Soek vir 'n resep

Gebruik die soekenjin (bo) of die alfabetiese gidse (onder) om te soek vir resepte of ander inligting.



Kookterme / Woordelys | Wenke en Advies | Resepteboeke | Oondtemperature | Mate en gewigte | Gram per 250 ml / 1 koppie | Pangroottes | Basiese kombuisgereedskap | Wynwoordeboek | Die spens | Beesvleissnitte en gaarmaakmetodes

7/29/2026

Dahl Tadka

Hierdie resep balanseer romerige, sagte lensies met 'n ryk ui en tamatie masala basis, afgerond deur 'n tadka wat die gereg verhef van eenvoudig tot restaurantgehalte. Die resep is glutenvry, vegetaries en kan in 45 minute gereed wees.

BESTANDDELE

Vir die dahl
1 koppie gesplete geel of rooi lensies, afgespoel totdat die water helder is
3½ koppies groenteaftreksel
½ teelepel gemaalde borrie
1 teelepel sout

Vir die Masala-basis
1 eetlepel botter - gebruik ghee indien dit beskikbaar is
1 medium geel ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, gerasper
3 cm vars gemmer, gerasper
1 rissie, fyngekap
1 medium ryp tamatie, fyngekap - of ingelegde, gekapte tamaties
1 teelepel gemaalde komyn
1 teelepel gemaalde koljander
1 teelepel garam masala
¼ koppie vars koljander, gekap

Vir die tadka
1½ eetlepel botter
1 teelepel komynsaad
½ teelepel swart mosterdsade
2 gedroogde rissies
10 vars kerrieblare (of 4 gedroogde kerrieblare)
1 ruim knippie asafoetida – gebruik knoffelpoeier as alternatief

STAPPE
Meng die lensies, aftreksel, borrie en sout in 'n pot. Bring tot kookpunt oor medium-hoë hitte.
Verlaag die hitte tot laag, bedek gedeeltelik met 'n deksel en prut vir 20 minute (of tot 30 minute vir ouer lensies).
Roer af en toe. Voeg nog 'n bietjie water by as dit te dik word. Die lensies is gaar wanneer hulle heeltemal sag is.
Wenk: Gebruik 'n lepel of staafmenger om ongeveer ¼ van die lensies liggies teen die kant van die pot te fynmaak. Dit skep 'n pragtig romerige, samehangende tekstuur.

Terwyl die lensies prut, verhit 1 eetlepel botter in 'n aparte, groot pan oor medium hitte. Voeg die gekapte ui en 'n knippie sout by. Braai vir 5 minute tot sag en goudbruin aan die kante.
Voeg die knoffel, gemmer en rissie by. Braai vir 2 minute tot geurig.
Roer die gekapte tamatie, komyn, koljander en 'n knippie sout by. Kook vir 5 minute en roer af en toe totdat die tamatie heeltemal opbreek en die mengsel verdik tot 'n pasta. Jy sal weet dis gereed wanneer jy 'n klein bietjie olie aan die kante sien skei.

Gooi die gaar lensies (en die kookvloeistof) in die pan by die masala-mengsel. Roer goed om te kombineer.
Voeg die garam masala en die helfte van die gekapte koljander by. Prut sonder 'n deksel 10 minute om die geure te laat saamsmelt. As die dal te dik is, voeg warm water by, ¼ koppie op 'n slag, totdat dit na jou smaak is. Proe vir sout.

Net voor opdiening, plaas 'n klein pan of kastrol oor medium hitte met 1½ eetlepel botter.
Sodra die botter gesmelt het, voeg die mosterdsaad by. Wag 'n paar sekondes totdat hulle begin bars en sis. Voeg onmiddellik die komynsaad, rissies en kerrieblare by. Roer die pan aanhoudend vir 30 sekondes.
Nou voeg jy die knippie asafoetida by en verwyder die pan onmiddellik van die hitte sodat die speserye nie brand nie.
Gooi die sisende tadka versigtig direk oor die oppervlak van die dahl. Dit sal sis en 'n ongelooflike aroma vrystel. Roer dit versigtig by.

Moenie die Tadka oorslaan nie. Dit is die siel van hierdie gereg. Dit laat die speserye blom en voeg 'n laag geur by wat nie bereik kan word deur net gemaalde speserye in die pot te roer nie.

IDEE
Gebruik die Dhungar metode om die rokerige geur van Indiese padrestaurante (dhabas) na te boots.
Plaas 'n klein, hittebestande staalbak bo-op die gaar dal. Gebruik 'n tang om 'n klein stukkie houtskool oor 'n oop vlam te verhit totdat dit rooiwarm is. Plaas die warm kole in die staalbak, drup ½ teelepel botter daaroor en bedek die hele pot onmiddellik met 'n digte deksel. Laat dit vir 10 minute rook.
Verwyder die bak en kole voor opdiening.

Sit die dahl warm voor saam met gestoomde basmati-rys en/of warm brode soos roti, chapati of naan.
Vir diegene wat gaan sukkel met die brand bedien jy ook gewone jogurt, dun gesnyde rooi uie en skyfies suurlemoen daarmee saam.

Die resep is genoeg vir 4 persone.

No comments :

Post a Comment