Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/11/2017

Hoe om ’n heel vis oop te braai – deur Jan Braai

Wanneer jy ’n vars vis reg braai, sal dit vir seker ’n wonderlike maaltyd wees, ’n anker in ’n wêreld vol onsekerheid.

Ek kan eenvoudig nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is dat die vis vars moet wees nie. Soos ek vroeër genoem het, kan jy ’n heel vis ‘oop’ of ‘toe’ braai, dit hang van jou smaak af. As jy hom oop braai, is ’n groter deel van die vis aan die hitte en braaigeure blootgestel en word hy ook vinniger gaar.

Die belangrikste stuk toerusting vir die resep is ’n toeklaprooster – moenie jou simpel hou en die vis daarsonder probeer draai nie.

Vis soos geelbek, kabeljou en geelstert is gewilde braaivis, maar daar is ook baie ander soorte wat jy kan toets. Vra raad by jou vishandelaar en maak seker die vis is nie op die lys van bedreigde spesies nie. Laat die vishandelaar jou vis se binnegoed uithaal, sy kop verwyder en sy skubbe afkrap. As jy self die vis gevang het, weet jy seker hoe om die dinge te doen.

1 heel, vars vis (iets soos geelbek, kabeljou of geelstert) (1,5 kg vis is genoeg vir 4 mense; 2 kg vir 6 mense)
koppie botter (gesmelt)
4 huisies knoffel (opgekap)
2 suurlemoene se sap
1 sopie gekapte pietersielie
olyf- of sonneblomolie
sout en peper

Smelt die botter en meng die knoffel, suurlemoensap en pietersielie by. Jy gaan dié sous gebruik om die vis mee te bedruip terwyl hy braai.
’n ‘Oop’ vis het twee kante, ’n vleiskant en ’n velkant. Smeer of verf die olie aan albei kante en maal dan die sout en peper oor die vleiskant.
Sit die vis in ’n toeklaprooster en braai op matige tot warm kole met die vleiskant na onder vir omtrent 3 tot 4 minute, totdat die vleis ’n ligte goue kleur kry. Draai nou die rooster om en braai die vis met die vel kole se kant toe totdat hy gaar is. Altesame sal die braaityd tussen 14 en 20 minute wees en afhang van die grootte van die vis, die hoogte van die rooster en die hitte van die vuur. Verf die vis deurlopend met die sous. Al moet jy dit tot ’n minimum probeer beperk, moet jy jou nie te veel daaroor bekommer as die velkant plek-plek effens brand nie – jy gaan nie die vel eet nie. Ek sien visvel as ’n natuurlike tipe foelie.
Die vis is gereed wanneer die vleis wit geword het, van die grate af wegtrek wanneer jy daaraan wikkel, en vlok wanneer jy ’n vurk insteek. Onthou die goue reël: As jy dink hy’s reg, is hy waarskynlik reg.

’n Vis wat effens kleiner is, kom ons sê so 1,3 kg, met sy kop en stert verwyder, pas lekker saam met vier halwe krewe op ’n gewone toeklaprooster. Jy kan dit saam braai vir 14 minute en só ’n top-klas ete vir vier mense berei.


(uit Jan Braai se Vuurwerke)

No comments :

Post a Comment