Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

6/26/2020

Diplomaatpoeding / Diplomate au Bavarois / Diplomat pudding

Daar is verskeie resepte wat daarop aanspraak maak op die naam diplomaatpoeding. Meeste ongelukkig moderne brousels.

Daar is weliswaar twee resepte uit die verlede wat kan aanspraak maak dat dit die diplomaat se poeding is. Beide verg die kok se onverdeelde aandag.

Die resep wat volg was die gewildste van die twee diplomaatpoedings.

Dit begin met die voorbereiding van ’n stroop deur 6 eetlepels water en 8 eetlepels strooisuiker saam tot kookpunt te bring.
Voeg ⅓ koppie sultanas by en kook vir enkele minute. Laat ’n paar minute lank staan voor jy dit dreineer om die sultanas te verwyder. Behou die sous.
Kap ’n ¼ koppie versuikerde vrugte fyn en week dit dan in 3 eetlepels rum.

Week 1 eetlepel gemaalde gelatien in 3 eetlepels koue water.

Kook 2 koppies melk saam met ’n ½ vanielje peul.

Klop 4 eiergele saam met ⅔ koppie strooisuiker tot die mengsel lig en romerig is.
Voeg die gekookte melk bietjie vir bietjie by terwyl jy dit meng met ’n houtlepel.
Kook die mengsel nou in ’n souspan oor lae hitte terwyl jy aanhoudend roer. Hou aan tot die room begin verdik. Roer dan die gelatien by.
Gooi die mengsel nou deur ’n sif en laat dit afkoel.

Klop ¾ koppie room saam met 1 eetlepel melk tot dik en vou dit dan by afgekoelde mengsel.

Dreineer die rum en roer dit by die stroop.
Week 200 g vingerbeskuitjies in die stroop.

Plaas van die versuikerde vrugte wat in die rum was onder in ’n gesmeerde vorm. Bedek dit met ’n laag van die room.
Volg dit op met ’n laag vingerbeskuitjies en strooi van die sultanas en versuikerde vrugte oor.
Smeer ’n bietjie appelkooskonfyt oor.
Herhaal die lae.
Plaas in die yskas vir ten minste 2 uur.

Verhit ’n bietjie appelkooskonfyt tot dit vloeibaar is en voeg daarbý 2½ eetlepels rum.
Druk die poeding uit die vorm en bedruip met die appelkooskonfyt-sous. Die poeding kan ook keurig versier word.

Dit is ’n diplomaatpoeding.

No comments :

Post a Comment