Japan hier wees. "Ons is veral opgewonde omdat die reaksie van Asië en Afrika veel beter as ooit tevore is."

Birch is reeds sedert 2000 WOSA se uitvoerende hoof, en is onlangs deur die Britse wynmark-navorsingmaatskappy Wine Intelligence as een van die voorste tien persoonlikhede in wyn aangewys weens haar "wesenlike rol" in die bevordering van Suid-Afrika se reputasie as ʼn wynproduserende land.

Sy het gesê vanjaar se bedryfsuitstalling sal ʼn oorsig bied van die geweldige vordering met die kweek, maak en bemarking van wyn in Suid-Afrika sedert land 20 jaar gelede vir die wêreldhandel toeganklik geword het. By verre die meeste van die leidende gevestigde én nuwegeslag-wynmakers sal teenwoordig wees.

"Benewens die aanbieding van ʼn groot verskeidenheid van proegeleenthede, seminare en werkwinkels gaan die program die klem lê op veranderings in wynstyle, produsente se reaksie op klimaatsverandering en die bestuur van skaars natuurlike hulpbronne, asook die beskerming van ou wingerde as deel van die bedryf se erfenis."

Sy glo die belangstelling in Cape Wine 2012 onder sowel uitstallers as besoekers, wat in dié vroeë stadium - ses maande voor die opening - reeds geweldig groot is, kan aan verskeie faktore toegeskryf word: "Ondanks sy betreklik kort betrokkenheid by internasionale wynmarkte, het Suid-Afrika hom reeds onderskei wat betref gehalte en sy baanbrekersinisiatiewe om eko-volhoubaarheid te bevorder.

"Ons is ook in die gelukkige posisie dat ons reeds `n stewige reputasie vir Cape Wine as `n voorste handelsuitstalling gebou het. Van die mees vooraanstaande afgevaardigdes is van mening ons vorige uistallings was van die mees geslaagde in die suidelike halfrond wat aanbieding en logistiek betref.

"Ons het van ons tweejaarlikse siklus afgesien toe Suid-Afrika die FIFA-wêreldbeker in 2010 aangebied het, en daarom is plaaslike wynmakers geesdriftig om na vier jaar waartydens hulle belangrike ontwikkelings aangevoor het, hul jongste wyne ten toon te stel.

"Nog `n aspek wat ons meen breë belangstelling in die uitstalling sal prikkel, is die sterk klem op omgewingsvolhoubaarheid. Dit strook met die land se baie progressiewe benadering tot ekovriendelike wynmaakpraktyke. Ek verstaan ons is die eerste wynuitstalling ter wêreld wat herbruikbare stalletjies aan deelnemers bied. Die sterk, plaaslik vervaardigde saamgestelde veselborde wat ons gebruik, kan weer verpulp word. Hulle bevat geen vesels van vars gekapte bome nie, en hulle kan ook volledig opvou sodat die uitstallers dit elders weer kan gebruik."

Birch sê die groen tema word in talle aspekte van die uitstalling weerspieël. Afgevaardiges kry verblyf binne loopafstand van die uitstalling, en gaan hul vlugte verreken deur inheemse bome te koop sodat dié in die Wynland geplant kan word.

Die aand voor die uitstalling, 24 September, gaan gebruik word vir `n "groen das"-partytjie by die V&A-Waterfront, waar wyn by allerlei plaaslike disse gepas gaan word. WOSA se Wine Link-fasiliteit gaan afgevaardigdes vooruit reeds toegang gee tot `n databasis wat hulle geheel en al kan deursoek om hul besoek te beplan. Hulle kan selfs `n lys van wyne uit bepaalde streke, met `n bepaalde styl en sekere prys vir hulself opstel, sê sy.

Om met Cape Wine 2010 saam te val, gaan `n vennootskap van Suid-Afrikaanse toerismeliggame met die wynbedryf saamwerk en Vindaba, `n handelsuitstalling van die land se indrukwekkende wyntoerisme-aanbiedings, aanbied. Dié inisiatief sal gelykertyd ook by die KIKS plaasvind, en behels SA Toerisme asook die verskeie wynroetes, Kaapse Toerisme, Cape Town Routes Unlimited en die Wes-Kaapse Departement van Finansies, Toerisme en Ekonomiese Ontwikkeling.

No comments :

Post a Comment