Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

1/06/2014

Makietie

“Makietie” – Sotho woord vir partytjie

Kom kuier in die nuwejaar saam met die 2013-Kokkedoor-wenners, Mynhardt Joubert en Tiaan Langenegger, op hul nuwe program, Makietie! Makietie is ’n opwindende nuwe program waar Mynhardt en Tiaan die kykers deel maak van hul wêreld en wys hoe om spoggeleenthede te hou waaroor mense nog jare lank sal praat.

Ons gaan kuier-kuier om die kospotte en hand-in-die-verfkan, temas bespreek soos boekklub, vintage rugby, kinder-karnaval en ’n ooievaarstee om maar ’n paar te noem.

Die twee baljaar lekker saam in die kombuis – net soos ons hulle op Kokkedoor sien doen het. Maar dit stop nie in die kombuis nie, want ’n groot deel van Makietie se genot gebeur in die werkswinkel waar Mynhardt inspring en met onder meer gomstokkies, hammers en ’n saag wys hoe om reg te ruk en mooi te maak!

Mynhardt toor ook met ou rugbytruie, rame, blompotte; hy leer die kyker slim koop en kreatief dink. Hy maak selfs ’n skilderdoek van nuuts af en ons sien hoe om die einste doek weer en weer te gebruik. Elke geleentheid is uniek! Daar skiet vir seker niks met die man se hande te kort nie.

En soos die tafels met passie en sorg gedek word, so ook word die kos met kinkels en kennis gemaak. Tiaan wys ons hoe om oerwoudmisterie te skep met droë-ys, hy maak allerhande jellies met Agar Agar (wie nie weet wat dit is nie – kom kyk saam!) en bedien aspersies met skuim!

Vergeet van net ’n paar houtlepels en eierspane in die kombuis hê – nou sluit jou toerusting ’n inspuiting en vistenkpypies in – sowel as ’n blaaslamp (blowtorch).

Maak reg vir ’n groot klomp opwinding in die nuwe jaar en trek daai voorskoot nader!
So, vanaf 12 Januarie is jy uitgenooi om saam met ons te kom Makietie hou, op kykNET, kanaal 144, elke Sondagaand om 18:30.


Episode 1 – Familiemaal
12 Januarie 2014
In die eerste episode van Makietie maak Tiaan en Mynhardt ’n familiemaal wat almal aan die gons sal hê! Gaan krap daai ou blompotte, doilies en fotorame uit die kas, want Mynhardt wys jou hoe om dit nuwe lewe te gee. Tiaan terg ons sintuie met blomkool- en mentskuim en laat ’n mens se mond water met ’n skaapboud wat oornag in olie bak. Dis geen normale familiemaal dié nie!

Episode 2 – Vintage Rugby
19 Januarie 2014
Hierdie week op Makietie: Mynhardt tackle Springbokkies en wys hoe om ou rugbytruie, -sokkies en -balle op ’n nuwe, oorspronklike manier te gebruik vir dekor. Boonop wys hy ons hoe om ’n skilderdoek van voor af te maak. Tiaan skop die bal deur die pale met drop-roomys, maak mayonnaise met melk en bedien slaai op ’n koringgrasveld. Vintage rugby op sy beste!

Episode 3 – Boek Klub 26 Januarie 2014
Hierdie week op Makietie: Digters, skrywers, kokke en smulpape – staan nader! Ons hou boekklub! Die week laat Mynhardt lig val op ’n duistere probleem wat baie van ons laat kopkrap: daai hoop boeke wat stof staan en opgaar in die hoek … hy gebruik die boeke om oesters uit te bedien! Ons leer Tiaan lees niks behalwe resepte nie, maar hy laat ons sprakeloos met ‘boskos’. Kom verloor jouself in die sprokie!

Episode 4 – Braai 2 Febuarie 2014
Hierdie week op Makietie: Ons braai in die wingerd en vlegsels (van alle dinge!) is ons inspirasie. Mynhardt deel sy gunsteling-braaisousresep en Tiaan maak ’n koeksister-parfait. Wat op aarde is dit? Kom kyk saam en vind uit! Ons vleg met vark, hessian, brood en wingerdlote en die manne deel ’n paar braai-geheime.

No comments :

Post a Comment