Homard à l’américaine is ’n lewendige kreef wat in porsies gekap word, in olie gebraai word totdat die skulpe rooi word, dan in konjak gevlam en in wyn, aromatiese groente, kruie en tamaties geprut word. In Frankryk, tensy jy by 'n formele aandete is, word die vleis in die skulpe bedien.
Die oorsprong van homard à l’américaine is 'n onderwerp vir bespreking. Sommige kenners noem dit à l’armoricaine, na die antieke provinsie Armorique in Bretagne waar krewe voorkom. Ander sê armoricaine is onsin omdat die tamatiegeursel ongewoon is vir Bretagne en dat die resep meer waarskynlik die produk is van 'n Paryse sjef met Provençaalse invloede wat sy gereg na 'n Amerikaanse kliënt vernoem het, of na die eksotiese oorsprong van die tamatie. Jy kan ook bevrore kreefsterte gebruik vir die resep.
Die resep is genoeg vir 6 persone.
BESTANDDELE
3 lewendige krewe van sowat 750 g elk, of 6 bevrore kreefsterte gedeeltelik ontdooi en in die lengte middeldeur gesny
3 eetlepels olyfolie
1 medium wortel, fyn gekap
1 medium ui, fyngekap
Sout en peper
3 eetlepels gekapte salotte
1 knoffelhuisie fyngedruk
⅓ koppie konjak
500 g vars, ryp tamaties, geskil, ontpit, sap en gekap
2 eetlepels tamatiepasta
1 koppie visaftreksel
1½ koppie droë witwyn of 1 koppie droë wit vermoet
2 eetlepels gekapte pietersielie
1 eetlepel vars dragon of 1 teelepel gedroogde dragon
6 eetlepels sagte botter
STAPPE
Sny die krewe in die lengte in twee. Verwyder die maagsakke (in die kop) en dermbuise. Verwyder die kloue en gewrigte en breek dit. Skei die sterte van die borste.
Verhit die olyfolie in ’n swaar geëmaljeerde pan of kastrol totdat dit baie warm is, maar nie rook nie. Plaas die kreef in die olie met die vleiskant na onder, en soteer vir 'n paar minute, draai dit om, totdat die skulpe helderrooi is.
Verwyder die kreef.
Roer die gekapte wortel en ui by en kook stadig vir 5 minute of tot amper sag.
Verhit die oond tot 175 grade Celsius.
Geur die kreef, plaas dit terug in die pan en voeg die salotte en die knoffel by.
Met die pan oor matige hitte, gooi die konjak by. Steek die konjak aan met 'n brandende vuurhoutjie en skud die pan stadig totdat die vlamme bedaar het.
Roer al die tamaties, tamatiepasta, visaftreksel, pietersielie en dragon by. Bring tot kookpunt bo-op die stoof.
Bedek en plaas in die middelste vlak van die voorverhitte oond. Die hitte moet so wees dat die kreef vir 20 minute saggies prut.
Wanneer die kreef gaar is, verwyder dit en hou eenkant.
Plaas die op ’n plaat oor hoë hitte en kook vinnig totdat die sous verminder en effens verdik het. Proe vir geurmiddels.
Hou ’n koppie van die sous eenkant.
Plaas die kreef terug in die res van die sous en bring tot kookpunt om die kreef weer warm te maak.
Klits die koppie warm sous drupsgewys by die botter in ’n mengbak en gooi dan die mengsel by die kreef. Skud en roer die pan oor lae hitte vir 2 tot 3 minute om warm te maak, maar moenie die sous weer naby die prut bring nie.
Bedien met risotto geprut in visaftreksel, of gestoomde rys en garneer met vars pietersielie of dragon. 'n Droë witwyn uit Boergondië, Côtes du Rhône of Graves is goeie pasmaats.
Die Volledige Afrikaanse Gids tot Kookkuns met resepte en definisies. Suid-Afrikaanse resepte in Afrikaans, klassieke resepte in Afrikaans, alle resepte in Afrikaans.
Soek vir 'n resep
Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.
Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes
Subscribe to:
Post Comments
(
Atom
)

No comments :
Post a Comment