Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

8/08/2017

Suurlemoen-en-grenadellablommetjies

Hierdie resep lewer 12 groot tertjies.

Deeg
1 x resep Warmwaterkorsdeeg (sien bl. 138 van Theresa de Vries se Deeg)
eierwit vir bo-oorverf

Vulsel 250 ml water
200 g suiker
120 ml mielieblom
6 groot eiergele, geklits
125 ml vars suurlemoensap
1 blikkie (115 g) grenadellapulp
5 ml gerasperde suurlemoenskil
100 ml suurroom
30 ml botter, in blokkies gesny

Meringue
4 eierwitte
2,5 ml kremetart
80 ml witsuiker
45 ml versiersuiker

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer of spuit 12 holtes van ’n groot muffinpan.

Deeg
Rol louwarm deeg uit tot 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk 12 groot blompatrone met ’n koekiedrukker uit die deeg. Voer holtes van die muffinpan met deegpatrone uit. Sny die kante netjies en prik die deeg met ’n vurk. Bak blind vir 15 minute (sien metode, bl. 13).
Haal uit oond, verwyder waspapier en verf eierwit oor die boom van die deeg. Plaas vir nog 5 minute in die oond.

Vulsel
Plaas die water, suiker en mielieblom in ’n kastrol.
Voeg die eiergele en suurlemoensap by en verhit oor lae hitte. Roer en bring tot kookpunt. Laat kook tot verdik.
Voeg die grenadellapulp en suurlemoenskil by die suikermengsel.
Roer die botter en suurroom by. Verwyder van hitte. Plaas ’n vel kleefplastiek direk bo-op die vulsel. Laat afkoel.

Meringue
Klits die eierwitte en kremetart tot skuimerig en wit.
Klits die suiker en versiersuiker stadig by en klits aanhoudend tot dik.
Verwyder kleefplastiek en verdeel die vulsel tussen die voorbereide korse.
Skep meringue in die spuitsak en spuit klein rosies op die vulsel. Sprinkel die klapper oor.
Bak tertjies vir 20 minute of tot die meringue verkleur.

Wenk
Klein blommetjies: Die tertjies kan ook in 2 klein muffinpanne gemaak word om 24 klein tertjies te lewer. Druk 24 kleiner blompatrone met ’n koekiedrukker uit die uitgerolde deeg, voer die 24 muffinholtes daarmee uit en bak en berei soos beskryf.


Uit Theresa de Vries se Deeg.

No comments :

Post a Comment