Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

2/09/2015

Tuna-, eier- en groenboontjieslaai in fillo-mandjies

Vlak oop fillo-mandjies is veelsydig en geskik vir ’n verskeidenheid vulsels. Dit is ’n netjies manier om ’n slaai te bedien en voeg ’n ekstra kners in die ervaring.

Voorbereidingstyd: 20 minute
Baktyd: sowat 5 minute
Bedien: 6 persone

Vir hierdie fillo-mandjies het jy oondvaste pasteibakkies van 6 cm by 10 cm nodig. Jy kan ook foelie-bakkies gebruik.

Fillo-mandjies:
6 velle fillodeeg
125 mℓ gesmelte botter of olie of ½ van elk
1 mℓ knoffel en kruie speserye

Voorverhit die oond tot 180°C.

Vou die 6 velle deeg in die lengte in die helfte.
Ontvou en sny dan op die lyn wat gevorm is.
Stapel die nuwe kleiner velle op mekaar, vou dwars in die helfte.
Ontvou en sny deur op die lyne.
Jy het nou 24 velletjies deeg.

Geur die botter met die speserye en verf die pasteibakkies daarmee uit.
Pak nou 6 velletjies in die bakkies en verf met die botter. Volg dit op met ’n volgende laag, wat jy ook verf. Jy eindig dus met 4 lae deeg per mandjie. Die hoeke van elke velletjie moet oor die sye van die onderste vel steek, om ’n stervorm te verkry.
Bak vir sowat 5 minute – tot strooikleurig. Hou jou oog daarop, want dit kan gou verbruin. As dit te lank bak is die delikate smaak daarmee heen.

Laat die mandjies afkoel op ’n draadrak.

Slaai:
Geskeurde kropslaai
½ komkommer, in mooi vorms gesny
2 fyngekapte tamaties, geskil en die pitte en pap vleis verwyder
6 hardgekookte eiers, geskil en in die lengte in skywe gesny
200 g geblikte tuna of gebraaide tuna wat in klein stukkies gesny is
100 g jong groenboontjies, geblansjeer en die punte verwyder
30 mℓ fyngekapte stingeluie
15 mℓ gedreineerde ingelegde kappertjiesaad
16 ontpitte swart olywe
Slaaisous

Rangskik die slaai bestanddele netjies in die mandjies en sprinkel slaaisous oor.

Resep: Carolie de Koster

Carolie de Koster is die skrywer van Art of Cooking.

Jy kan die boek direk by Carolie bestel: caroliedekoster@gmail.com Die afleweringskoste is slegs R50.

Art of Cooking is ook nou in CD-formaat (slegs Windows). Die koste van die CD beloop R300 (afleweringskoste ingesluit.

Lees meer oor Art of Cooking

No comments :

Post a Comment