Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

5/15/2014

Innibos kos-crawl

By Innibos se splinternuwe kos-crawl gaan daar rondom kos, kokkedore en kunstenaars gekuier word.

Die Mbombela-stadion - waar die kameelperde die stad uit die hoogte bespied - is die plek waar daar na uithaler demonstrasies gekyk, smullekker geregte geproe en na wonderlike klanke geluister gaan word.

Daar word by verskillende plekke in en om die stadion aangedoen en so kry feesgangers die kans om Nelspruit se spogstadion van nader te verken.

Kevin Leo is die eerste wat sy kookvernuf ten toon stel. Hy het nie net bekendheid verwerf met sy ongelooflike sang nie, maar is ook ’n bekende in ’n verskeidenheid film- en televisierolle. Nou het Kevin besluit om sy gewig agter een van sy ander passies te gooi – kos! Hy is ’n bobaas sjef met ’n voorliefde vir onthaal, en bied die singende sjef aan waar hy sing terwyl hy heerlike kos berei. Vermaak uit die boonste rakke.

Dan gaan die vorige wen-kokkedore Tiaan Langenegger en Mynhardt Joubert van KykNET se werklikheidsreeks en Makietie-aanbieders wys waarom hulle as top-sjefs beskou word. Hulle gaan die nederigste tamaties omtower in heerlike geregte: van tamatiesous tot tamatiekonfyt, van tamatiedrankies tot gerookte tamaties. Hulle gaan ook wys hoe bottels opgetower word om as geskenke gebruik te word.

By die volgende aandoenplek gaan feesgangers Sarel van Sabie en Sarah Theron wys dat kos en musiek vir ’n heerlike saamkuier-geleentheid kan sorg. Sarel gaan demonstreer hoe skaapboud met verskillende soetrissies gevul kan word terwyl Sarah Theron haar treffers soos "Skil die tamaties", "My Ouma Sêra" en "Briefie aan Madiba" gaan sing.

Dan beweeg die feesgangers na die stadion se ouditorium waar die produksie Voorskoot en lipstiek hierdie genotvolle kosreis voortsit. Kokkedoor–deelnemer Marinda Engelbrecht en Herman Lensing, SARIE se kosredakteur, is koskenners en liefhebbers in hulle eie reg. Dit is net twee van die bestanddele wat hierdie teater-produksie uniek maak. Voeg nog Marion Holm se teks en regie saam in die pot en jy het ’n vuurwarm produksie wat kook. Hierdie is ’n volwaardige produksie met ’n weldeurdagte storielyn - beslis nie net ’n kosdemonstrasie nie. Al die sintuie word geprikkel: jy sien, ruik, hoor en ervaar hoe die liefde vir kos mense saambring – ’n sakkie-SPEKKO rys aan die einde van die produksie sal sorg dat jy ook die vreugde van kos huis toe kan neem. ’n Skerm gaan verseker dat die gehoor tot binne die pot sal kan sien sodat die ervaring van teater en kos een kan word.

Die kykNET koscrawl word afgesluit met ’n reuse verrassing. Kom ontmoet die Kokkedoor 2 se wenners! Dit is hulle heel eerste publieke verskyning aangesien die wenners eers op 3 Julie aangekondig word. Kom geniet een van hulle spesiale soet verleidings saam met ’n heerlike koppie gourmet koffie.

Let daarop dat hierdie nie ’n ete insluit nie en dat feesgangers net ’n peuselhappie kry van al die demonstrasies.

Moenie hierdie unieke geleentheid misloop nie.

Met: Kevin Leo, Kokkedore Tiaan en Mynhardt, Sarel van Sabie, Marinda Engelbrecht en Herman Lensing
Datum en tyd: Vr 4 Julie om 10:00, 14:00 en 18:00
Plek: Mbombela Stadion, Nelspruit
Tydsduur: 240 minute (4 ure)
Ouderdomsbeperking: Volwassenes
Kaartjieprys: R 202

innibos 2014

No comments :

Post a Comment