Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

11/22/2013

Mev. HS Ball se blatjang

’n Bekende tydskrif in Suid Afrika het die ontstaan van die wêreldberoemde en uitgevoerde Mev. HS Ball se blatjang nagevors. Hulle spoor toe nie net nasate van Mev. Ball op nie maar kry toe ook ‘n afskrif van die oorspronklike resep asook toestemming om dit te publiseer. Die resep is gekook en getoets en die proepaneel het besluit dit is selfs lekkerder as die blatjang wat tans kommersieel beskikbaar is. Carolie de Koster het die resep verklein en effens aangepas om dit meer geskik te maak vir ‘n gewone huishouding.

Voorbereidingstyd: 30 minute plus week van vrugte vooraf
Gaarmaaktyd: 1 uur
Lewer: 3 – 4 botteltjies (afhangend van die grootte)

350 g gedroogde perskes
150 g gedroogde appelkose
500 ml wit asyn
125 ml bruin balsamiese asyn
600 g suiker
500 ml grofgekapte ui (2 medium uie)
30 ml sout
10 ml rooipeper

Plaas die vrugte in ‘n glasbak, bedek met die wit asyn, maak die bak toe en week 3 – 4 uur of oornag.

Dreineer die vrugte maar behou die asyn. Kap die vrugte op ‘n kapplank tot matig fyn.

Plaas die vrugte, gedreineerde en balsamiese asyn, suiker, ui, sout en rooipeper in ‘n vlekvrye staal of geëmaljeerde kastrol en bring tot kookpunt. Verminder die hitte, bedek gedeeltelik en laat baie stadig prut terwyl af en toe geroer word, totdat die vrugte sag en die mengsel die regte konsistensie het.

Giet die warm mengsel in gesteriliseerde verseëlbare botteltjies, laat afkoel en bewaar in die yskas of, om dit vir ‘n langer tyd op die rak te bewaar, bedek die bokant met gesmelte wit kerswas.

Variasies
Om “warm” blatjang te maak, voeg 1–2 gekapte ontpitte groen of rooi brandrissies saam met die rooipeper daarby.
Om perskeblatjang te maak, vervang die appelkose met nog perske.

Die resep vir Bobotie fillopasteitjies, wat binnekort verskyn, sal 'n foto van een van hierdie tuisgemaakte botteltjies blatjang hê.

Carolie de Koster is die skrywer van Art of Cooking.

Dié boek is tans beskikbaar teen 'n spesiale prys van slegs R650, 'n besparing van R150. Ons verneem dat die gewilde boek, wat tans R800 kos, 'n prysstyging gaan sien in 2014.
Jy kan die boek direk by Carolie bestel: caroliedekoster@gmail.com Die afleweringskoste is slegs R50.

Art of Cooking is ook nou in CD-formaat (slegs Windows). Die koste van die CD beloop R300 (afleweringskoste ingesluit.

Lees meer oor Art of Cooking

No comments :

Post a Comment