Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

3/19/2018

Italiaanse soufflé

Vir hierdie resep het jy ’n no. 2 soufflé-bak (15 cm) nodig.

30 g botter
4 teelepels meelblom
Sout en peper
140 mℓ melk
6 eetlepels gerasperde kaas
3 eiergele, geklop
4 eierwitte, styfgeklop
1 eetlepel bruingebakte broodkrummels

Vulsel
30 g spaghetti
Sout en peper
2 teelepels tamatiepuree
15 g botter

Maak die vulsel deur die spaghetti te kook volgens instruksies op die verpakking. Dreineer en spoel af met ’n koppie warm water. Plaas dit terug in die kastrol.
Voeg die botter by, verhit en skud af en toe.
Voeg sout en peper by en die tamatiepuree. Roer met ’n vurk tot die spaghetti bedek is met die tamatie.
Hou eenkant.

Stel die oond op 180°C.

Maak ’n roux deur die botter te smelt, die kastrol van die hitte te verwyder en die meel by te roer.
Geur met sout en peper en roer die melk deeglik deur.
Plaas die kastrol terug op die hitte en roer tot die mengsel kook.
Verwyder weer van die hitte en roer die kaas by.
Vou 2 eetlepels eierwit met ’n metaallepel in die sous.
Vou eers een helfte van die orige eierwit en dan die ander helfte in die sous en draai die kastrol in die rondte terwyl jy die witte invou, om nie onnodig baie daarin te roer nie.
Skep genoeg van die mengsel in die soufflé-bak om die bodem te bedek.
Skep die helfte van die spaghetti bo-op, bedek met helfte van die orige soufflé-mengsel, skep nog ’n laag spaghetti en bedek met die res van die mengsel.
Strooi die bruingebakte krummels oor en bak 25 tot 30 minute tot egalig bruin en ferm.
Bedien dadelik.

Opsie: Jy kan ook gaar vis of gekapte gaar ham gebruik in plaas van spaghetti.

No comments :

Post a Comment