Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

5/24/2013

Absa Calitzdorp Port- & Wynfees

Die Klein Karoo is beslis die plek om te wees hierdie winter vir die jaarlikse Absa Calitzdorp Port- & Wynfees.

Die fees vind vanaf 15 tot 17 Junie plaas en besoekers van regoor die land besoek dié rustige dorpie, bekend as Suid-Afrika se porthoofstad, wanneer dit uithaal en wys vir die hoogtepunt van die land se sosiale kalender.

Die fees word aangebied deur alombekende portprodusente, Axe Hill, Boplaas, Calitzdorp Kelder, De Krans, Du’SwaRoo, Peter Bayly, TTT en Withoek, in trotse vennootskap met Absa as naamborg en feesgangers kan ’n wye verskeidenheid aktiwiteite en vermaaklikheid te wagte wees gedurende die hele naweek.

Hierdie nuwe geleenthede moet beslis nie misgeloop word nie:

- Wees een van die eerste mense in die land om vatmonsters van die unieke Calitzdorp versnit van Portugese kultivars by deelnemende kelders in Calitzdorp te proe.

- Kom woon gerus ’n besonderse kookdemonstrasie met Tinta Barocca, Touriga Nacional en ander portwyne uit die area by.

- Bekende sopraan Zanne Stapelberg en kitaarspeler James Grace tree vir die eerste keer na vyf jaar weer saam op met ’n vertoning van die uitstekende Canciones en Española’s (Liedjies in Spaans) by die historiese NG Kerk. Die Spaanse nommertjies sal gekombineer word met populêre en eksotiese klassieke musiek om ’n ryk klanktappiserie te vorm.

- Kom luister gerus na alombekende musikante Valiant Swart en Rudi die Wynmaker wanneer hulle by ’n plaaslike skool optree en alle fondse gegenereer aan die skoolprojektefonds gegee word.

- Kom leer bietjie hoe om die meng van portdrankies te bemeester terwyl jy ook sommer ’n sopie of twee proe.

Feesgunstelinge sluit die volgende in:

- ’n Port- en wynproe by die stasieskuur: Port en wyn van Calitzdorpkelders, deelnemende Kaapse Port Produsente (CAPPA) en lede van die Klein Karoo Wynroete (KKWR) word aangebied of jy kan natuurlik self die verskeie kelders in en om die dorp besoek.

- Kom ontrafel gerus ’n paar portgeheime saam met Carel en Boets Nel, Fanie Geyser en ’n bekende gasgeoloog by Boplaas Kelder wanneer hulle die terroir van die streek blootlê.

- Belgiese Chocolatier Marita Lamprecht en Kaapse Wynmeester Junel Vermeulen bied weer die uiters gewilde “Sjokolade- en Portdekadensie” aan. Kom verlustig jou aan die wonderlike kombinasies van plaaslike port en portwyn kultivars en die mees dekadente, handgemaakte Belgiese sjokolade.

- ’n Jeug- en plaaslike kunstenaarsuitstalling word in die NG Kerksaal aangebied.

- Kom stap saam op ons kunstenaarskronkel en ontmoet die talle gevestigde kunstenaars in Calitzdorp.

- ’n Biodiversiteitsuitstalling, boulle- en jukskeikompetisies, ’n historiese museumwandel en heerlike kindervermaak word by verskeie plekke in en om die dorp aangebied.

- Kom geniet gerus ’n trekkerrit tussen kelders.

- ’n Verskeidenheid kos- en leefstylstalletjies sal by die Calitzdorpstasie, koffiewinkels en restaurante in die dorp aan ieder en elk se smaak voldoen met heerlike spyskaarte.

- Kom rond gerus ’n wonderlike fees met ’n rustige langbeenkuier by die Mediterreense Langtafelnoenontbyt op Sondag 16 Junie by die Calitzdorp Kelder af en verlustig jouself in die asemrowende uitsig oor die Gamka-Wesvallei se druiwe en olywe.

Kaartjies kan vooraf deur Computicket bespreek word of by die Calitzdorp Computicket-loketkantoor, gerieflik by die Calitzdorpstasie-feesterrein geleë, gekoop word. Hou gerus die Computicket-webwerf vanaf middel April dop vir spesiale toegangskaartjie-pryse.

Besoek gerus die portfees-webwerf by www.portwinefestival.co.za vir verdere besonderhede oor hierdie prettige familiefees.

No comments :

Post a Comment